Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Mooi vir ’n paar weke

Droogte is moontlik verantwoordelik vir die grootste skoenlapper-migrasie in dekades,skryf Alet Wichmann.

Derduisende witgat­witjies het dié week deur die land gevlieg.Foto: Peter Lillie

In die 30 jaar wat hy al skoenlappers bestudeer, is dit die grootste wit skoenlapper-swerms wat hy al oor Gauteng gesien het.

André Coetzer, ’n skoenlapperliefhebber en lid van die Skoenlappervereniging van Afrika, sê hy het nog nooit so baie witgatwitjies (Belenois aurota) gesien wat al fladderend die lug wit verkleur onderweg na die ooskus nie.

Hier by ons begin die tog in die Kalahari, van waar die skoenlappers noordoos vlieg. Die groeperings kry vaart soos hulle vorder en nóg witgatwitjies wat in Noordwes en Gauteng uitbroei, by hulle aansluit. Dieselfde gebeur egter in baie dele van Afrika, en ’n vriend van André vertel Nairobi in Kenia was die afgelope week ook vol swerms witgatwitjies.

“Ons kan dit nie eintlik ’n migrasie noem nie, want hulle keer nie terug Kalahari toe nie. Ons praat eerder van ’n dispersie,” verduidelik André.

Kamikazes in die see

Die skoenlappers vlieg so tussen 10 km/h en 20 km/h en neem sowat twee weke om vanaf die Kalahari tot by die see in Mosambiek te vlieg. “Sover ons weet, vlieg hulle dan in die see in, maar hulle kom nie ver nie,” sê André.

“Daar is mense wat sê hulle vlieg na Madagaskar, maar ’n kenner daar sê vir ons daar’s net ’n klein bevolking van hierdie wit skoenlappers daar. Ons is nie eens seker of dit van ons eie skoenlappers is wat dit tot daar gemaak het nie. Net genetiese navorsing sal dit kan bepaal.”

Hulle is net mooi en goed

Die skoenlappers lê hul eiers op witgatbome en ander plante uit dié familie wat glad nie in tuine aard nie. Die ruspes hou dus geen gevaar in vir jou tuinplante nie.

Gerugte op sosiale media dat dit die mot van die bolwurm is, is nie waar nie, sê André.

Die lewensiklus van die skoenlapper neem sowat agt weke. Vandat die eier uitbroei totdat dit ’n volwasse skoenlapper is, neem sowat vyf weke en ná so agt weke is die skoenlapper dood.

“Die funksie van ’n volwasse skoenlapper is eintlik net om ’n maat te soek en eiers te lê. Elke wyfie lê tussen 200 en 500 eiers. Naaldekokers, roofvlieë en spinnekoppe eet die skoenlappers, maar hul grootste bedreiging is parasiete wat op die larwes teer.

“Ons vermoed daar is minder parasiete as gevolg van die droogte en dis waarom daar vanjaar so baie skoenlappers is.”

Meer oor:  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.