Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Mooier hare wat minder geld kos

Taylor Swift se haarstyle is dikwels ’n goeie voorbeeld van die pluiserige tendens. Foto’s: Getty Images
2021 hoef gelukkig nie nóg ’n jaar van slegte kapsels te wees nie. Hier is raad om jou hare pragtig te hou – en steeds binne jou begroting te bly. Deur Yolandi North.

Vandat die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperkings ons nuwe “normaal” geword het, het vele mense moed verloor met hul kapsels. Kyk volgende keer rond wanneer jy in die supermark is na die boskase rondom jou. Dit wil lyk of sommige mense nie meer hare kleur, was óf borsel nie!

Wanneer jou hare goed lyk, sal jy ook stukke beter voel, nie waar nie? Die beginpunt is gesonde hare

Wanneer jou hare goed lyk, sal jy ook stukke beter voel, nie waar nie? Die beginpunt is gesonde hare. “Hoe gesonder jou hare is, hoe minder sal jy die haarkapper moet besoek of jou hare sny,” verduidelik David Gillson, meesterstilis en vennoot by Carlton Hair. Dus spaar jy geld ook.

Borsel jou hare

Wanneer jy nie gereeld jou hare borsel nie, sal die wortels olieriger word en aanpaksels kan op jou kopvel begin vorm wat tot verdere probleme kan lei. Borsel jou hare, en jy versprei die olies van jou wortels (wat dit nie so nodig het nie) na jou haarpunte (wat dankie sal sê daarvoor).

Hare wat, soos Emma Stone s’n hier, nie reguit gesny is nie, is makliker om te hanteer en groei ook mooi uit.
Gehalte-tuisbehandelings

Gebruik gereeld ’n kwaliteit tuisopknapper of haarmasker vir jou haartipe. Hierdie proses hoef nie nóg ’n moeisame item op jou lysie te wees nie – jy kan oornag met die behandeling slaap en jou hare net lossies vasmaak, sê Reneé Potgieter, kenner van haargesondheid en kleurchemikus met 25 jaar ervaring in die bedryf.

Suiwer, natuurlike olies word deesdae ook gewilder. Dink hier aan olies soos jojoba vir vog en amandel vir ’n proteïenbehandeling om jou hare te versterk. ’n Goeie aanduiding van die gehalte is dat hierdie olies solied word wanneer jy dit in die yskas plaas, verduidelik Reneé.

Masseer jou kopvel

’n Verkwikkende kopvelmassering doen nie net wondere vir jou hare nie, maar beur ook jou gemoed op as gevolg van die produksie van serotonien. Wanneer jy jou kopvel masseer, verhoog dit die bloedtoevoer en suurstof na jou kopvel.

Boonop sal ’n kopvelmassering help om van die dooie selle en produkte wat opbou op jou kopvel ontslae te raak wat moontlik irritasie kan veroorsaak.

Die balayage-kleurstyl is oneweredige kleurstrepe.
Kies ’n haarstyl met min onderhoud

Voor 2020 was bobs en haarsnitte van een lengte baie modieus, maar hierdie style het baie onderhoud nodig. “Deesdae is oneweredige haarstyle met lae en pluiserige (shaggy) style in die kol omdat dit mooi uitgroei en baie min onderhoud verg,” sê David.

Stileer minder, glimlag meer

Minder is beslis meer wanneer dit kom by stilering, sê Reneé. Haar raad is om saam met jou haarstruktuur te werk in plaas daarvan om téén jou natuurlike struktuur te werk. Die geheim is om jou hare te voed en so gesond moontlik te kry. Wanneer jy jou hare mee­doënloos probeer manipuleer – krullerige hare reguit te dwing of reguit hare te golf – stuur jy af op ’n ramp.

Reneé beveel stilering sonder direkte kunsmatige hitte sterk aan. Jou hare bestaan gedeeltelik uit waterstofbindings, so kunsmatige hitte manipuleer dus die vorm. Uiteindelik sal hierdie bindings hul ware natuurlike vorm “vergeet” en jou hare is dan in ’n krisis.

Probeer ook om altyd stileringsprodukte te kies wat geen parabene, alkohol of ander nare chemikalieë bevat nie.

Kies die korrekte kleur

Wanneer jy jou hare kleur, moet die verskil tussen jou natuurlike kleur en die gekose haarkleur verkieslik minimaal wees – nie meer as twee skakerings nie – anders is die wortels wat uitgroei vreeslik onooglik. Die grootste kleurtendense wat ons tans sien, is byvoorbeeld balayage en handverftegnieke wat baie, baie lank hou en albei lei tot oneweredige kleurskakerings. Hierdie tipe kleur verbind jou nie soos ander tegnieke om gereeld te kleur nie. Jy kan dit met gemak uitstel vir elke drie tot ses maande, verduidelik David.

Hy waarsku dat tuiskleur op lang termyn duurder kan wees.

“Uiteindelik sal jy waarskynlik by ’n haarsalon moet aandoen vir ’n volledige kleurregstelling.” Hy beveel aan dat as jy met kleur wil speel, jy eerder ’nkleuropknapper (colour conditioner) in plaas van ’n permanente haarkleurmiddel gebruik.

Grys hare het hoogmode geword, selfs voor die grendeltyd al. Vir diegene wat wil grys word, beveel David aan dat jy wag tot jou hare vir vier tot ses weke lank uitgegroei het. Besoek dan jou haarkapper om grys strepies in te sit.

“Die hare word eers gebleik om dit so lig as moontlik te kry. Hierna word ’n silwergrys toon bygevoeg. Op dié manier word die lyn tussen die natuurlike grys hare en die voorheen gekleurde hare gemaskeer.

“Hoe gryser jy word, hoe ligter moet jy jou hare kleur. Moenie streef na waar jy 25 jaar gelede was nie,” verduidelik hy. As jy in jou 20’s swart hare gehad het en steeds probeer om terug te keer na swart hare, sal jy elke week by die haarsalon wees!

“Soos jy ouer word, moet jou haarkleur ligter en ligter word. Dit is vleiender, meer ekonomies en minder tydrowend.”

Vir hare wat baie grys is, is ’n paar baba-ligstrepies naby jou gesig in die kol om hergroei te verbloem.

Wenke vir tuiskleur

“Die beste teenverouderingsmiddel is ’n wonderlike, natuurlike haarkleur. Veral as jy grys word.” – Bobbi Brown, skoonheidskenner.

  • Lees, lees en lees die aanwysings. En volg dit slaafs.
  • Begin deur jou hare twee dae lank nie te was nie.
  • Die model op die boksie se kleur is misleidend – gebruik die diagram op die verpakking om te sien hoe jou haarkleur sal uitkom.
  • Kies eerder van die begin af ’n ligter kleur as waarna jy hunker.
  • Koop twee bokse kleur as jou hare skouerlengte of langer is.
  • Neem jou haartekstuur in ag. Krullerige, kroes of droë hare slurp kleur vinniger op. Kies ’n warm kleur (goud, koper, brons), maar in ’n ligter skakering as jou natuurlike hare. Vir fyn en reguit hare is koeler skakerings (sjampanje, beige) in die kol. Kies een wat effens donkerder is as jou natuurlike kleur.
Meer oor:  2021  |  Hare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.