Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Mooimaak’-sessie: Vrou weer ‘jong pêrel’
Carin du Plooy (62) voor en ná haar mooimaaksessie. Foto: Marguerite Oelofse

Carin du Plooy (62) van Durbanville se man van 44 jaar sê sy lyk soos ’n jong pêrel nadat sy ’n splinternuwe voorkoms op die TV-program Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel op kykNET gekry het.

In Donderdagaand se episode het kykers die finale produk gesien nadat Carin ’n reis van drie maande onderneem het om haarself lief te hê en te aanvaar.

Carin het gesê nadat sy 60 verbygesteek het, het sy nie meer mooi gevoel nie. As iemand vir haar ’n kompliment gegee het, het sy dit afgelag.

Clare en haar span het Carin omskep van iemand met ’n “streng, kwaai gesig” in iemand wat weet hoe om ’n kompliment te aanvaar.

Carin het gedurende haar reis op die program vertel dat sy baie jare lank gewerk en stresvolle tye deurgemaak het. Haar man, Danie, was jare gelede in ’n ongeluk waarin hy albei sy voete ernstig beseer het.

Carin du Plooy wys haar nuwe uitrusting.

Carin moes hul tuindiens-onderneming bestuur, haar eie werk doen en hul seun, wat ’n eerstejaar-universiteitstudent was, ondersteun.

Danie was lank in die hospitaal en Carin was bang dat hy sy voete kon verloor. Hy was vyf maande lank in ’n rolstoel totdat hy een dag besluit het hy gaan opstaan.

Die egpaar het onlangs afgetree en na Durbanville verhuis, en Clare het gesê sy wil Carin help om met grasie oud te word.

Carin het verskeie velbehandelings ontvang, haar tande is wit gemaak en behandel, en sy het spesiale oefeninge begin doen. Sy het ook ná 42 jaar opgehou rook.

Die egpaar het danslesse geneem as ’n lekker aktiwiteit en Danie is genooi om te help met die ontwerp van ’n pêrelhangertjie.

Die pêrelhangertjie wat deur Uwe Koetter-juweliers vir Carin gemaak is.

Die hangertjie is deur Johan Louw, die juwelier Uwe Koetter se swaer en direkteur van Uwe Koetter-juweliers, ontwerp en gemaak.

Daar is besluit om ’n pêrelhangertjie te ontwerp omdat Danie ’n visioen gehad het dat sy vrou ná afloop van haar mooimaaksessie soos ’n pêrel uit haar dop sal kom.

“Ek wou nooit toelaat dat enigiemand my afneem nie, want ek het sleg gelyk, en oud,” het Carin gesê. Ná haar mooimaaksessie het dit egter verander. “Dit is so lekker om ’n kompliment te kry,” het sy gesê.

“Ek het sommer trane in my oë,” het Danie gesê toe hy haar nuwe voorkoms sien. “Sy lyk soos sy gelyk het toe sy jonk was.”

Amanda Pienaar, haar skoonsuster, sê: “Haar oë vonkel. Sy het nuwe energie. Sy is soos ’n ander mens.”

Clare het afgesluit: “Ek wens vir Carin dat sy die goeie jare voor haar ten volle geniet, en dat sy en Danie daardeur sal tango.”

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel word elke Donderdag om 21:00 op kykNET uitgesaai en volg die mooimaak-reis van 14 Suid-Afrikaners.

Meer oor:  Voorkoms  |  Selfvertroue  |  Mooimaak  |  Tv-Reeks  |  Skoonheid  |  Mode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.