Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Motorfietsklub ry vir 16 Dae van Aktivisme deur W-Kaap
Die Rod Bearers-motorfietsklub toer tot 10 Desember deur die Wes-Kaap as deel van die 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.

Die Rod Bearers-motorfietsklub vir geregsdienaars het sy eerste jaarlikse “Regte mans gee om”-motorfietstoer deur die Wes-Kaap afgeskop. Dit is deel van die veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.

Genl.maj. André Lincoln, president van die klub en hoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, sê die toer duur tot 10 Desember.

Lincoln sê die klub beywer hom al jare lank daarvoor om bewustheid te kweek oor geweld teen vroue en kinders.

Dit is nie net die eerste keer dat die klub die “Regte mans gee om”-motorfietstoer doen nie, maar ook die eerste keer dat burgerlikes aan ’n toer van die klub deelneem.

Lincoln sê die doel van die toer is om gesinsgeweld en seksuele misbruik te verminder deurdat hulle in gemeenskappe aandag gaan gee aan die “sosiale norme wat ’n negatiewe uitwerking op ons kultuur het en ’n gesonder en respekvolle definisie van manlikheid vir seuns en mans gaan bevorder”.

Gendergeweld word volgens hom dikwels deur die slagoffers verdoesel omdat hulle skuldig voel of selfs lief is vir hul aanvaller. In te veel gevalle is vroue ook bang vir die finansiële implikasies en trek hulle dan die klagte teen die aanvaller terug.

“Hierdie misdaad is so ernstig dat mense moet besef as hulle hiervan weet en niks doen nie, is hulle net so aandadig soos die aanvaller.”

Lede van die Rod Bearers-motorfietsklub.

Lincoln sê die klub sal deur die provinsie reis met ’n baie duidelike boodskap: “Dit is verkeerd dat mans vroue en kinders seksueel, emosioneel, verbaal en finansieel mishandel. Diegene wat hulle hieraan skuldig maak, is misdadigers.”

Hy sê dit is vir hom belangrik dat mans die belangrike rol wat vroue speel, waardeer.

“Manlikheid in ons kultuur moet herdefinieer word en ’n wêreld moet geskep word waar vroue en meisies gewaardeer word en veilig is deurdat mans en seuns die nodige gereedskap, praktiese metodes en strategieë het om hierdie verbinding te verstaan.”

Lincoln sê hulle sal werk aan hierdie visie deur middel van vennootskappe met die polisie se “Mans vir verandering”-inisiatief en vrouenetwerkforums sodat mans en seuns “ware mans” sal word wat bereid is om in die openbaar oor hierdie euwel te praat.

“Ons sal hierdie boodskap na gemeenskappe neem deur sowel slagoffers as oortreders in die strate, op die sokkerveld en in die raadsale te betrek.”

Genl.maj. André Lincoln, hoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid en president van die Rod Bearers-motorfietsklub.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.