Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Motorfietsryers skenk 2,25 t hondekos

Hul naam klink dalk ongetem, maar die Rebel Conspiracy-motorfietsklub is hondmak. Met ’n skenking van 2,25 t hondekos, sal sterte by die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (BDBV) heelmaand kan swaai.

Die Rebel Conspiracy-motorfietsklub het Woensdag R30 000 se hondekos aan die Bloemfonteinse dierebeskermingsvereniging (BDBV) geskenk. Dit bring groot verligting, aangesien die organisasie se pakkamer “dolleeg” was. Foto: Katleho Mokoena

Dié skenking ter waarde van R30 000 was Woensdag ’n welkome toevoeging tot die organisasie se leë pakkamer.

Reinet Meyer, senior inspekteur van die BDBV, sê die skenking maak ’n geweldige verskil.

“Ons pakkamer is op die oomblik dolleeg; ons het geen kos op die oomblik nie, so hierdie gaan ons regtig deur Desember help.”

Die hondekos sal hulle vandeesmaand deurdra, gegrond op die sowat 700 honde wat gewoonlik in dié tyd ingeneem word. Tans is daar 50 honde in die sorg van die BDBV.

Dit is die vierde jaar wat die motorfietsklub hondekos aan die BDBV skenk.

“Ons is almal mal oor diertjies, ons het almal ons eie troeteldiere. Ons het gedink dis die beste ding wat ons kan doen – daar is nie regtig meer baie groot ondersteuning vir die DBV nie,” sê Jan Sauer, president van die motorfietsklub.

Die kos is met die wins van hul Rebel 500-dag, wat in November was, aangekoop.

Sauer sê motorfietsryers het van so ver as Gauteng, Durban en Oos-Londen gekom om dié 500 km-sirkelroete vanaf Bains Lodge in Bloemfontein te ry. Later is saam by die lodge se Bush Pub, waar die rockgroep Saarkie opgetree het, gekuier.

Sowat 300 motorfietsryers het die roete van Bloemfontein na Tweespruit, Wepener, Zastron, Smithfield, Reddersburg en terug meegemaak.

Ongeveer 700 kaartjies is verkoop aan mense wat die dag wou ondersteun. Saarkie het slegs die helfte van hul gewone optreegeld gevra.

Die BDBV het ook tans sowat 20 katte, vyf skape, twee beeste en ’n perd in sy sorg.

Meyer sê die organisasie kry minder skenkings, omdat die publiek tans ook swaar trek.

Meer oor:  Dbv  |  Rebel Conspiracy-Motorfietsklub  |  Honde  |  Insameling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.