Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
My wêreld: ‘Huurders bly net ’n week of twee’

In vandeesweek se aflewering van My wêreld: Lesers vertel gesels Jeanelle Greyling, redakteur van Metro-Beeld-Suid, met Kriek Badenhorst, ’n voëlboer van Honeydew, Johannesburg.

‘Hallo, Jeanette? Dis Kriek.”

Dié inleiding het die afgelope jaar goed bekend geraak.

Rudolf “Kriek” Badenhorst. Foto: Jeanelle Greyling

Rudolf “Kriek” Badenhorst (62) bel immers elke paar maande Beeld se kantoor – soms enkele dae uitmekaar – om sy misnoeë met die Johannesburg-metro uit te spreek.

Trouens, Wes-Beeld, soos wat Metro-Beeld-Suid vroeër bekend was, het al op 7 Desember 2007 daaroor berig.

“Die metro doen níks nie,” sê Badenhorst elke keer.

“Ek weet al hoe ek iets gaan bereik, is as Beeld daaroor skryf.

“Jy moet sommer élke week iets in Beeld sit.”

Op vandeesweek se besoek aan huis vertel Badenhorst hy woon sedert 1962 op dié hoewe langs Beyers Naudé-rylaan naby Zandspruit.

“Ek het tot 13 jaar gelede nooit probleme gehad nie,” sê hy.

Nou breek die diewe kort-kort in en besteel hom, die metro sny nie die gras langs die strate nie en maak ook nie Badenhorst se kragboks reg nie.

Boonop ly Badenhorst sedert 2006 enorme geldelike skade omdat die metro glo nie gehoor gee aan sy pleidooi om ’n vloedwaterpypleiding buite sy erf nie.

Badenhorst, netjies in ’n langmouhemp en jean, wag by die hek.

Hy word deur twee opgewonde boerboele omring.

Een van sy voëlhokke staan langs die oprit.

’n Paar van Kriek Badenhorst se voëls.

“Ek het seker 1 000 voëls,” sê Badenhorst.

“Ek het vroeg afgetree. Ek was tot die ouderdom van 48 in die mynwese. Ná my aftrede het ek met voëls begin boer, maar ek maak nie ’n sent uit die boerdery nie,” sê Badenhorst.

“As dit reën, kom die water oral in,” sê hy.

Die water dam in sy erf op en Badenhorst het glo al voëls, volstruise, donkies en beeste verloor. Die water sypel selfs by die ruim vyfslaapkamerhuis in, wat veroorsaak dat die huis plek-plek vrot.

“Almal sê ek moet ophou met die boerdery, maar dis nie so maklik nie. Ek het al voëls vandat ek vyf jaar oud was.”

Badenhorst se probleme het begin toe ’n winkelsentrum in 2006 sonder okkupasiesertifikate langs sy hoewe gebou is. Daar is ’n effense afdraande van die winkelsentrum tot by sy erf en daar is nooit voorsiening vir ’n vloedwaterpypleiding gemaak nie. ’n Tydelike pyp is aangelê, maar dit lei die reënwater nie weg nie.

Hy loop gou deur die huis terwyl hy wys waar die reënwater oral skade aanrig. Daar is krake in die mure en vloerteëls en plek-plek vrot ’n kombuiskas se hout.

Die huis is wel netjies en die mure is onlangs oorgeverf.

’n Paar van Kriek Badenhorst se voëls.

“My pa was ’n bouer. Hy het die huis gebou. Hy het geglo alles moet 100% wees.

“Ek het die hele huis oorgepleister. Ek het al nuwe matte ingesit. Ek het die mure in Desember oorgeverf. ’n Paar maande later is die huis weer in sy maai in,” sê Badenhorst.

“As ek skatryk was, was dit ’n ander storie, maar ek is nie. My vraag is: Wie gaan vir al die skade betaal?”

Badenhorst sê die hoewe is in die mark, “maar jy moet die mense mos oor al die probleme waarsku”.

Gevolglik is daar geen belangstelling om die plek te koop nie.

Die huis is onderverdeel en hy het dit probeer verhuur.

Hy wys na ’n paar meubelstukke en sê: “Die meubels wat hier staan, is huurders s’n. Hulle bly ’n week of twee hier, dan trek hulle uit.

“Hulle kan nie die geraas hanteer nie. Hoor jy hoe blaf die honde heeltyd?”

Ses blaffende boerboele hou in Badenhorst se erf wag.

“Die winkelsentrum se hekke maak 04:30 in die oggend oop, dan kom die mense in. Die honde hou nie op blaf nie.

“Die pad is reg langs my heining. Ons maak nie ’n oog toe nie.”

As dit nie vir dié honde was nie, glo Badenhorst die skelms sou hom en sy vrou, Martie (59), lankal vermoor het.

“Die diewe sit die kragboks in die straat af sodat die alarm nie afgaan as hulle inbreek nie. Die honde blaf altyd, so die skelms kom nooit in die huis nie, maar hulle steel alles wat buite staan.”

  • In e-pos wat Beeld onder oë gehad het, bevestig Leah Knott, wyksraadslid, dat die metro die eienaar van die naburige winkelsentrum binnekort voor die hof daag omdat hy nie oor die nodige okkupasiesertifikate beskik nie.

Metro-Beeld-Suid het verlede jaar berig dié eienaar moet sy oprit oorbou om die opdam van vloedwater te verlig, aangesien die metro nie op private eiendomme werk nie.

’n Medianavraag met betrekking tot die lang gras en die gebreekte kragboks is aan die metro gestuur.

Wes-Beeld, soos wat Metro-Beeld-Suid vroeër bekend was, het al op 7 Desember 2007 oor Kriek Badenhorst se misnoeë oor die Johannes-burg-metro berig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.