Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
’n Bloudruk vir verandering

Om die ontwerp van die fabelagtige Zeitz MOCAA-gebou in Kaapstad met ’n klomp leë koeldrankbottels en houtpalette te troef, is nie ’n maklike taak nie, maar dit is presies wat ’n oopkop argitek van Port Elizabeth gedoen het. Willemien Green het met Kevin Kimwelle gesels om uit te vind hoe en waarom hy by sulke projekte betrokke raak.

Khululekile ‘Wilson’ Moko op die fiets wat Kevin Kimwelle ontwerp het. Foto: Verskaf

Die kleuterskool wat Kevin Kimwelle (40) van Port Elizabeth in dié stad se Joe Slovo-Wes informele nedersetting uit herwonne materiaal soos plastiekbottels, houtpalette en 1 500 wynbottels gebou het, het aan hom die toekenning South African Property Owners Association’s Most Transformative Project in South Africa besorg. Daarmee het hy stof in die oë van ontwerpers van opspraakwekkende geboue soos die R6 miljard-Zeitz MOCAA gebou en ’n R3,7 miljard-BMW-projek geskop.

Met ’n koste van minder as ’n miljoen het Kevin se projek die boodskap uitgestuur dat ’n laekoste en alternatiewe denkrigting in argitektuur nie net uiters suksesvol kan wees nie, maar ook heel waarskynlik ’n meer waardevolle impak op die groter gemeenskap sal hê.

Wat het die ontwerp en bou van die kleuterskool geïnspireer?

Die argitek Kevin Kimwelle

Die idee het gespruit uit die geweldige groot mate van rommel en afval wat die armer gemeenskap omring. Daar is hope plastiek, glas en ander herwinbare materiaal wat eerder ingespan kan word om projekte te voed as om iewers weggegooi te word. Die moontlikhede was legio en in dié geval was ’n kleuterskool die beste opsie. Dit skep nou ook die moontlikheid om ’n herwinningsorganisasie in die gemeenskap te skep waarby nie net die omgewing nie, maar ook die betrokke gemeenskap sal baat.

Vriende het jou uitgedaag om per motor van Port Elizabeth na Nairobi te ry. Op dié reis het jy besef daar heers ’n enorme sosio-ekonomiese kontras in Afrika. Is dit hoe jy by die projek betrokke geraak het?

Ek het argitektuur aan die Nelson Mandela-universiteit in Port Elizabeth gestudeer en toe reeds besef dat my studies nie genoeg sou wees om maatskaplike verandering in die minderbevoorregte gemeenskappe teweeg te bring nie. Die reis het dit net bevestig.

Daarom het ek begin om “groen” inisiatiewe te ondersoek wat my ’n beter grondslag sou gee om ’n sinvolle bydrae aan die groter gemeenskap te bied.

Waar het jy voorheen gewerk en wat doen jy op die oomblik?

Ek het voor en gedurende die Sokker Wêreldbeker-era by verskeie noemenswaardige argitektuurfirmas in Port Elizabeth gewerk en is nou ’n professionele vennoot aan die Nelson Mandela-universiteit in die Baai.

Ek is besig om saam met verskeie universiteite navorsing rakende maatskaplike inisiatiewe met ’n “groen” agenda te doen wat maatskaplike innoverende oplossings kan bewerkstellig wat bemagtig en volhoubare sosio-ekonomiese transformasie sal kan bied.

Tussendeur is ek ook besig met my doktorsgraad aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie.

(Met sy tesis wat handel oor argitektuur as ’n middel vir maatskaplike verandering, is dit duidelik dié man se hart lê daarin om ’n positiewe bydrae tot die opheffing van arm gemeenskappe te maak. Kevin maak dit ook duidelik dit is nie ’n een-man-taak nie, maar dat ’n gemeenskap by so iets betrek moet word om dit volhoubaar te maak.)

Khululekile ‘Wilson’ Moko, sy vrou en kinders en Kevin by sy herwinningsfiets en van die omgewingsvriendelike stene ‘eco bricks’ wat Kevin in sy ontwerpe gebruik. Foto: Verskaf

Is jy nou weer by ’n gemeenskapsprojek betrokke?

Ja, ek is eintlik by verskeie sulke projekte met verskillende tydslyne betrokke. Dit hang af van die gemeenskap se terugvoering op voorgestelde alternatiewe oplossings.

Alhoewel die meeste van die projekte op die armer gemeenskappe gerig is, is dit nie noodwendig rigied nie en kan alternatiewe voorstelle ook oral finansiële sowel as geskikte omgewingsvriendelike oplossings lewer wat van groot waarde sal wees. Ek ondersoek ook moontlike idees vir individue wat deur hulle bydraes ’n verskil in hulle plaaslike gemeenskappe wil maak terwyl hulle self bemagtig word om onafhanklik te funksioneer. Waardigheid bou ’n volk.

(Een van die individue wat daarby baat gevind het, is Khululekile “Wilson” Moko vir wie Kimwelle en sy span ’n herwinningsfiets ontwerp en gebou het. Nou kan hy met meer gemak rommel verwyder wat herwin kan word en ook deur die optel daarvan ’n bydrae aan sy plaaslike omgewing bied.)

Dink jy dat argitektuur jou help met projekte soos die ontwerp van die herwinningsfiets?

Ja, beslis. Ek span my argitektoniese kennis as ’n gevorderde sosiale ontwikkelings-tegniek in om met ’n verbeterde alternatiewe aanslag die projekte aan te pak. Ek dink nie alle kommersiële argitekte sou dit sommer doen nie, omdat dit eenvoudig nie die alledaagse norm in die veld is nie.

Vir Khululekile het die fiets nie net ’n oplossing vir sy probleem gelewer nie, maar ook sy waardigheid herstel. Dié man het elke dag sy yslike selfgeboude waentjie gestoot van die informele nedersetting af tot by die punt waar hy sy rommel kon inhandig. Dit is hoe hy sy daaglikse brood verdien. Nou kan hy soveel meer rommel versamel en inhandig terwyl hy ander mense op sy pad inspireer om dieselfde te doen.

Dit sal hopelik lei tot die betrokkenheid van sy plaaslike gemeenskap, omgewing en uiteindelik ook waarby die land sal baat.

Khululekile “Wilson” Moko se bydrae is uitsonderlik, maar hoe kry jy die gemeenskap betrokke by jou idees?

Die een gemeenskap verskil van die ander en natuurlik so ook die onderskeie probleme wat hulle mee te doen het.

Dit verg baie navorsing in en van ’n betrokke gemeenskap om ’n oplossing vir ’n probleem te vind. Dikwels moet ’n mens ook organisasies in so ’n gemeenskap stig om bystand te bied wat dan weer op die manier van ekonomiese waarde vir so ‘n gemeenskap kan wees.

Watter toekomstige projekte is daar op jou tekentafel?

Op die oomblik is ons besig met die beplanning van ’n konstruksie wat die mees gesofistikeerde skool wat met omgewingsvriendelike stene gebou is in die Walmer-informele nedersetting sal bewerkstellig.

Ons is ook besig om ’n herwinningsdepo te omskep in ’n sentrum wat van ’n enorme waarde vir die betrokke gemeenskap sal wees.

Waar sien jy jouself oor tien jaar?

Besig met die werk waarvoor ek lief is, om ’n volhoubare en veel groter sosiale ekonomiese impak te bewerkstellig en sodoende gemeenskappe te transformeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.