Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
’n Groot gesteek

Die Chennai Chicken Wings (vlnr): Jean, die skrywer, André, Scoop; Leon en Merwe.
‘Perdeby’ is eintlik ’n vierletterwoord, meen Leon-Ben Lamprecht.

In hierdie wêreld is daar dinge wat maar kan verdwyn, en wat mense nie sal mis nie.

Muskiete, byvoorbeeld. Ja, die mannetjie-muskiet bestuif dalk blomme, maar die wyfie, ten beste, suig jou net leeg, of ten slegste besmet jou met malaria.

Ek sukkel ook om die waarde aan beroepspolitici en, moontlik erger, beroepsportadministrateurs te sien. Ek sal erken ek is dalk hopeloos te sinies hier, maar het jy onlangs gesien hoe lyk die WP-rugbyunie se sake? Of die oorgrote meerderheid van die plaaslike regerings buite die Wes-Kaap se enigiets?

En dan, natuurlik, is daar die perdeby. Ek praat nou nie van Tukkies se studentekoerant nie (hoewel selfs hulle hul naam verander het na PDBY, seker oor hulle nie met dié walginsek geassosieer wil word nie).

Perdebye is nou wat in Engels wasps of hornets genoem word. Ek is seker daar is ’n duidelike, wetenskaplike verskil tussen die goed. Maar die leek sien net daai profiel en wil die Doom gaan haal.

Ek is ook seker die goed het deugde. Die woord self het darem nie net negatiewe konnotasies nie. Ek meen, ’n perdebylyfie is tog grootliks ’n kompliment (hoewel dit seker sal afhang van jou standpunt oor wat in glansmedia as mooi en gesond uitgebeeld word).

Iewers het ek eenkeer gelees hulle bestuif ook blomme, en hulle help om probleeminsekte te beheer. Glo.

Maar hulle wis ook bye uit. En sommige spesies is bitter aggressief. Daar is selfs ’n spesie wat in die Rooitaal as “murder hornets” in die volksmond bekend staan (regte naam: Asian giant hornet). Ek meen, dit is nie die bynaam wat jy vir iets oulik gee nie.

Die woord “moord” kom daarin voor, om hemelsnaam! En, ek is seker niemand sal vreeslik hierdeur verras word nie, hulle steek kan lei tot nierversaking en selfs die dood. Lees gerus daai sin weer.

Ons Kapenaars word ook gereeld gewaarsku teen indringer- Europese papierwespes, Polistes dominula. (Ons kan onsself seker nou hier op ’n filosofiese reis neem en vra wat beteken “indringer” nou regtig en of ons nie almal op een of ander vlak indringers is nie, maar dit val buite die bestek van hierdie rubriek.)

Maar, liewe leser, my verterende afsku in perdebye is nie ’n akademiese saak nie. O nee, dis gebore uit daadwerklike blootstelling.

Ten spyte van die perdebysteek wat sy oog byna laat toeswel het, het Leon-Ben se krieketspan, die Chennai Chicken Wings, steeds hul plaatfinaal gewen.
Die Insident

Die jaar was 2019, die maand was Januarie, die dag ’n Sarrag.

’n Lot van ons het ingeskryf vir die Wellington-krieketklub se besigheidskrieketdag. Net oor 30’s mag gespeel het en dit was vyf beurte per span in ’n wedstryd. Dit was dus grootliks vir die pret.

Natuurlik neem jy dit tog maar effens ernstig op – daar is seker steeds ’n deel van my wat glo ek is reg om vir die Proteas die boulwerk te open as die nood druk.

Ons span, die Chennai Chicken Wings, het kleigetrap die eerste twee wedstryde teen twee spanne met veel meer talent as ons. Ons het darem opgemaak daarvoor met gees.

Ons derde stel opponente het selfs meer gees as ons gehad, en in ons plaat-semifinaal het hulle die kolwe meer gebruik om regop te probeer bly as om, jy weet, te kolf. Ja, daar was baie, baie bier betrokke daai kant.

Die Chennai Chicken Wings het dus redelik gemaklik gewen, om ons plek in die plaatfinaal te bespreek.

Nou kyk, vyf beurte klink nie baie nie, maar as jy nie meer gereeld krieket speel nie, en jy is die verkeerde kant van 30 (of 40, soos van ons spanmaats), dan voel jy daai boulery en kolwery. Selfs veldwerk tap jou energie.

Met die dat ons span dan ook so ’n uur of drie gehad het tussen die semi en die finaal, besluit ons en ons onderskeie gesinne om eers ’n pizza te gaan eet by ons kaptein, Scoop, se huis. Boonop sal ’n bietjie R&R (sowel “rest and recuperation” as “rum en raspberry”, hoewel ek eintlik ’n wyndrinker is) handig wees.

Nou, Wellington se bynaam is nie verniet Hellington nie. Die kwik draai graag noord van 40 °C hier in die somer. Dit raak sommige dae só warm, die duiwel pak sy tas en gaan terug huis toe.

So, noodwendig vind die uwe toe sy pad na Scoop se swembad toe vir ’n vinnige afkoel-ghoef.

Daar dobber ek in vrede op my rug in die soel water, terwyl die Wellingtonse son verbete van bo skyn. ’n Baie effense briesie gly deur die palmbome, voëltjies tjirp saggies. Ek dink aan alles en niks.

Ek hoor ’n gezoem hier rondom my.

En die volgende oomblik kom land ’n Europese papierwespe op my regter-ooglid, en zip-zip-zip steek die donner my voor ek hom met my hand kon vang en dooddruk.

Die nadraai

“Eina, gits,” roep ek uit. (Goed, ek het ander woorde gebruik, maar dit is immers ’n gesinskoerant.)

My spanmaats, vrou en kinders spring verras op en kom nader.

“Wat het gebeur?” vra iemand wat ek nie lekker kan sien nie, want my ooglid het byna oombliklik begin toeswel.

En goeie, verfoeilike f . . .oltering! Die pyn! Dis asof iemand ’n warm kaggel-eg teen my oog gedruk het. Ek drink summier ’n paar Panado’s vir die seer. Dit help. Die R&R help ook.

’n Uur later tree ons aan vir ons plaatfinaal, ek met een oog wat dit laat lyk of ek ’n woordewisseling op die ou Hatfield Square verloor het.

Om met een toegeswelde oog te boul, of te kolf, of veldwerk te doen is ’n uitdaging. Jou dieptepersepsie is bepaald nie wat dit was nie. En die sweet het my ooglid gebrand! En dan vee ek die sweet ingedagte af, en dan brand dit nóg erger.

As ek reg onthou, kon ek darem ’n paaltjie inpalm. Nietemin wen die Chennai Chicken Wings die plaat­finaal, en daarmee saam ’n kis bier. Met die bier het ons ons oorwinning gevier, toegeswelde oog en al.

Die volgende oggend toe ek wakker word, skrik ek my boeglam. My oog is nou nog meer toegeswel, en begin so blou/geel vertoon.

Nou kyk, dis nie my eerste insek-insident nie. Ek het vantevore op ’n by getrap, wat daartoe gelei het dat my regtervoet só opgeswel het dat ek met een gewone skoen en een pantoffel werk toe is.

Maar hierdie was iets anders. Oor die volgende drie dae het dit net erger geswel, en iets allervreesliks begin jeuk. As Allergex my nie so uitgezonk het nie, het ek dit soos Smarties gedrink. Teen die Woensdag kon ek darem weer deur my oog sien, en met selfvertroue bestuur.

Sedertdien voer ek ’n skrikbewind teen perdebye. I am a simple man: I see a hornet, I kill a hornet. Dis nou as ek nie te bang is hulle steek my weer nie.

So nee, perdebye kan maar verdwyn, in soverre dit my aangaan. Hulle kan sommer BMW’s se flikkerligte saam met hulle op pad uit vat. Dis in elk geval nie asof die bestuurders hulle gebruik nie . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.