Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
’n Klerekas vol gravitas

Pêrels, tekkies, broekpakke en denims . . . Sen. Kamala Harris, wat dalk die VSA se volgende visepresident kan word, se klerekas sê baie meer as bloot gemak, skryf Marguerite van Wyk.

Madonna, Rihanna, Bella Hadid en Cindy Crawford word daarmee gesien. Ook Kamala Harris gee die toon aan in Converse-tekkies – van klassieke Chuck Taylor All Stars tot platform-tekkies is wat die Demokrate se kandidaat vir visepresident dra terwyl sy die VSA plat reis om stemme te werf.

As die dogter van immigrante uit Jamaika en Indië het dié senator vroeër vanjaar nuus gemaak as die eerste swart vrou wat benoem is ’n as kandidaat vir visepresident.

En nou trek sy net soveel aandag met haar modestyl.

Sen. Kamala Harris tydens ’n verkiesingsveldtog. Foto: AP

Volgens die gesaghebbende modetydskrif In Style het sy verskeie pare tekkies in talle style en kleure.

’n Video van Harris in ’n paar tekkies, geneem tydens die begin van die verkiesingsveldtog in Milwaukee in Wisconsin, het op sosiale media 8 miljoen trefslae gekry. Dis die soort aandag wat ’n Oscar-wenner ontvang.

Harris het ook ’n paar platform-tekkies na die jaarlikse Pride-parade in San Francisco gedra, gekombineer met ’n denimbaadjie met blieng.

Funksioneel, stylvol

Converse se sportstyl-skoene het al diep spore in die modebedryf getrap. Die eerste paar is in 1908 gemaak.

Teen sowat R850 per paar is dit ’n redelike bekostigbare handelsmerk. Chuck Taylor All Stars is in die 1920’s vernoem na die Amerikaanse basketbalspeler.

Harris se ander gunsteling­bykomstigheid is pêrels. Dít dra sy al 35 jaar lank in verskillende stringe, veral by broekpakke of denims en snyersbaadjies. Daar word soms gepraat van Harris se “pêrels van wysheid’’.

Die Franse mode-ikoon Coco Chanel is ook selde sonder pêrels gesien. Sy het gesê vroue behoort stringe daarvan te dra en het – tot baie mense se afgryse – soms kunspêrels met die ware Jacob vermeng.

Chanel het mense destyds ook geskok toe sy broekpakke – en dit saam met pêrels – gedra het. Pakke is daardie jare uitsluitlik as “mansklere’’ beskou. Amerikaanse vroue-politici is voor 1993 nie eens toegelaat om broekpakke in die Amerikaanse senaat te dra nie.

Harris het ook in ’n video op Instagram verskyn waar sy brandbestryders in Kalifornië besoek het.

Vir dié geleentheid dra sy Timberland-stewels, ’n olyfkleurige parka, wit T-hemp, goue pêrels en denims.

Later daardie dag woon sy ’n vergadering by om die uitwerking van Covid-19 op Latyns-Amerikaanse gemeenskappe in Las Vegas in Nevada te bespreek.

Sy word hierna in die media opnuut geprys vir haar funksionele, dog stylvolle, drag.

Dís wat haar klere sê

Daar is mense wat vra hoekom ons hoegenaamd nog in vroulike politici se voorkoms belang stel.

Niemand het tog ’n woord gerep oor wat pres. Donald Trump of Joe Biden, die Demokrate se presidentskandidaat, die afgelope week tydens hul eerste debat gedra het nie.

Maar soms praat ’n politikus se klerekas sáám. Dink maar aan oudpres. Nelson Mandela wat die wêreld destyds bekoor het met sy lospassende hemde van sy en shweshwe.

Dié helder hemde het die spreekwoordelike Madiba-magic verpersoonlik.

Gestewel en gespoor. Prakties en gereed om dinge gedoen te kry. Sen. Kamala Harris gesels met Gavin Newsom, goewerneur van Kalifornië, oor brande in dié deelstaat.Foto: AP

Harris se klerekas “praat” ook met ons, sê Candice-Lee Kannemeyer, ’n voormalige model en deesdae skrywer van die blog “In My Bag”.

Laird Borrelli-Persson, die argiefredakteur van die modetydskrif Vogue, redeneer ’n vrou kan vandag sowel styl as gravitas hê en haar klerekas kan simbolies en betekenisvol wees.

Kannemeyer reken Harris se klere is besonders omdat sy altyd klassiek, professioneel en terselfdertyd ontspanne voorkom. Boonop spreek ’n wit T-hemp, broek en tekkies met ’n vlootblou baadjie veral tot generasie X (gebore tussen 1965 en 1980) en millenniërs (gebore tussen 1981 en 1996), verduidelik Kannemeyer.

Dié generasies (en potensiële kiesers!) hou van haar gemaklikheid. “Wanneer sy weer die meer klassieke broekpak met pêrels en platform-Converse-tekkies dra, bereik sy ’n ander gehoor. Albei style lýk moeiteloos, maar word met sorg saamgestel. Pêrels kan dikwels outyds en vroom lyk, maar Harris moderniseer dit. By haar denims en wit T-hemde lyk dit vars.’’

Kannemeyer sê Harris se kundige vermenging van verskillende style tref die emosies van millenniërs tot Boomers, haar eie generasie (gebore tussen 1946 en 1964).

“Ek is mal oor haar mode-insig, veral oor haar liefde vir wít en room – wat nie juis met vroulike politici verbind word nie. Maar deel van haar flair is daai glimlag – sekerlik haar beste bykomstigheid.’’

Sakke vol selfvertroue

Harris verander die sienings van hóé vroue in die politiek “behoort te lyk” meen Nicola Cooper, ’n kultuurstrateeg van Kaapstad wat ook ’n fyn oog op nuwe tendense hou.

’n Klassieke paar Chuck Taylor All Stars. Foto: iStock

Kyk byvoorbeeld na die Duitse bondskanselier Angela Merkel, met haar stigtelike pakkies en baadjies in juweelkleure. Cooper meen dis vervelig. Merkel se streng bob is wel al onder hande geneem deur haarstiliste om ’n meer toeganklike voorkoms aan haar te gee.

Wyle Karl Lagerfeld, mode-ontwerper vir Chanel, was in die verlede heel lou oor Merkel se styl.

Cooper meen as daar twee vroue is wat hulle nié laat voorskryf nie, is dit die voormalige Amerikaanse presidentsvrou Michelle Obama en Harris.

“Hulle is sterk en weet wie hulle is. Hulle koester hul individualiteit. Hulle verteenwoordig hul eie styl. Die wêreld smag na outentieke mense,’’ sê Cooper.

Sy beskryf Harris se styl as “ietsie van alles” en reken dis hoekom Harris so ’n wye gehoor bereik.

“Met haar klassieke broekpakke spreek sy tot meer korporatiewe vroue, terwyl die funky gehoor wat van gemak hou identifiseer met die sneakers. Die pêrels tref ’n meer tradisionele, maar ook avontuurlike vintage-mark.”

Net iemand wat ’n gevoel vir styl het, weet volgens Cooper hoe om verskillende fragmente stylvol saam te voeg.

“En dít is wat jou voorkoms uniek maak. Iemand wat van kop tot tone korporatief aantrek, is nie juis baie interessant nie.”

Die sukses van die Harris-handelsmerk, reken Cooper, is dat sy mooi en gemaklik voel met haar persoonlike stylkeuses en ander voel dié soort selfvertroue aan.

’n Praktiese doener

Krag en waagmoed. Dít is wat Harris se kleredrag simboli-seer. Sy breek weg van die tradisionele, terwyl sy terselfdertyd ook elemente daarvan behou, meen Truida Norval, ’n klerestylbeplanner van Port Elizabeth.

“Haar broekpakke weerspieël ’n amperse manlikheid, maar wanneer sy dit met pêrels meng, is dit minder strak.

“Haar langer hare wys dat sy haar nie steur aan die stereotipiese idee dat vroue ná ’n sekere ouderdom hul hare moet sny nie. En sy kom weg met haar eie ding.

“Trouens, sy wys dat sy haar plek as slim én stylvolle vrou knap volstaan in die politiek, iets wat steeds deur baie as die manlike domein beskou word. Kortom: sy inspireer, boesem vertroue in en is plat op die aarde.”

Norval hou ook van Harris se gebruik van kleur. “Wit, room, denim en khaki is warm, maar steeds elegant en toeganklik. Donkerblou en swart is professioneel en stylvol en dui op selfversekerdheid, maar omdat sy die donker kleur dikwels breek met ’n hemp in wit of room, skep dit nie ’n strak, intimiderende indruk nie.’’

Kyk sommer ook na Jacinda Ardern, die premier van Nieu-Seeland, en voeg haar by die groep van mense wat weet hoe om nieverbaal te kommunikeer.

Ardern is lojaal aan Nieu-Seelandse ontwerpers soos Kate Sylvester en Juliette Hogan en hou van rokke.

“Dit is ver verwyder van die veilige blou en swart snyerspakkies wat ons met vrouepolitici verbind,” sê Norval.

Harris wys met haar funksionele drag ook dat sy aan die eise van ’n bedrywige lewenstyl kan voldoen.

“Timberland-stewels, ’n parka, T-hemde, jeans – dít dui op iemand wat prakties dink en sorg dat sy dinge laat gebeur,’’ meen Truida.

Dis regtig nie so uitsonderlik as iemand die modereëls verbreek en haar eie kop volg nie, sê Anja Joubert, tendensdirekteur van die aanlyn modewinkel Superbalist.

Marguerite van Wyk

Sy sal trouens nie eens opkyk as iemand in die straat by haar verbyloop met ’n kombinasie van denims, pêrels, tekkies en ’n snyersbaadjie nie.

Dit is nie vir haar baie opwindend nie. Baie mense doen dit.

“Maar wanneer ’n politikus op hierdie manier nieverbaal kommunikeer en haar kleredrag straal ’n kombinasie van vroulikheid, krag en gemak uit, soos Harris, sou ’n mens hoop dat dit ook in haar leierskapstyl weerspieël word.’’

En dít, meen Joubert, kan net goed wees vir Amerika wat volgens haar “smag na goeie leierskap”.

Word daar te veel gemaak van die ontsyfering van nieverbale kommunikasie deur kleredrag?

Party mense sê dit is onsin.

Maar, het die Britse uitgawe van Vogue in 2018 berig, daar is krag in mode en wêreldleiers se keuse van klere weerspieël wie hulle is.

In dié artikel word ook verwys na David Von Drehle, ’n joernalis van The Washington Post – ’n koerant wat meer bekend is vir sy gesaghebbende dekking van politiek as mode – wat gereeld skryf dat politici gedurig nieverbale boodskappe stuur deur middel van hul kleredrag.

En dis nie ’n onlangse verskynsel nie . . . Hatshepsut, een van die eerste vroulike farao’s, wat 3 500 jaar gelede mederegeerder in Egipte was, het tóé al haar modestempel afgedruk.

Sy het kaalbors rondgeloop, mansrompe (kilts) gedra, ’n vals baard aangesit en selfs hooftooisels soos die mans aangeskaf. Sy wou soos hulle lyk en daarmee ’n sekere beeld uitstraal.

Om Harris se persoonlikheid – soos weerspieël deur haar klerekas – te ontsyfer, hoef ’n mens eintlik net na haar profiel op Instagram te kyk.

Dié gesoute senator verwys nie net na haar politieke status nie, maar beskryf haarself ook as: “Wife, Momala (’n moederfiguur vir haar twee stiefkinders), Auntie, Fighting for the people.” Net soos haar klerekas, is haar lewe saamgestel uit ’n ietsie van alles.

En dís wat mense na haar toe aantrek.

  • Aanvullende bronne: www.thejewelleryeditor.com;

The Power of Fashion: Decoding World Leaders’ Sartorial Choices, Vogue; Does Kamala Harris’s Style Reflect Anything About Her Politics? – Laird Borrellie-Persson;

Kamala Harris Wears Timberland Boots, Gets Things Done, www.marieclaire.com; The Power of Fashion: How Clothes make a Statement en.vogue.me.

  • Van Wyk is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Kamala Harris  |  Klerekas  |  Kandidaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.