Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
’n Paar feite oor trans

Wat weet die wetenskap oor transseksualiteit? Delia du Toit doen navorsing.

Die Amerikaanse YouTube-ster Jazz Jennings het in 2007 opspraak gemaak toe sy vir die bekende joernalis Barbara Walters vertel het sy het al op vyf­jarige ouderdom geweet sy is transseksueel (Jazz is as ’n seuntjie gebore en identifiseer nou, op 19, as ’n vrou).

Sedertdien is geslagsdisforie al by kinders so jonk as drie jaar gediagnoseer. Wat verstaan die wetenskap nou al oor geslagsdisforie?

Die wetenskap het al onder meer gewys daar is selfs ’n moontlike korrelasie tussen jou vingerafdrukke en transseksualiteit.

Wat is geslagsdisforie en transseksualiteit?

Geslagsdisforie is ’n kliniese diagnose vir die angs wat iemand voel omdat hulle nie identifiseer met die geslag waarmee hulle gebore is nie. Iemand met geslagsdisforie wat dan as transseksueel identifiseer, verwerp die geslag waarmee hulle gebore is en identifiseer nie net met die ander geslag nie, maar wil ook daardie geslag wees. Só lyk die kliniese kriteria vir ’n geslagsdisforie-diagnose:

Volwassenes:

  • ’n Duidelike verskil tussen jou fisieke geslagseienskappe en die geslag waarmee jy identifiseer of jouself as uitdruk.
  • ’n Sterk oortuiging dat jy die tipiese gevoelens en reaksies van die ander geslag het.
  • ’n Sterk begeerte om: ontslae te wees van jou fisieke geslagseienskappe; die ander geslag se fisieke eienskappe te hê; die ander geslag te wees; soos die ander geslag hanteer te word.

Kinders:

  • ’n Sterk begeerte om die ander geslag te wees en daardie geslag se fisieke eienskappe te hê, of om aan te dring dat jy die ander geslag is.
  • ’n Sterk voorkeur: om die ander geslag se tipiese klere te dra; om met rolspel die ander geslag te speel in speletjies of fantasieë; vir die ander geslag se tipiese speelgoed, speletjies en aktiwiteite; vir speelmaats van die ander geslag.
  • ’n Sterk afkeur of verwerping van: die tipiese speletjies, speelgoed en aktiwiteite van jou geslag, en jou seksuele anatomie.

Hoe algemeen is transseksualiteit?

Daar is bitter min studies of statistieke oor transseksualiteit in Suid-Afrika, en geen amptelike raming van hoeveel mense as trans identifiseer nie. Die Universiteit van Kalifornië se Williams-stigting, wat spesialiseer in wette en beleide oor seksuele oriëntasie en identiteit, raam dat nagenoeg 0,6% van Amerikaanse volwassenes as transseksueel identifiseer, en 0,7% van kinders tussen 13 en 17.

Een plaaslike studie van die Groote Schuur-hospitaal se transseksualiteiteenheid wat in 2014 in die South African Medical Journal gepubliseer is, sê die eenheid het in daardie stadium drie tot vier versoeke vir geslagsveranderingsoperasies per maand gekry. Die eenheid kan egter slegs twee of drie operasies per jaar doen en die waglys was toe al tot 20 jaar lank. Van die 102 pasiënte wat die operasie gekry het, het 83% al as adolessente of jonger as transseksueel geïdentifiseer.

Of dit toeneem, is onduidelik – kenners sê meer mense is dalk vandag net bereid om na vore te kom omdat daar minder stigma is.

Hoe werk terapie vir sulke kinders?

In die verlede het sielkundiges en dokters jong kinders probeer dwing om in hul geslagsboksie te bly. ’n Meisie wat met karretjies wou speel, is poppe gegee. ’n Seuntjie wat pienk klere wou aantrek, het raas gekry. Dié sogenaamde “herstelterapie” het die kinders verneder en net meer probleme veroorsaak. Diane Ehrensaft, bestuurder van geestesgesondheid by die Universiteit van Kalifornië se Kinder- en Adolessentgeslagsentrum, skryf in haar boek Gender Born, Gender Made dié kinders sou “lusteloos of erg ontsteld raak . . . en selfs letterlik wegkruip in kaste om met hul gekonfiskeerde gunsteling-speelgoed te kan speel of hul verbode klere aan te trek”.

Dié soort terapie is deesdae oneties, maar dit keer natuurlik nie dat ouers of ander gesagsfigure dit steeds doen nie.

Vandag is die standaardterapie om eerder na die kind te luister, hul vrae en wense oor geslag ernstig op te neem, en (ná die nodige assessering en terapie) te help met sosiale en fisieke geslagsverandering.

Maar dié aanslag word steeds bevraagteken. Kinders en tieners leer en ontwikkel nog – so ook hul siening oor geslag. In een eksperiment het kinders tussen drie en vyf jaar oud vas geglo hulle wórd die ander geslag as hulle daardie geslag se tipiese klere aantrek. Dié kinders se simptome en gevoelens is nie noodwendig kliniese geslagsdisforie nie.

Ander kinders ontgroei dit. Een studie in die Journal of the American Academy of Child and Adolescent Psychiatry het 54 kinders met geslagsdisforie oor ’n paar jaar bestudeer. Die kinders was tussen vyf en 12 jaar oud toe hulle gediagnoseer is, en 16 of ouer by opvolg. Met die opvolg het 27% van die kinders steeds disforie gehad of as transseksueel begin identifiseer, terwyl 43% nie meer disforie gehad het nie (die res van die kinders wou nie aan die opvolg deelneem nie). Van die wat nie meer disforie gehad het nie, was al die meisies by opvolg heteroseksueel, en helfte van die seuns. Die ander seuns was óf homo- óf biseksueel.

Hoe meer ekstreem die kinders se disforie oorspronklik was, hoe groter was die kans dat hulle later as transseksueel sou identifiseer.

Al kan ’n kind se gevoelens oor geslag later verander, is terapie noodsaaklik omdat die angs en depressie wat dikwels met geslagsdisforie gepaardgaan, kan vererger as dit nie ernstig opgeneem word nie. Selfdood en selfdoodgedagtes is baie algemeen in die transgemeenskap – een 2014-opname deur die Amerikaanse Stigting vir Selfdoodvoorkoming het gewys 41% van deelnemers in die transgemeenskap het al hul eie lewe probeer neem.

Hoe werk die mediese behandeling?

Afhangend van die ouderdom van die pasiënt, kan puberteitblokkers en hormone voorgeskryf word om die geslagsveranderingsproses te begin. Later kry baie mense ook geslagsveranderingsoperasies.

Een meta-studie, wat in 2012 in die Annual Review of Sex Research gepubliseer is, sê geslagsveranderingsoperasies is die enigste doeltreffende behandeling vir disforie. ’n Ander studie wat in 2018 in die Journal of Sexual Medicine gepubliseer is, wys slegs 0,6% van transseksuele vroue en 0,3% van transseksuele mans wat tussen 1972 en 2015 geslagsveranderingsoperasies gekry het, was later spyt.

Amsterdam se Vrije Universiteit het ’n sentrum wat spesifiek transseksualiteit bestudeer en pasiënte help. Tieners wat daar puberteit-blokkers en geslagshormone gegee is om van geslag te begin verander, se geslagsdisforie het verdwyn – selfs jare later, wys een studie wat in 2014 in die vaktydskrif Pediatrics gepubliseer is. “Hul sielkundige funksionering het stadigaan verbeter en hul geluk en gesondheid was daarna vergelykbaar met hul portuurgroep,” sê die studieleiers.

Kenners waarsku egter dat kinders in die studie in die bevoorregte posisie was om hul ouers se ondersteuning te geniet, wat tot hul geluk kon bydra. Baie transseksuele kinders word deur hul ouers verwerp.

Langtermynstudies oor die uitwerking van puberteitblokkers en hormone is egter nog skaars. Kenners soos Joshua Safer, een van die outeurs van die Amerikaanse Endokrienvereniging se gids vir die behandeling van geslagsdisforie, sê die kans op erge newe-effekte is skraal. Maar daar is byvoorbeeld nog nie navorsing oor die uitwerking op been- en breinontwikkeling in kinders en tieners nie.

Wat veroorsaak geslagsdisforie?

Navorsers weet nie presies wat geslagsdisforie veroorsaak nie, maar beskou dit as ’n ingewikkelde kombinasie van genetiese, biologiese, sielkundige en sosiokulturele faktore.

’n Paar studies het egter al interessante bevindings opgelewer wat (minstens gedeeltelik) op biologiese oorsake kan dui:

  • ’n Studie van 324 transseksuele en 220 heteroseksuele volwassenes het gewys die vingerafdrukke van trans- en heteroseksuele mense verskil. Dié afdrukke word al in die eerste drie maande van swangerskap gevorm en verander nie oor jou leeftyd nie. Die studieleiers waarsku egter dat die verskille nie noodwendig met transseksualiteit te doen het nie, maar dalk met seksuele voorkeur.
  • In 1995 het ’n studie van transseksuele mans in die vaktydskrif Nature gewys sekere dele van dié mans se breine was die tipiese grootte van vroue en nie van mans s’n nie.
  • ’n Studie van 205 seuns met geslagsdisforie (en 205 heteroseksuele seuns) in 2005, het gewys ’n ongewoon groot persentasie van dié kinders is linkshandig – nagenoeg 20% teenoor 8%. Ander studies in volwassenes het dieselfde patroon gevind.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.