Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
’n Slang in jou gras

Weens die droogte kom al meer slange in voorstede voor. Maar, sê slangkenners, jy mors jou geld as jy dink enige doepa gaan hulle weghou. Johanna van Eeden berig oor dié en ander slangmites.

Moenie self ’n slang probeer vang of doodmaak nie. ’n Pofadder se gif breek weefsel af en as een jou behoorlik op jou pinkie byt, kan jy jou hand verloor. Foto’s: Johan Marais

Koeksoda. Motballe. Wildeknoffel. Diesel. Ou motorolie. Jeyes Fluid. Malvas. Bloekomolie. Dis die soort dinge wat mense gebruik om onwelkome besoekers met gesplete tonge uit hul huise te hou. In onlangse navorsing deur die African Snakebite Institute (ASI) en die Universiteit van die Witwatersrand is egter bevind daar bestaan regtig geen doeltreffende slangafweermiddel nie.

Dis een van die grootste mites oor slange, sê Johan Marais, uitvoerende hoofbeampte van die ASI. Hy meen mense glo aan afskrikmiddels omdat ons menslike gedrag aan slange toeskryf – ruik iets sterk of sleg vir mense, moet dit tog seker slange ook afskrik. Maar, sê Johan, slange se reukorgane werk totaal anders as mense s’n. Slange kan die sterk reuke waarmee mense hulle wil afskrik ruik, maar hulle ignoreer dit net.

Sommige mense gebruik ’n produk wat in China gemaak is wat vibrasies uitstuur in die hoop om slange af te weer. Ook dít werk nie. Johan sê ’n slang is slim genoeg om te kan onderskei tussen verskillende vibrasies.

Dra jy ’n klippie om jou arm – geseën deur ’n sangoma – sal dit jou glo ook van slange vrywaar. Nóg ’n mite, vertel André du Preez van Silverfox Snake Rescues in Worcester, is dat slange glo sal wegbly as jy galblaas eet.

Ander meen as ’n slang jou pik is jy in die moeilikheid, maar pik hy jou vir ’n tweede keer, “neutraliseer” dit die eerste byt. Carl Jackson, ’n makelaar van Bloemfontein en geregistreerde slangvanger, sê met die tweede pik het jy net twee keer soveel moeilikheid . . .

Een van die ander mites is dat slange mense jaag. “Nee, die slang het jou beslis nie gejaag nie. Geen slang gaan jou aanval as hy nie vasgekeer voel nie. ’n Slang is ’n wilde dier. As hy bedreig voel, gaan hy homself verdedig,” sê Carl.

En slange drink nie melk nie, verseker André. Net anderdag moes hy op ’n plaas hoor van ’n pofadder wat glo om ’n koei se agterbene geseil het en toe aan een van die spene gaan drink het. Pure nonsens.

Johan sê die ander ouvroustorie is dat jy ’n dooie slang moet verbrand, “want sy maat kom hom soek”. Slange, verduidelik hy, beweeg beslis nie in pare nie.

Nóg ’n mite is dat babaslange nie giftig is nie. “As ’n slang gebore is, is sy gif net so sterk soos dié van ’n volwasse slang,” sê Carl.

Mosambiekse spoegkobras pik tussen 40 en 60 kinders per jaar in hul beddens.

So kán jy slange afskrik

So, wat kan ’n mens doen om te verseker dat ta nie in jou huis inkom nie? “Hou jou erf skoon,” sê André. Hy reken as jou erf vry is van rotte en muise “is jy so 90% daar”.

Moenie ’n reusebak hondekos vir jou honde in die agterplaas uitgooi en dit vir ’n maand daar los nie, sê Carl. “Hondekos lok knaagdiere. Knaagdiere lok slange. Hou jou voëlhokke skoon. Voëls en voëleiers lok ook slange.”

“Moenie voëltjiekos teen ’n boom sit nie, want dan gaan lê die slang in die boom waar die voëltjies bymekaar kom en vang sy McDonald’s,” sê André.

En moenie jou braaihout teen ’n muur pak nie. Hou liewer ’n opening aan die agterkant. Boumateriaal en sinkplate wat rondlê is ook ’n probleem.

Hoewel sommige slange tot ’n jaar sonder kos kan bly, het hulle water nodig om te oorleef. André sê veral in tye van droogte beweeg slange na plekke waar daar water is. Sy raad aan plaasmense is om sommer buite water uit te sit vir die slange, “dan vat hulle nie kanse nie”.

Carl sê met die afgelope paar jaar se droogte was daar beslis in Bloemfontein ’n toename in slange. In 2015 het hy sewe slange gevang, in 2018 was dit 38 “en twee likkewane” en verlede jaar het hy 23 slange uit mense se erwe verwyder.

Baie slange – kobras en rinkhalse veral – volg skurwepaddas, vertel Johan. “Enige erf wat sproeiers of ’n waterfokuspunt het, lok paddas. Veiligheidsligte lok insekte en insekte lok paddas. Slange ruik hulle honderde meters ver. In ons onkunde lok ons heeltyd slange in ons erwe in.”

André moes al gasoonde uitmekaar haal om slange uit te haal en ook van die reptiele uit kombuiskaste verwyder. “Die moeilikste is om hom uit ’n kar te kry, veral aan die voorkant as die enjin nog warm is.” Om ’n slang in ’n motor op te spoor, gebruik hy gewoonlik ’n luister­apparaat. Kobras, vertel hy, blaas. Hoor jy iets soos iemand wat sy keel skoonmaak, moet jy weet dis ’n boomslang . . .

Die swartmamba kry sy naam van die kleur van die binnekant van sy mond.

Ons is slangkos

Slange gebruik hul reuksintuie om kos op te spoor. “Wat is ek en jy? Soog­­-diere . . . (dus slangkos),” verduidelik André, wat al van einde September tot die afgelope Woensdag 139 slange gevang het.

Johan sê daar is jaarliks tussen 40 en 60 gevalle van kinders wat in die nag in hul bedjies deur Mosambiekse spoegkobras in die gesig gebyt word. “Dié slange is baie aktief in die aand wanneer hulle jag en kos soek. Die byt is ’n voedingsreaksie. Hulle ruik ’n soogdier en reageer.”

Volgens Johan sterf tussen tien en 12 mense jaarliks in Suid-Afrika weens slangbyte, teenoor die 100 wat deur weerlig doodgeslaan word en die sowat 15 000 wat in motorongelukke omkom.

Die grootste fout wat mense maak wanneer hulle ’n slang sien, sê André, is om die dier te probeer vang en doodmaak. “Mense wil alles voor die voet doodmaak,” beaam Johan. Hy het al gehoor van gevalle waar boere alles van wasbakke tot toilette met haelgewere stukkend geskiet het omdat daar ’n slang in die badkamer was. Carl sê veral op plase speel slange ’n groot rol om peste te beheer.

Tref jy wel ’n slang in jou huis aan, is Johan se raad om ’n geregistreerde slangvanger se hulp in te roep.

“Die helfte doen dit gratis, party sal jou vra vir ’n donasie van so R300. As jy in ag neem dat die gemiddelde hospitaalkoste in geval van byvoorbeeld ’n pofadder se byt jou R100 000 gaan kos, is die R300 eintlik ’n goeie belegging.”

Daar is ’n lang lys van hulle met kontaknommers op www.africansnakebiteinstitute.com.

André sê hy is ná 33 jaar in die bedryf steeds bang vir slange. “Ek hanteer almal asof hulle giftig is. Ek het respek vir hulle. En ek hou nie van hospitaalkos nie.”

“Ek is nie bang vir slange nie, maar ek is baie versigtig,” sê Carl. “En ek is nie vreeslik lief daarvoor om pofadders te vang nie, want ek weet wat sy gif kan doen. ’n Ordentlike byt op jou pinkie en jou kans is goed om jou hele hand te verloor.”

As ’n slang jou pik

Hiert! As jy ’n slang sien, staan stil, want slange reageer op beweging en vibrasie. Gee ’n groot tree terug. As jy binne-in ’n huis is, maak die deur toe. Sit iets onder die deur sodat die slang nie uitkom nie. Sê vir ander mense in die huis daar is ’n slang. Bel ’n geregistreerde slangvanger. Daar’s ’n lang lys van hulle op www.africansnakebiteinstitute.com. Jy kan ook ’n laken of duvet soos ’n muur tussen jou en die slang hou en hom na buite por. Maak net seker terwyl jy dit doen dat die slang nie jou voete kan sien nie.

Eina! As ’n slang iemand pik, spoel die wond af met water. Immobiliseer die ledemaat met byvoorbeeld ’n driehoekverband. Haal alle juweliersware af, want die ledemaat gaan swel. Stel die persoon wat gepik is gerus. Spring in jou kar en ry na die naaste dokter, kliniek of veearts. Kom net so gou moontlik by die hospitaal uit.

Gif: Verskillende soorte slange het verskillende soorte gif.

Adders se sitotoksiese gif breek weefsel af. Mambas en kobras se neurotoksiese gif tas jou senuweestelsel aan en verlam jou diafragma, wat asemnood veroorsaak en tot hartstilstand kan lei. Boomslange se hemotoksiese gif veroorsaak dat jou bloed nie stol nie en jy jou dan deur dun membrane soos in jou neus doodbloei.

Gratis app: Die African Snakebite Institute het ’n gratis app wat mense kan aflaai met alles van die identifikasie van slange tot ’n volledige lys met slangvangers. Die instituut bied ook slangkursusse aan.


Meer oor:  Droogte  |  Slange
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.