Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ná vriend se dood hardloop jong man om hospies te help

Die dag toe kanker een van sy “gelukkigste” vriende binne ’n kort tydjie in “vel en been” verander, het hy besef dat hy meer wil doen om ander te help.

Ivan Roodbol (18) Foto: Instagram

Ivan Roodbol (18) van Hermanus beplan nou om op 1 Augustus, ’n week voor sy 19de verjaardag, ’n solo-ultra-marathon van 65 km te hardloop op die Tsitsikamma-staproete by Nature’s Valley om R10 000 in te samel vir die Overstrand-hospies.

Roodbol sê hy het verlede jaar ook op 1 Augustus ’n marathon gehardloop om geld in te samel vir sy vriend, Luan Matthee (15), wat sowat drie maande gelede aan kanker dood is.

“Ek wil nou geld insamel vir die Overstrand-hospies. Sulke plekke word gereeld misgekyk, want mense wil nie fokus op die negatiewe in die lewe nie. Hartseer is egter ’n realiteit vir mense wat in sulke plekke werk en opgeneem word.”

Roodbol sê hy wil net help waar hy kan terwyl hy nog in staat is om dit te doen.

“Ek wou nog altyd ’n ultramarathon gedoen het, en nou doen ek dit ook om ander te help.”

Hy meen daar is ’n rede dat daar nie ’n woord in die woordeboek bestaan vir iemand wat hul kind of broer verloor het nie.

“Jy kry net ’n wewenaar en ’n weduwee en ’n weeskind. Ek dink daar bestaan nie woorde vir ouers wat kinders verloor nie, want die pyn waardeur sulke mense gaan, is onbeskryflik.”

Die Overstrand-hospies. Foto: Overstrand-hospies-webtuiste

Esmé Potgieter, die pasiëntesorgbestuurder van die Overstrand-hospies, sê Roodbol het hulle sowat ’n maand gelede genader oor dié inisiatief.

“Dit was ongelooflik hoe die inisiatief ook inskakel by een van ons pasiënte, Johan Maree, wat ons verlede jaar verloor het. Hy was 17 en het ’n breingewas gehad. Dit was op sy wenslys om die Tsitsikamma-roete te doen. Ivan doen nou die roete ook ter herdenking van hom,” sê Potgieter.

Ivan Roodbol (18) van Hermanus.

Sy sê hulle was “in verwondering” dat so ’n jong man hulle genader het.

“Dit is gewoonlik mense van 30 jaar of ouer wat ons nader. Dit is wonderlik dat jong mense nou begin betrokke raak by sulke inisiatiewe. Ons het baie respek vir Ivan dat hy so iets wil doen.”

Potgieter sê lewensbedreigende siektes soos kanker raak nie net bejaardes en middeljarige mense nie.

Roodbol se ma, Francie, sê mense aanvaar dikwels hul gesondheid as vanselfsprekend.

“Ek dink die afgelope ruk het Ivan geleer dat ’n mens jou gesondheid moet koester. Die een dag het jy nog drome om berge te versit en die volgende dag droom jy van nog net een Kersfees saam met jou familie.”


Meer oor:  Luan Matthee  |  Kanker  |  Hulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.