Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Nico van Gijsen: Begin só jou eie saak
Dis moontlik om jou eie klein sakeonderming te begin. Jy moet net twee keer dink voor jy skuld aangaan en kundige raad kry op die terreine waar jy nie ’n spesialis is nie. Foto: iStock

Ek wil vandag enkele gedagtes los vir dié lesers wat dit oorweeg om ’n eie saak te begin.

Om dit te doen is ’n stamperige pad, vol kinkels, steiltes en slaggate.

Maar as jou beplanning van die eerste dag reg is, kan die persoonlike bevrediging en finansiële sukses dit alles die moeite werd maak.

Wil jy ’n inkomste of ’n eie saak hê?

Jou eerste besluit gaan wees: Wil ek ’n eie saak begin of wil ek ’n inkomste verdien? Daar is ’n yslike verskil. Baie mense dink hulle het ’n eie saak, maar eintlik verdien hulle steeds net ’n salaris, weliswaar een waarvoor hulle self werk. Hulle bou niks. Dis goed as dit is wat jy wil hê; moet jouself net nie bluf nie.

Hier is ’n voorbeeld.

Daar is boervroue wat hier in die droogte begin het om byvoorbeeld koeke te bak en pasteie te maak om in die stede te verkoop om ’n inkomste te kan verdien, terwyl die boerdery stilgestaan het.

Maar wat as dinge met die boerdery weer beter gaan? Dis dán wanneer die vraag inkom: Het hulle net ’n (tydelike) inkomste verdien, of het hulle die geleentheid gebruik om ’n eie saak te begin?

Dink só daaroor: Jy het nou ’n mark vir jou produk, jy het klante wat jou ondersteun. Jy het eintlik nou ’n eie saak gebou. As jou hande voortaan te vol is, stel werkers aan. Of laat ’n kind dit oorneem. Werk is skaars en dit wat daar ís, is onseker.

Swaarkry het die manier om geleenthede te wys wat ’n mens nie altyd raaksien wanneer alles klopdisselboom met jou gaan nie.

Swaarkry het die manier om geleenthede te wys wat ’n mens nie altyd raaksien wanneer alles klopdisselboom met jou gaan nie.

My voorbeeld van die boervrou wys ook hoe maklik dit is om ’n eie saak te begin. Ek hoor soms mense praat oor “eendag” ’n eie saak begin. Mens, as jy dit wil doen, doen dit nou. Begin om ’n paar koeke, koeksisters of pasteie te maak as dit is wat jy doen en verkoop dit. Doen dit dan weer. Of as jy ’n motorwerktuigkundige is, kry een ou wie se kar jy herstel. En dan ’n volgende. Dis al. Die sleutelbegrippe is dissipline en fokus.

Vermy skuld

Jou tweede besluit gaan oor geld. Vermy skuld. Dit bring onnodige druk, want dit moet terugbetaal word. Die ding dat jy moet “lyk na sukses” (dink: mooi klere, nuwe kar) is snert. In elk geval, hoe suksesvol is jy as jy soos ’n pierewaaier aantrek, maar jy is vrot van die skuld? Mense sien deur dit.

En moet ook nie jou aftreegeld gebruik om ’n onderneming te begin nie. As jy reeds iets aan die gang het en geld nodig het om uit te brei, dan kan jy dit oorweeg, maar dink eers mooi. Ek het lang hartseerstories hieroor.

Begin liewer klein en dan, as jy sien jy is op die suksespad en jy wil uitbrei, kan jy kyk na finansiering. Daar is niks soos sukses wat mense na jou toe sal aantrek nie. Daar is altyd beleggers wat ’n geleentheid sal benut om ook voordeel te trek uit jou inisiatiewe.

Eenmansaak of vennootskap?

Jou derde besluit is die regsvorm waarin jy jou saak wil bedryf. Ek sal in ’n volgende rubrieke meer aandag hieraan gee, maar vandag wil ek net beklemtoon dat jy nie ’n beslote korporasie of maatskappy hoef te stig nie.

Jy kan byna enige saak in jou eie naam bedryf.

Hierna word verwys as ’n eenmansaak of, as jy politiek korrek wil wees, seker ’n eenmenssaak. Of jy kan kyk na ’n vennootskap as jy met iemand saamspan in die onderneming. Met ’n vennootskap het jy ’n ooreenkoms nodig. In jou eie naam kan jy doen wat jy wil. Jy is die saak en die saak is jy.

Daarom, om terug te keer na my punt oor skuld, as jou onderneming op skuld begin word, is dit jou skuld. As die onderneming onder gaan, gaan jy onder.

Dit is so eenvoudig soos dit. Daar is nie ’n onderskeid tussen jou en die saak wat jy bedryf nie. Daar is dus ook risiko’s om ’n saak in jou eie naam te bedryf. Maar solank as wat jy dissipline aan die dag lê en kundige raad kry op die terreine waar jy nie ’n spesialis is nie, is daar geen rede waarom jy nie in jou eie naam ’n saak kan bedryf nie.

Benewens enkele uitsonderings, soos wanneer jy deur Jan Taks beskou word as ’n “onafhanklike kontrakteur”, het jy al die belastingaftrekkings wat enige onderneming het.

Kortom, alle uitgawes aangegaan vir die doel van inkomste verdien, is aftrekbaar. Jy kán ’n onderneming in jou eie naam bedryf. As dit is wat jy wil doen, begin net.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Inkomste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.