Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Nico van Gijsen: In beheer van jou testament

Iemand gaan voordeel trek uit jou testament, so moenie wag tot jou sterfbed voordat jy een opstel nie.
Ek wil vandag stilstaan by daardie allerbelangrike dokument wat so maklik afgeskeep word: jou testament.

Laat ek met ’n vraag begin:

Het jy ’n testament? Ja?

Waar is hy? Is jy seker hy’s regsgeldig?

Wanneer laas het jy hom nagegaan?

Ek het nog ’n paar vrae, maar laat ek liewer fokus op die antwoorde wat nodig is.

Te veel mense skeep hul testament af

Dit is seker verstaanbaar, want wie wil dan nou dink aan sy of haar eie dood?

Of meer nog, nie net laat dit jou dink aan jou eie dood nie, jy moet letterlik en op skrif erkenning daaraan gee dat jy op ’n dag gaan sterf. Nie almal is gemaklik daarmee nie.

Hier is ’n stelling wat gereelde lesers van my rubrieke seker sal herken, want ek verwys van tyd tot tyd daarna: “Dit is ’n nimmereindige bron van verbasing dat so baie mense op onopgeleide adviseurs staatmaak wanneer hulle testamente opstel – waarskynlik een van die belangrikste dokumente wat hulle ooit sal onderteken.” (Appèlregter Leach in die saak Raubenheimer vs. Raubenheimer.)

Die getal boedels wat in die howe beland, is angswekkend.

Die getal boedels wat in die howe beland, is angswekkend. En die getal onder hulle wat vermy kon word as die oorledene net bereid was om kundiges te gebruik met sy boedelbeplanning en die opstel van die testament is eintlik hartseer. Dis die naasbestaandes wat daaronder ly.

Die oorsaak van daardie onmin is dan (hopelik) op ’n saliger plek.

Wees gewaarsku

Laat ek op dié punt sommer ’n waarskuwing rig. Daar is ongelukkig baie kansvatters wat hulself as jou eksekuteur aangestel wil kry; sonder dat hulle werklik ’n idee het van die regstegniese vereistes van testamente, laat staan nog boedel­administrasie.

By jou dood neem hulle dan die testament na ’n prokureur of iemand wat dan die boedel hanteer en só deel hulle in die eksekuteurstarief.

Nou, my vraag is, hoekom met swak raad tevrede wees net sodat daardie person kan geldmaak uit jou? Hoekom nie maar direk met die spesialis handel en weet jou sake is agtermekaar nie? Dan kan jy sommer ook self onderhandel oor die eksekuteurstarief.

Die testament

Kom ons kyk nou na “ . . . een van die belangrikste dokumente wat hulle ooit sal onderteken”.

Dink só daaraan: Jou hele lewe lank beywer jy jou om welvaart te skep. Jy besit eiendom en jy belê jou geld. Kortom, jy is finansieel verantwoordelik.

Hier is nou my punt: Iemand gaan voordeel trek uit jou welvaart ná jou dood. Jy is nie niks werd nie. Jy beteken finansieel iets vir iemand. Daar is net een manier waarop jy kan bepaal wie dít gaan wees en dit is met ’n geldige en korrek opgestelde testament.

As jy nie ’n testament het nie, of die testament is nie uitvoerbaar nie, dan gaan ánder besluit oor jou goed. Dan tree die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987) in werking. Of ’n hof moet besluit oor die geldigheid van jou testament. En glo my, die algemene betekenis van woorde kry voorkeur.

Niemand het ’n reg om te erf nie (die onderhoud van minderjarige kinders en langslewende gades in sekere omstandighede uitgesluit). Die vryheid om jou goed te kan bemaak soos jy wil, is een van die grondbeginsels in die Suid-Afrikaanse reg op testate erfopvolging. Die beginsel is ook in die appèlhof (BoE Trust Limited NO en ander (846/11) [2012]) bevestig.

Hoekom nie hierdie vryheid ten beste benut deur bloot behoorlik aandag aan jou testament te gee nie?

Wat kan als bemaak word?

Wat my bring by die vraag: Wat kan ek bemaak? Kortliks gestel, alles wat joune is. In sekere gevalle selfs goed wat nié joune is nie (anderdag kan ek dalk hieraan raak).

Opsommend sou ’n mens kon sê jou boedel bestaan uit alles wat jy besit, of dit nou vaste eiendom, beleggings of jou motor is. Ja, selfs jou eiendom of beleggings in die buiteland.

Dan is daar ook goed wat jy nie self besit nie, maar wat die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955) sê dit word geag as jou eiendom te wees, byvoorbeeld polisse op jou lewe, al word dit aan iemand anders uitbetaal ná jou dood.

Pasop net dat jy nie ’n polis waarvan iemand ’n begunstigde is in jou testament bemaak nie. Dit gebeur baie, dis hoekom ek dit noem. Die polis gaan volgens die kontrak tussen jou en die versekeraar uitbetaal word aan die begunstigde en nie volgens jou testament nie.

Maak dus seker daaroor, want dit kan maklik tot gevolg hê dat iemand meer kry as wat jy beoog het en ’n ander een minder, of dalk niks. Jy kan wel die opbrengs op ’n polis wat aan jou boedel uitbetaal word, bemaak aan wie jy wil.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak-tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.