Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Nico van Gijsen: Is ’n trust ’n goeie idee?

Foto:
Die talle briewe wat ek darem al gekry het oor trusts is vir my verstommend. Verreweg in die meerderheid, iets soos, is ’n trust ’n goeie ding?

Voor ’n mens kan bepaal of ’n trust ’n goeie ding is vir jou, of liewer, of dit toepaslik is, is dit nodig om eers die basiese konsep van ’n trust te verstaan.

Bates nie meer joune

’n Trust, of sogenaamde familietrust, is niks meer nie as ’n instrument waarin bates gehou, geadministreer en bestuur word deur onafhanklike trustees, ten behoewe van ’n derde party (die begunstigde/s).

Kortliks, trustbates is nie joune nie. As jy bates oorgedra het na ’n trust is dit nie meer joune nie. Dit behoort nou aan die trustees van die trust in hul hoedanigheid as trustees. En hulle moet dit bestuur ten behoewe van die begunstigdes. Jy besluit nie meer alleen hieroor nie.

In ons regspraak is tientalle voorbeelde van hoe belangrik dié punt is.

Ek meen die leidende saak in dié verband is steeds Landbank vs. Parker waarin die appèlhof beslis het die meester van die hooggeregshof moet toesien dat by trusts waarin al die trustees en al die begunstigdes aan mekaar verwant is, daar ook ’n onafhanklike buitestander as trustee moet wees. Hoe onafhanklik jou prokureursvriend of ouditeur in dié verband is, kan ons lank oor gesels.

My boodskap is net, jy speel met die reg op eie risiko. Moenie huil as jy jou vingers verbrand nie.

My boodskap is net, jy speel met die reg op eie risiko. Moenie huil as jy jou vingers verbrand nie.

Die skeiding tussen die genietinge van die trustbates en die beheer daaroor is juis waar die voordele van ’n trust lê. Hoekom dan nie maar die spel speel volgens die reëls nie?

Voordele van ’n trust

Goed, dit is gesê, wat is nou die voordele van ’n trust? Ek hou maar by die tipiese familietrust. ’n Spesiale trust vir byvoorbeeld ’n gestremde kind is iets anders. So ook die sogenaamde bewindtrust.

Trustbates (as dit reg bestuur word) val nie in jou boedel nie. Maar jy kan as ’n begunstigde die genot daarvan hê.

Omdat dit nie in jou boedel val nie, sal dit ook nie boedelbelasting meebring ná jou dood nie. Ook nie kapitaalwinsbelasting (KWB) nie.

’n Trust kan dus met vrug gebruik word om bates in te hou vir die voortgesette genot van naasbestaandes. Die bate is ook uit hul boedels.

As jy ’n bate wat jy reeds besit aan ’n trust wil oordra, moet jy dit óf verkoop óf skenk. Die verkoopprys is steeds ’n bate in jou boedel, maar die groei in waarde sal in die trust plaasvind – en dit is die berekening wat jy moet doen voordat jy hieroor besluit.

Skenk jy dit, gaan jy geskenkbelasting betaal teen 20% op alles bó R100 000. Dit én KWB indien dit ’n kapitaalbate is.

Jy kan dit op ’n leningsrekening aan die trust verkoop, maar die trust se skuld aan jou is steeds ’n bate in jou boedel.

Onthou ook dat jy R3,5 miljoen vrystelling het van boedelbelasting – en as jy en jou vrou aan mekaar bemaak het, is die finale vrystelling R7 miljoen.

Boedelbelasting is eers ’n kwessie bó die bedrag.

Slaggate met belasting

Kom ons kyk nou kortliks na enkele belastingslaggate by trusts.

Eers die verkoop op ’n leningsrekening soos vroeër genoem. Sou jy dit gedoen het, moet jy rente hef op die lening, betaalbaar deur die trust aan jou.

Doen jy dit nie, sê art. 7C van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962), kan die rente wat jy nie hef nie en wat minder is as die amptelike rentekoers (tans 4,5%), beskou word as ’n skenking aan die trust. Daarop moet jy geskenk­belasting betaal.

Verder is die inkomstebelastingkoers vir trusts 45%. En daar is nie ’n glyskaal soos met individue nie. Die trust betaal vanaf die eerste rand inkomstebelasting teen 45%. Daar is ook nie vir trusts rente-vrystellings soos vir individue nie.

En kapitaalwinsbelasting? Die ingeslote koers (dis die deel van jou kapitaalwins waarop jy belasting betaal) vir individue is 40%, wat belas word teen normale belastingskale. Dit maak die effektiewe koers tussen 0% en 18% (maksimum) vir individue. Die ingeslote koers vir ’n trust is ’n hele 80% wat belas word teen 45% (effektief dus 36%). En ’n trust het nie die R40 000 per jaar KWB-vrystelling wat individue het nie.

Maak seker jy verstaan die voor- en die nadele van ’n trust voor jy jou daarin begewe. Maak ook seker die trustakte is opgestel deur ’n trustspesialis.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Trust  |  Familietrust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.