Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
NSRI vier 75 lewens wat sedert 2017 met boeie gered is

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Sondag ’n kleurryke uitstalling gehou op Rocklands-strand in Seepunt, Kaapstad om die 75 lewens te vier wat al met die pienk boeie gered is.

Die 200 pienk reddingsboeie wat die NSRI Sondag op die heel eerste Internasionale Dag vir die Voorkoming van Verdrinking uitgestal het. Foto: Verskaf
Ons boodskap aan watergebruikers en almal wat die gevaar kan loop om te verdrink is eenvoudig: Dink pienk.

Dit was die heel eerste Internasionale Dag vir die Voorkoming van Verdrinking en die NSRI het pienk reddingsboeie, wat op verskillende strande in die land gebruik word om verdrinkings te help voorkom, in ’n groot 75 rangskik.

Die Verenigde Nasies het die internasionale dag in April ingestel. Benewens die 75 boeie het die NSRI ook nog 200 boeie op die strand uitgestal.

“Ons is dankbaar dat ons vandag saam met die wêreld op die kwessie van verdrinking kan fokus,” het Jill Fortuin, die NSRI se hoof van die voorkoming van verdrinking, gesê.

“Jaarliks verdrink 1 500 mense in Suid-Afrika – onder wie 450 kinders onder die ouderdom van 14. Ons boodskap aan watergebruikers en almal wat die gevaar kan loop om te verdrink is eenvoudig: Dink pienk.”

Mense wat iemand wil help wat in die water in die moeilikheid beland, kan een van die meer as 1 000 pienk reddingsboeie wat die NSRI landwyd beskikbaar gestel het, gebruik om mense in nood te help.

Die syfer 75 op die strand in Seepunt verwys na al die lewens wat sedert 2017 danksy die pienk reddingsboeie gered is. Foto: Verskaf

Die projek om die boeie te verskaf is in 2017 begin.

Fortuin sê in die mees onlangse voorval het drie mans in Rooiels naby Gordonsbaai so ’n boei gebruik om twee hengelaars, wat deur die branders van die rotse afgeslaan is, te red.

William en Richard Boltmann en Francois Koekemoer, wat besig was om hul boot te lanseer, het vinnig gedink en die boei op die strand gaan haal om die twee mans te help.

Hulle het ’n tou aan die boei vasgemaak en na die mans gegooi. Dit het die hengelaars gehelp om hul koppe bo die water te hou.

William het twee keer in die water gespring om die hengelaars te help om in die boot te kom. Die NSRI sê in ’n verklaring albei mans is onder moeilike omstandighede gered.

Hulle sê dit was te danke aan uitstekende seemanskap en uitstekende spanwerk tussen die drie. Die NSRI het Sondag pryse aan hulle oorhandig.

Dr. Cleeve Robertson (heel links), hoof van die NSRI, Sondag saam met (van links) William Boltmann, Francois Koekemoer en Richard Boltmann, wat sertifikate ontvang het vir hul hulp om twee vissermanne te red. Foto: Verskaf

Die NSRI sê die pienk boeie maak deel uit van ’n waterveiligheidsinisiatief. Die boeie is helderpienk sodat dit in die water kan uitstaan.

“Daar is ook ’n unieke noodnommer op die bord waaraan die boei vasgemaak is sodat die nooddienste belangrike minute kan spaar,” sê Fortuin.

Volgens haar is die boeie op strande, asook by binnelandse damme en riviere beskikbaar. Indien iemand in gevaar is, moet die noodnommers op die bord onmiddellik geskakel word, of skakel 112 vanaf ’n selfoon.

“Maar onthou dat ’n gesteelde boei ’n gesteelde lewe kan wees,” sê Fortuin. Lede van die gemeenskap kan ’n vermiste boei by 021 434 4011 aanmeld.

Enigiemand wat wil ’n boei teen R1 500 wil borg, kan die NSRI se webtuiste besoek.

Meer oor:  Kaapstad  |  Seepunt  |  Nsri
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.