Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Nuwe lewe in ou enjins geblaas

Op die groen grasperk voor die Ferreira-trekker-en-oudhedemuseum buite Bloemfontein staan ’n geroeste enjinblok met ’n kennisgewing in hoofletters “OU LEWE”. Neffens dit is ’n blink gerestoureerde Lister D-enjin van 1952 met die woorde “NUWE LEWE”.

Isak van den Berg (31) van Clocolan het met die restourasie van dié Lister – wat toentertyd vir kragopwekking in die Koffiefontein-distrik ingespan is – deurgedring tot die eindronde van die jaarlikse enjinrestourasie-uitdaging vir jong restoureerders wat die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-enjinklubs (Savtek) en Engen aangebied het.

Rondom die Lister staan tientalle ander enjins van finaliste oor die land heen, wat wag om beoordeel te word. By elke enjin verskyn ’n grafiese aanbieding van die restourasieprojek asook ’n werkboek oor die detail en verloop van die projek.

Wenner. Gustav van der Westhuizen (regs) van Pretoria was met dié ou Crossley-enjin van 2,2 ton die wenner in die meestersafdeling. Sy pa, Wessie (links) was sy mentor. Gustav restoureer enjins vir ’n bestaan vir versamelaars oor die land heen. Van der Westhuizen het ook die beste mondelinge voorlegging aan die beoordelaars gelewer.

Isak is ’n voormalige Bloemfonteiner wat deesdae ’n plaatmetaalwerker by die ingenieursonderneming Clocolan Algemene Werke is.

Sy liefde vir ou enjins kom al van sy kinderdae af. Hy het op 13-jarige ouderdom op die Sandstone-landgoed by Ficksburg saam met die stoomtreinrestoureerder Lukas Nel aan die versamelaar Wilfred Mole se smalspoor-stoomenjins begin werk. Dié stoomtreine lok entoesiaste van oor die wêreld heen.

Hy het 12 jaar heeltyds saam met Nel, nou afgetree in Johannesburg, aan Sandstone se treine gewerk.

Isak praat met vuur en passie in sy stem oor ou enjins. Hy het al ’n stuk of tien nuwe lewe gegee.

“As jy ná al jou harde werk daardie vuurhoutjie trek, die vuur in die lokomotief opkry, die stoom aan die gang kry en daardie trein vat en begin blaf . . . tjoef . . . is dit asof daardie enjin met jou praat en vir jou dankie sê vir die nuwe lewe wat jy hom gegee het.

“Dieselfde met enige ander ou enjin wat jy van die skroothoop optel, mooi maak en weer aan die gang kry. Jy sukkel dikwels jou gat af om so ’n enjin weer te start, maar as hy begin doef-doef en loop, is die blydskap groot. Te groot vir woorde.”

Isak het met sy Lister die derde plek in die senior afdeling vir standaard-enjins in vanjaar se restourasie-uitdaging van Savtek en Engen behaal.

Die broers Brandon Fourie (14, links) en Willem Colloty (8) van Welkom was finaliste in die junior afdeling vir standaard-enjins. Hulle het saam met oupa Willem (regs) ’n ou Fowler PPD-enjin (1946) gerestoureer.
Groot prysgeld. Bernard Badenhorst van Kaapstad, naaswenner in die junior afdeling vir kompakte enjins, ontvang sy prysgeld van Paul Delport (links) van Engen en Christo Pieterse (regs) van Bloemfontein, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-enjinklubs (Savtek). Die Briggs and Stratton-wasmasjien-enjin wat Bernard gerestoureer het, is ook as die beste enjin in vanjaar se kompetisie aangewys.
Dirk Venter (links) en Julius Faba (middel), albei van Bloemfontein, was finaliste in die meestersklas met ’n Blackstone MP-enjin. Hul mentor was Jurg Calitz (regs). Dié enjin is in die 1960’s vir kragopwekking in Smithfield ingespan.
Baas van die plaas. Jannie Ferreira, eienaar van die Ferreira-museum in Kwaggafontein, waar vanjaar se eindronde van die kompetisie gehou is.

Al die wenners

Juniors (18 en jonger), kompakte enjins

1. Amor McKenzie, Bloemfontein – Villiers-enjin

2. Bernard Badenhorst, Kaapstad – Briggs and Stratton

3. Pietermaritzburg Girls’ High – Wisconsin

Juniors, standaard-enjins

1. Pieter en Marné Smit, Rustenburg – Sendling DM 8-10

2. Adriaan Dietrichsen, Clocolan – McCormic-Dearing

3. Cobus van Wyk, Pretoria – Wolseley

Seniors (19 tot 30), standaard-enjins

1. Franco Coetzee, Klerksdorp – Wolseley

2. Johan Gouws, Klerksdorp – Wolseley Senator

3. Isak van den Berg, Clocolan – Lister D

Meesters (vorige deelnemers), standaard-enjins

1. Gustav van der Westhuizen, Pretoria – Crossley

2. Francois van Rooyen, Kaapstad – McCormic- Dearing M

3. Jannie Gouws, Klerksdorp – International Harvester U2


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.