Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Olimpiese Spele: Waar menslike gode speel

Die Olimpiese Spele kom ’n lang pad sedert die tyd toe dit nog ’n religieuse fees vir Zeus was, skryf Jandri Barnard.

Spyros Louis
Spyros Louis wen die marathon in 1896. Foto’s: Istock en Getty Images

Eindelik kon die 2020 Tokio Olimpiese Spele die afgelope Vrydag in 2021 begin. In hierdie onsekere tye tree 11 638 atlete en sportlui van 205 nasionaliteite in 46 verskillende sportsoorte aan.

Dis ’n ver pad sedert die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 in die Pa­n­athenesiese stadion in Athene, Griekeland, plaasgevind het. (Die stadion is oorspronklik al in 330 v.C. gebou vir die Pan­­a­thenesiese Spele, een van vele atletiek­feeste wat in die antieke tyd oor die hele Griekeland heen gehou is.) Toe het 41 manlike deelnemers van 14 lande, insluitend die VSA, Duitsland, Groot Brittanje, Hongarye, Switserland, Australië en Chili, in 43 items meegeding. Suid-Afrika sou eers in 1904 deelnemers stuur en in 1908 twee medaljes verower.

Die sportlui het meegeding in sportsoorte soos atletiek (baan en veld), fietsry, swem, gimnastiek, gewigstoot, stoei, skermkuns, skiet en tennis.

Maar eintlik stam die Olimpiese Spele uit die antieke Griekse religieuse fees ter ere van die godheid Zeus wat elke vier jaar by Olimpia aan die Peloponnesiese Skiereiland plaasgevind het. Die oudste bewyse hiervan dateer uit 776 v.C. Die datum is gegrond op inskripsies van die lys van die wenners by Olimpia elke vier jaar vanaf daardie jaar. Tog word daar volgens legende vertel dat dit veel verder terugdateer. Hercules, seun van Zeus en die menslike vrou Alcmene, het glo die Spele begin.

Aanvanklik was dit slegs ’n wedloop, maar oor die jare is ander sportitems bygevoeg soos die diaulos (vandag se 400 m-resies), die dolichos (1 500 m- of 5 000 m-resies), strydwa-resies, boks, stoei en die pentatlon (bestaande uit verspring, diskus en spiesgooi, ’n voetresies en stoei gekombineer). Die jong mans het dan naak deelgeneem om die skoonheid van die menslike liggaam te vier.

Die laaste Spele het volgens bronne plaasgevind aan die einde van die vierde eeu, toe keiser Theodosius II bevel gegee het om alle Griekse tempels te vernietig. Eers weer in die 19de eeu het dié gebeurtenis herleef as die moderne Olimpiese Spele.

’n Moderner era

Spyros Louis in die fustanella waarmee hy die marathon gewen het.

Die eerste moderne Spele het op 6 April 1896 begin, die dag waarop die Griekse Onafhanklikheidsoorlog van 1821 herdenk word, met die Olimpiese lied, geskryf deur die Griekse digter Kostis Palamas en met musiek van Spyros Samaras, wat toe die eerste keer deur die stadion weerklink het.

Die hardloop-items is in die stadion gehou, terwyl swem in die strome van die Baai van Zea gehou was. Die wenners in die verskeie afdelings het ’n silwermedalje ontvang saam met ’n olyftakkie en sertifikaat, terwyl die tweede plek ’n bronsmedalje, louriertakkie en sertifikaat ontvang het. Derde plek het geen medalje ontvang nie en dit is eers later deur die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) verander na goue, silwer- en bronsmedaljes vir die eerste drie wenners in elke afdeling. Die Grieke het die meeste medaljes verower (46) teenoor die 20 van die VSA in 1896.

Spyridon (Spyros) Louis was die bekendste Griek wat daardie keer ’n sport­item, die marathon, gewen het. Volgens die Griekse historikus Dimitris Masouris was Spyros geensins geïnteresseerd in die glorie nie. Sy motivering was om Helene, ’n meisie in sy tuisdorp, Marousi, noord van Athene, te beïndruk.

Hy’t die ander atlete uitgestof in 2:58:50 oor die 40 km Z marathons is eers in 1924 gestandaardiseer tot 42,2 km. Toe hy die eindstreep bereik, het 80 000 Griekse aanhangers in die stadion op hul voete gestaan om hul hardloper toe te juig. Wanneer Spyros sy euforiese oorwinning in herinnering moes bring, het hy teruggedink daaraan met die woorde: “Daardie uur speel steeds in my verbeelding af soos ’n droom . . . takkies en blomme het op my neergereën. Almal in die stadion het my naam geroep terwyl hul hoede deur die lug gevlieg het . . .”

Hy het ook opslae gemaak deur deel te neem in ’n fustanella, die tradisionele Griekse romp-uitrusting.

Die mooie Helene het daarna sy vrou geword.

Die Olimpiese Spele sou eers weer in 2004 – 108 jaar later Z na Athene terugkeer.

Ontwikkeling oor die jare

Eers in 1924 is meer as 100 vroulike sportlui toegelaat om deel te neem.

Oor die dekades is daar ook ’n afsluitingseremonie bygevoeg. Die Olimpiese fakkel is die eerste keer in 1928 in Amsterdam aangesteek en die fakkel-aflos is met die 1936 Olimpiese Spele in Berlyn ingestel. Die Olimpiese eed en vlag word vanaf 1920 gebruik.

Die vlag met sy vyf ineengeskakelde, gekleurde ringe verteenwoordig die vastelande van Noord- en Suid-Amerika, Asië, Afrika, Europa en Australië.

’n Hedendaagse besoek aan die Pa­n­athenesiese stadion

Die boogskiet-item het tydens die 2004 Olimpiese Spele in Athene in die Panathenesiese Stadion plaasgevind. Foto: Getty Images

Gelukkig kon ek en my reisgenoot in die voorgrendeltydperk in 2019 die imposante Pa­nathenesiese stadion in Athene besoek. Toe het daar toue toeriste gestaan om self te stap waar ander Olimpiese deelnemers voorheen was.

Jy betree die hoefystervormige stadion vanaf die besige Archimidousstraat oos van die Ardettos-heuwels, binne die Atheense metropool. Dit is die enigste stadion gerestoureer met wit marmer.

Aandenkingstalletjies herinner aan die gloriedae van die stadion in 2004 toe die boogskiet-item daar plaasgevind het en dit die eindpunt vir die Olimpiese marathon was.

Van hier is dit dan ’n stewige stappie van 20 minute na die Akropolis, mits jy nie langs die pad stop vir Griekse bevrore jogurt om jou af te koel nie.

Addisionele bronne: www.olympics.com; South Africa at the Olympic Games 1904-2021 deur Wessel Oosthuizen; International Association of Athletics Federations; The Olympic Marathon deur David E. Martin en Roger W.H. Gynn; Olympics at Sports Reference; Wikipedia; Greek Reporter.com; www.penn.museum; history.com; Brittanica; en www.olympics.fhw.gr.

Meer oor:  Griekeland  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.