Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Om duine soos teerpad te ry
Taye Perry in aksie op die sandduine. Foto: Verskaf

’n Boorling van die Oos-Kaap, wat vroeër vanjaar geskiedenis gemaak het toe sy die eerste vrou geword het wat ’n podiumposisie in die motorfietsafdeling van die Toyota Desert 1000-tydren in Botswana behaal het, het haar visier nou op die Dakar-tydren.

Taye Perry (27), ’n boorling van Oos-Londen wat deesdae in Rustenburg woon, maak gereed om een van die eerste vroue van Afrika te word wat aan die uitmergelende Dakar-ren se motorfietsafdeling gaan deelneem.

Soos Kirsten Landman (28) van Johannesburg, wat ook aanstaande jaar die Dakar op haar motorfiets gaan aandurf, het Perry in April vanjaar in die Afriquia Merzouga-tydren in Marokko vir die Dakar-tydren gekwalifiseer.

Taye Perry (27) mik om aanstaande jaar aan die Dakar-ren se motorfietsafdeling deel te neem. Foto: Verskaf

“Ek het verlede jaar besluit om aan die tydren deel te neem. Ek is op die kruin van my loopbaan en toe ek gekwalifiseer het, het ek geweet daar is nou geen omdraaikans nie,” het Perry gesê.

Vir dié kwalifiserende tydren het sy ’n blits-leerprogram in Namibië ondergaan, waar sy geleer het om die onvoorspelbaarheid van duine soos ’n teerpad te ry.

“Die vinnige leerprogram het baie gehelp, nou moet ek net die ure insit en my fiksheid vir die Dakar opbou.”

Perry is vol vertroue dat sy oor die vaardigheid beskik vir die tydren wat gewoonlik sowat 12 dae oor uitdagende terrein plaasvind. Die daaglikse roete beslaan tussen 600 km en 900 km. Taai. Maar dis nie so taai soos die geldsake om te kan deelneem nie.

“Net die inskrywingsgeld alleen beloop €16 500 (bykans R260 000) en my fiets (KTM 450 Rally Replica) sal sowat R500 000 kos.

“Om deel te neem is nie die probleem nie, dit is om daar te kom wat die uitdaging gaan wees,” skerts Perry.

Haar liefde vir motorfietsry het reeds op die ouderdom van 13 jaar begin toe sy ’n 80cc-motorfiets baasgeraak het. Ondanks die ontelbare kere wat die ysterperd haar afgegooi het, het sy weens haar kompeterende aard elke keer weer opgeklim.

Hoewel sy hoop om in die top-helfte van die mansdeelnemers te eindig, meen sy om net die ren te voltooi en skouers te skuur met die Spanjaard, Laia Sanz, een van die wêreld se top-vroue-motorfietsrenjaers, sal vir eers genoeg wees.

“Ek glo ek kan die Dakar voltooi. Die eerste tydren sal beslis ’n leerkurwe wees waarmee ek my volgende tydrenne sal verbeter.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.