Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Onnie wil help ná sussies se hut afbrand
Nici Smit, ’n onderwyser van die Laerskool Batho in Bloemfontein, vertroos ’n emosionele Griet Letsoara, ’n ma van vyf, wie se plakkershut verlede week in Batho, Bloemfontein, afgebrand het. Foto: André Damons

’n Laerskool-onderwyser van Bloemfontein het dit haar missie gemaak om twee van haar naaldwerkleerlinge te help nadat die gesin se plakkershut verlede week in die Batho-woonbuurt afgebrand het.

Sedert die hut van die gesin van Moleboheng Letsoara (13), ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Batho, afgebrand het, het Nici Smit, haar naaldwerkonderwyseres, reeds vir die gesin ’n paar matrasse, komberse, klere en ander huishoudelik items ingesamel.

Sy wil nou help dat die gesin weer hul eie blyplek kry.

Voor die brand het Moleboheng en haar sibbe, Frans (16), Pontso (9) en Pustuletso (3), op die grond geslaap.

Griet Letsoara, hul ma, sê die brand het die Woensdag omstreeks 23:55 uitgebreek toe iemand paraffien by hul deur ingegooi en die huis aan die brand gesteek het.

Griet Letsoara (met haar vier maande oue seun, Ethantan, op haar rug) wys vir Nici Smit, twee van haar kinders se naaldwerk-onderwyser by die Laerskool Batho, waar alles in hul plakkershut was voordat dit verlede week alles uitgebrand het. Foto: André Damons

“Ek weet nie hoekom hulle dit gedoen het en wat hulle gedink het nie. Dit voel ek kan huil. Ek is net dankbaar ons almal het veilig uitgekom,” sê sy.

Volgens haar het haar man, Johannes, wat as ’n veiligheidswag werk, wakker geword van die rook en die vlamme probeer blus.

“Ons kon nie die deur oopkry nie, want dit was gesluit en die vlamme was daar. Moleboheng het by die venster uitgeklim en ek het die ander kinders vir haar aangegee.

“Dit is baie sleg. My ander dogter (Pontso) huil die heel tyd en wil glad nie hier kom nie.”

Smit, wat ná skool ekstra naaldwerkklasse vir leerlinge aanbied, sê sy het vandeesweek van die brand gehoor toe Moleboheng vir haar gesê het dat haar en Pontso se lappies uitgebrand het.

Griet Letsoara (met haar vier maande oue seun, Ethantan, op haar rug) en Nici Smit, naaldwerk-onderwyser by die Laerskool Batho, stap rond op die plek waar die gesin se plakkershut afgebrand het. Foto: André Damons
Nici Smit, ’n onderwyser by die Laerskool Batho in Bloemfontein, vat aan een van haar leerlinge se uitgebrande skoolskoen.Foto: André Damons

“Ek het gesê dit is reg, ek sal vir hulle ander lappies gee. Ek het eers regtig besef hoe ernstig die brand was toe ek later gesien het dat sy ’n boektas met ’n ander leerling deel.

“Ek het haar uitgevra en sy het gesê hul hele huis het afgebrand. Ek het gesê sy moet my gaan wys. Dit was so hartseer. Daar was niks oor van die huis nie. Hulle het alles verloor,” sê sy.

Volgens Smit het sy gevoel sy moet help en sy het dadelik begin skenkings vra.

“Ons kla oor ons kos te koud is of omdat ons weer dieselfde goed moet eet, maar hierdie mense het alles verloor. Hulle bly nou by ander, maar moet Maandag uit wees. Dan trek hulle na ’n ander plakkershut toe.

“Dit baat nie ons samel al die goed in en hulle het nie ’n huis nie. Dit is my missie om kinders te help, dit is hoekom ek naaldwerk aanbied. Moleboheng en haar sussie is sulke lieflike kinders,” sê Smit.

Letsoara sê sy is dankbaar vir die hulp. “Ek kry nou meer as wat ek verloor het. Ek weet nie hoe om dankie te sê nie,” sê sy.

* Enigeen wat wil help, kan Smit by 071 285 7511 bel.

Meer oor:  Nici Smit  |  Hut Brand Af
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.