Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ons maand sonder plastiek
Fay het wegneemkoffie in haar eie beker gedrink. Foto’s: Fay van Eeden

Plastiekvrye Julie is ’n beweging waaraan miljoene mense oor wêreld heen elke jaar deelneem. Fay van Eeden en haar gesin het die uitdaging aanvaar om vir  ’n maand lank enkelgebruik-plastiek te vermy.

Oor die algemeen probeer ons as gesin om enkelgebruik-plastiek te vermy, maar hierdie Julie het ons vir onsself die uitdaging gestel om heeltemal plastiekvry te leef, en wat ’n uitdaging was dit nie!

Ons het aan die begin van die maand tien doelwitte gestel en op die 31ste die maand in oënskou geneem. Hier is hoe ons plastiekvrye maand verloop het.

Ons plastiekvrye maand het gelei tot tuisgemaakte skoonmaakmiddels, inkopies in glasbottels en lapsakke, gehekelde lappies in plaas van watte, tandeborsels van bamboes . . .

1. Weier die ‘groot vier’

Dit is bottels, strooitjies, wegneemkoppies en inkopiesakke.

Hoe’t ons gevaar? Ons het nooit nodig gehad om ’n strooitjie te weier nie, maar ons was reg daarvoor. Ons het strooitjies van vlekvrye staal gekoop.

Jy kan ook glas- en bamboesstrooitjies oorweeg.

Aan die plastiekbottelfront het ons nie so goed gevaar nie. Ons lus vir gaskoeldrank het ’n paar keer die oorhand gekry. Die paar keer dat ons wegneemkoffie gekoop het, het ons ons eie bekers gebruik. Met inkopiesakke het ons die swakste gevaar. Ons het die helfte van die tyd ons lapsakke by die huis of in die motor vergeet.

2. Plastiekvrye inkopies

Ons gaan geen produkte koop wat in plastiek verpak is nie.

Hoe’t ons gevaar? Ek het nooit gedink ek sal dit sê nie, maar ek het opgesien daarna om winkel toe te gaan. Dit was onmoontlik om by ons plaaslike supermarkte plastiekvrye inkopies te doen.

Daar is verskeie klein aanlyn ondernemings wat droë bestanddele, koffiebone, los tee en ’n verskeidenheid ander produkte in glasbottels, papiersakke en selfs lapsakke verkoop. Ons ervaring was dat dié produkte nie soveel duurder is nie en die diens was baie goed.

Jy kan self seepblokkies vir jou skottelgoedwasmasjien maak.

3. Groente sonder plastiek

Ons gaan nie groente in plastieksakke of polistireen- of kleefplastiekverpakking koop nie.

Hoe’t ons gevaar? Hierdie doelwit was byna onmoontlik. Selfs die groente en vrugte by ons plaaslike groentewinkel en kosmarkte was grotendeels in plastiek verpak.

Waar ons kon, het ons los groente gekoop en dit in ons eie katoensakkie laat weeg, maar dit was ook nie altyd moontlik nie. Die inperking het ons baie gehelp. Omdat ons so min winkels moontlik wou aandoen, het ons ander moontlikhede ondersoek.

Ons het op ’n klein onderneming afgekom wat vars groente en vrugte in ’n houtkrat by ons kom aflaai het. Daar is heelwat sulke ondernemings.

Maak jou eie koejawelrol vir ’n snoephappie: Meng 2 koppies opgekapte koejawel, ’n ¼ koppie heuning en die sap van ’n halwe suurlemoen in ’n voedselverwerker. Smeer dit in ’n dun laag op ’n silikonvel en bak vir 2 uur in die oond teen 100 °C. Sny in repe en rol.

4. Vleis in ons eie glasbakke

Ons gaan ons glashouers gebruik wanneer ons vleis koop. Dit beteken geen polistireen- of kleefplastiekverpakking nie.

Hoe’t ons gevaar? Dié een was baie moeilik, dog vermaaklik. Op ’n dag is ek met ’n glashouer na ons plaaslike slaghuis. Die vrou agter die toonbank was meer as bereid om ’n paar kilogram wors in my houer te pak . . . Toe neem sy ’n paar pakke wors, skeur die plastiek oop en sit die wors in my bak.

Hierdie gehekelde lappies is ’n plaasvervangers vir katoenbolletjies om grimering te verwyder.

5. Snoep- en lekkergoed

Ons gaan nie snoephappies of lekkergoed koop wat in enkelgebruik-plastiek verpak is nie.

Hoe’t ons gevaar? Die meeste droë vrugte en lekkergoed is in plastiek verpak. Gevolglik het ons baie minder soetgoed geëet (wat nie noodwendig sleg is nie). Ons het ook ’n paar happies self gemaak en nou en dan ons soettand bevredig met lekkergoed wat in kartonboksies beskikbaar is.

6. Minder koop, meer kook

Ons gaan minder voorbereide etes koop en meer met vars produkte kook.

Hoe’t ons gevaar? Ons het dit so nege uit die tien keer reggekry. Wanneer ons misluk het, was dit weens swak beplanning. Sommige dae moes ek laatmiddag gou by die winkel stop.

Ons het gesonder geëet en minder kos gemors.

Sponsies en lappies by die kombuiswasbak het plek gemaak vir ’n bamboesborsel en skroplappies van sisal.

7. Oorskiet en toebies

Ons gaan nie oorskietkos en toebroodjies in kleefplastiek toedraai nie.

Hoe’t ons gevaar?

Ons het dit reggekry om geen kleefplastiek te gebruik nie, danksy beeswax wraps. Dié produk, wat van byewas gemaak word, bied ’n wonderlike alternatief tot kleefplastiek. Dit kan ook gevorm word met die hitte van jou hande en hergebruik word. Dit werk net so goed vir toebroodjies.

8. Plastiekvrye skoonmaakmiddels

Ons gaan plastiekvry skoonmaak.

Hoe’t ons gevaar? Dit was baie moeilik. Ons het ons skottelgoedsponse en -lappies vervang met produkte wat van bamboes en hout gemaak is. Ons het ons eie skoonmaakmiddels en skottelgoedmasjien-seepblokkies gemaak.

Hier lê nog baie werk voor.

9. Lapdoeke

’n Baba kan tot 6 000 weggooidoeke gebruik, so ons het besluit om minstens twee lapdoeke per dag te gebruik.

Hoe’t ons gevaar? Dis makliker as wat ’n mens dink, maar dit verg ekstra werk. Met ’n 11 maande oue dogtertjie in die huis het ons slegs by een lapdoek per dag uitgekom – 31 minder weggooi-doeke op die vullishoop.

10. Plastiekvrye skoonheidsorg

Geen plastiek in die badkamer en opsmuklaai nie.

Hoe’t ons gevaar? Die vloeibare seep in ons stort en by ons wasbak het plek gemaak vir koekies gliserienseep. Ons gebruik nou tandeborsels van bamboes en oorstokkies van herwonne papier.

Ek het die katoenballetjies waarmee ek my grimering verwyder, vervang met gehekelde lappies wat gewas en weer gebruik kan word. Ons kan nog sjampoe-koekieseep, tandepastapoeier en menstruele koppies oorweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.