Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Oom Neels kweek liefde vir oefen in parkie
Oom Neels Swanepoel (78) soos sportsterre en kinders hom al dekades in sy parkie in Dan Pienaar, Bloemfontein, leer ken het – met 'n stophorlosie om die nek. Foto's: Mlungisi Louw

Van die land se grootste sportsterre soos die Protea-krieketkaptein Hansie Cronjé en die sterk Springbok-flank André Venter het hul eerste treë na groot roem in oom Neels Swanepoel se oefengroep in ’n parkie in Bloemfontein gegee. Charles Smith en die fotograaf Mlungisi Louw het gaan inloer waar een van die land se fiksste oupas ná amper drie dekades mense steeds vir oefen lief maak.

“Hierdie baadjie het Hansie nog vir my gegee. Ja, dis toe hy nog vir die Vrystaat gespeel het . . .”

Oom Neels Swanepoel (78) dra die Groen-en-oranje met trots waar hy met sy stophorlosie in die hand ’n ogie hou oor ’n groepie kinders wat in die parkie oorkant sy huis in Toon van den Heeverstraat, Dan Pienaar, oefen.

Oom Neels verdien omtrent erekleure in afrigting en motivering.

Hy het oor die jare al 12 Springbokke en verskeie ander provinsiale sportlui hier fiks gekry.

Hy was ’n ruk die Griekwas se fiksheidsafrigter en het nog klere wat Victor Matfield vir hom gegee het toe hy Bulle toe is.

“Dit hang oor my knieë. Ek slaap daarin.”

Die dag toe die ou toppie hom by die Griekwas aanmeld, was André Markgraaff, die afrigter, baie skepties. Hy het gereken die spelers is fiks, maar oom Neels het gesê die klomp gaan dit nie maak nie.

Ná 20 minute was dit net Albert van der Berg wat nog op sy voete was.

Markgraaff sê in ’n brief oom Neels het ’n integrale rol in die sukses van die Griekwas se rugbyspan in 1998 gespeel. “Vanweë die hoë vlakke van fiksheid en spoed kon ons die Vodacom-beker wen en as semifinaliste in die Curriebeker eindig.”

André Venter sê oom Neels het sy potensiaal as rugbyspeler vroeg geïdentifiseer en dit het tot sy insluiting as Springbok in 1996 bygedra.

Oom Neels Swanepoel hou toesig terwyl die kinders die muurloop doen – kop onderstebo met hul hande op die grond en voete bo teen die muur.
Oom Neels Swanepoel hou toesig terwyl die kinders opdrukke op die mat in die parkie doen. Foto: Mlungisi Louw
Anjorie Ackerman (16) van die Hoër Meisieskool Oranje oefen al lank by oom Neels Swanepoel en kon voel hoe sy fikser en sterker word. Foto: Mlungisi Louw
"Pypies hardloop" is oom Neels Swanepoel se unieke oefening waarmee atlete fiks word. 'n Span trek en stoot die raamwerk volspoed oor die gras. So word fiksheid en beenspiere geoefen.Voor hardloop Carlo Lusardi. Foto: Mlungisi Louw

Dis egter in die parkie oorkant sy huis waar hy kinders lief maak vir oefen.

Kinders so jonk as vyf kom hardloop elke middag saam.

“Mooi, Poplap, mooi!” moedig hy klein Ria Steyn (6) aan wat skaars ’n paar bakstene hoog is.

“Riatjie, voel jy ’n bietjie dat hy jou beentjies werk?”

Sy en haar boetie, Joubert (9), is deel van ’n spannetjie op ’n apparaat van pyp wat oor die gras gesleep word deur een kind wat voor draf.

Die ander spanmaats stoot van agter. Hulle praat van die apparaat as “pypies”.

“Jy moet stoot, Seun, stoot!”

Joubert is in gr. 3 aan die Laerskool Willem Postma. Hy en sy sussie is nuwe oefenmaats in oom Neels se groepie. Die stad was altyd vol kinders met T-hempies aan waarop “Oom Neels se speelgroepie” gestaan het.

Joubert gesels land en sand so tussen die hardlopery en opdrukke deur.

“Ek het gisteraand by my maatjie oorgeslaap. Dis my gunsteling-maatjie. Nee, hy oefen nie. Sy been is gebreek,” sê hy.

Die optrekkoning. Oom Neels Swanepoel het oor 25 jaar reeds meer as 317 000 optrekke gedoen. Hy doen dit elke dag van sy lewe. Dit is wat hom op 78 so fiks hou.
Oom Neels se 317 000 optrekke in 25 jaar

Die kinders draf as oom Neels hulle vra om “jumpies”, “leertjies”, “pypies” “hangleer”, “kraploop” of “muurloop” te doen. Almal wil hier wees. Oud en jonk, seuns en meisies, is almal gelyk. Elke oefening word met ’n glimlag gedoen.

“In hierdie parkie het ek omtrent 12 Springbokke grootgemaak, maar hulle kry ek so op o.18-vlak. Ek het baie outjies gehad wat ek van heel onder gekry het. Hier is ’n meisie, Mia, wat die tweede dag hier is en sy gaan nou sterker word.”

Van die kinders is ’n bietjie oorgewig en ouers sê hulle doen niks by die huis nie. Dit is ook ’n feit dat ouers nie hul eie kinders kan afrig nie, want kinders luister nie na hul ouers nie.

Hy wys na Stef Ackerman (18), kaptein van Grey-kollege se waterpolo-span, wat oral voor draf.

Stef sê hy doen dit vir die adrenalien en die band wat hy met die ander kinders smee.

Hy geniet dit om die nuwe kinders aan te moedig.

“Dit gaan oor die individuele aandag wat jy kry. Dis iets anders as gewone afrigters. Dis al die kennis wat hy oordra. Toe ek in die middel van verlede jaar hier gekom het, het ek 82 kg geweeg, en ek weeg nou 92 kg. Dis net spiere, ja. Skoon spiere.”

Só word 'n regte opdruk gedruk. Stef Ackerman (18), kaptein van Grey-kollege se waterpolo-span, wys hoe jy jou arms vorentoe skiet as jy besig is met 'n opdruk. Hy het 10 kg spiere bygekry vandat hy by oom Neels oefen. Foto: Mlungisi Louw

Oom Neels beaam wat Stef sê.

“Hy kom by my en sê hy word moeg, hy kan nie sy arms lig nie. Hy is jaar by my en nou kan hy die bal met gemak hanteer.”

Hy het in 1995 hier by sy huis ingetrek. Op sy dogter se verjaardag op 25 September van dié jaar het hy begin om optrekke met ’n apparaat in sy motorhuis gedoen. Hy het elkeen getel.

Vandag het hy al 317 000 optrekke oor die 25 jaar gedoen. Dit is 300 per week en amper 13 000 per jaar.

Nadat hy prostaatkanker gekry het, het hy dit rustiger begin vat.

“Toe ek op 74 ’n heupvervanging kry, vra dr. Werner van der Merwe, die ortopeed, vir my: ‘Jy wil seker weet of jy nog kan oefen.’ Ek sê ja, my heup hang mos net. Hy sê: ‘Ja, gaan maar aan . . .’ ”

Anjorie Ackerman (16), gr. 10-leerling van die Hoër Meisieskool Oranje, oefen al twee jaar by oom Neels. Sy geniet elke oomblik.

“Ek wil aktief bly en ’n bietjie uitkom. Dis lekker. Dit is ’n rustige atmosfeer hier.”

Almal klap hande vir Mieke van Staden (7), een van die jongste deelnemers, wat ook die muurloop voltooi. Sy draf trots weg.

“Mooi, Poplap!” sê die baas van die parkie.

Hansie klop aan vir sterker arms

Oom Neels vertel van die dag toe Hansie Cronjé met ’n BMW Z3 hier by hom stilgehou het.

“Hy sê hy gaan see toe oor drie dae, hy en Berta. Ek sê jy kan mos nie met die ding ry nie. Jou knieë steek verby jou ore.”

Die volgende dag stop hy daar met ’n 7-reeks BMW. ’n Maroen motor. BMW het hom toe geborg.

“Ek sê ja, man. Dis hoe jy see toe ry, met só kar. Die Z3 is vir Sondagmiddae en dan waai jy vir die ouens. Dit is mos ’n see-kar daardie.”

Hy vertel hoe Hansie by hom kom aanklop het omdat die kolf “te swaar” geword het as hy ’n lang beurt vir die Proteas gekolf het.

“Ek het gesê dis nie die kolf wat te swaar is nie, jou arms is nie sterk genoeg nie.”

Hansie wou hom nie glo nie, maar oom Neels het hom laat toue klim tot sy arms sterk genoeg is.

Oom Neels is ’n rukkie stil.

“Hy was ’n fantastiese mens. O, jong.”

Hoe het hy gevoel die dag toe hy die nuus van Hansie se dood kry?

“O, jong, ek was down en out. O, dit was verskriklik. Ek was toe nogal in die gim toe hulle my sê. My swaertjie bel my en sê Hansie is dood in ’n vliegongeluk. Ek was ’n wrak. Jis, daai outjie . . .”

Met Hansie se pa, Ewie, se dood onlangs het al die pyn weer na vore gekom. Hy en Ewie was groot vriende en het ook saam by die Universiteit van die Vrystaat (UV) se sportafdeling gewerk.

Selfs kleintjies so oud as vyf jaar kom oefen saam in oom Neels se parkie. Mieke van Staden (7) oefen al jare saam met oom Neels Swanepoel se groep.
Die koelste oupa in die land

Mieke Simkin (12) sê sy oefen al by haar oupa vandat sy drie jaar oud is.

Sy dink hy is koel, want nie baie kinders se oupa kan meer optrekke en push ups doen as hulle nie.

“Dis baie lekker. Hy leer ons om sterk te wees.”

Wat leer hy jou nog?

“Hoe om vingerbord te speel.”

Verneuk hy ’n bietjie?

“Ja..”

Sy kraai van die lag.

“Ons mag net nie speel as hy slaap van 14:00 af nie.”

Haar boetie Charl oefen ook al vandat hy drie is by Oupa.

“Dis lekker, want ek wil sterk word. Ek wil eendag goed krieket speel. Ek wil soos Faf du Plessis speel.”

Sy lekkerste oefening is die “pypies”.

Oupa Neels roep almal bymekaar. “Armpies uitsteek . . .”

Die groepie lê op die mat. “Vat die kniekies vas, rol deur tot op die boude.

“En agt, en nege, en tien . . .” tel oom Neels.

Die kinders rol en strek en oefen.

Daardie ou wat verbydraf, is Vic de Bruyn, die hoofstaatsaanklaer, wys oom Neels.

“Hy kom eendag hier aan met ’n fiets. Ek sê oefen saam. Hy vra kan hy? Ek sê ja, natuurlik.”

Die volgende dag kom hy styf-styf aangestap. Hy sê: “Oom, jou bliksem . . .!”

Oom Neels kry weer sy groepie aan die gang.

“Die ouens wat hangleer kan doen, gaan doen hangleer. Die ander ouens doen matjies.”

Die klomp hardloop vir die oefen-apparate.

“Dis die lekker van die joppie. Jy sien die vordering van die outjies”

Van die kinders doen ’n krap-lopie, ook die klein blonde meisietjie.

“Riatjie, het jy dit ook gedoen? Mooi, Poplap. Baie mooi. Kyk nou net hoe goed doen jy dit . . .”

En doer trek klein Riatjie volspoed agter die ander kinders aan op oom Neels se parkie met haar bokstertjie wat wip-wip.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Parkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.