Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Op amper 90 steeds op ’n drafstappie

Tannie Betté van der Merwe was nog nie eens op skool nie toe sy eendag ’n briefie opgetel het met die versugting: “As ek tog net self kon lees wat hier staan!”

Tannie Betté van der Merwe by die trollie vol plakboeke wat sy oor die jare gemaak het. Foto: Siska Martin

Sedert sy leer lees het, het sy nog nooit opgehou nie.

Op 89 is haar houding nog fier en regop. Sy is ’n lang vrou wat nog met ’n drafstappie loop en deftig in swart geklee is. Haar hare is netjies gekap en haar gesig gegrimeer. Dié netjiese vrou is ’n jong amper 90-jarige wat glad nie haar jare lyk nie. En ná al die jare het sy nog ’n passie vir nuus.

Sy het as kind in hul huis in Oudtshoorn en later as leerling aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch getrou elke dag Die Burger, susterkoerant van Volksblad, gelees.

Nadat sy in 1946 matriek geslaag het, het sy verpleegopleiding aan die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein ondergaan. Hier het sy natuurlik Volksblad gelees. Ná vier jaar se opleiding is sy aangestel as suster aan die Meisieskool Oranje, danksy ’n advertensie wat sy in die dagblad gesien het.

In 1953 is sy met Gert van der Merwe, ’n boer van Trompsburg, getroud. Op die plaas Donkerpoort het sy Volksblad net naweke gekry omdat hulle ver van die dorp gewoon het.

Ná ’n kuier van haar ouers het haar ma vir haar elke Vrydag die hele week se uitgawes van Die Burger gepos. “Sy het dit tot met haar dood gedoen,” sê tannie Betté.

Kort ná haar troue het sy haar by die Vrystaatse Vroue-Landbou-unie (VVLU), asook die destydse Oranje-Vrouevereniging (deesdae Vrystaat-versorging in Aksie) en die Vrouesendingbond aangesluit.

Sy is reeds 64 jaar lid van die VVLU en het nog nooit ’n vergadering of kongres misgeloop nie. Juis in haar termyn as voorsitter van die plaaslike tak is die plan vir ’n huis vir bejaardes in Trompsburg gebore. Die NG Kerk het dié projek eindelik voltooi.

Ná haar man se dood het sy nog tien jaar op Donkerpoort voortgegaan met hoofsaaklik skaapboerdery voordat sy haar op die dorp gevestig het.

Tot onlangs was tannie Betté nog by die ouetehuis betrokke deur haar weeklikse nuusbesprekings daar. Sy het deurlopend berigte in die koerant uitgeknip en die inwoners Woensdae om 10:30 gaan besoek om oor die nuus van die dag te gesels.

En ons het báie gelag. ’n Goeie humorsin is mos soos ’n wapenrusting wat jou in enige situasie beskerm.

“Almal wou altyd eers ’n grappie hoor. Só het ek twee grapboeke gekoop en oral na grappies gesoek om die besprekings mee te begin en af te sluit.

“Ons het saam besluit ons moet weet wat aangaan. Elkeen kon sy mening gee en dit was ongelooflik interessant om elkeen se reaksie te hoor. Ons het van die huwelik in Engeland tot seksskandale bespreek – alles onder die son.

“En ons het báie gelag. ’n Goeie humorsin is mos soos ’n wapenrusting wat jou in enige situasie beskerm.”

Sedertdien het haar seun, dr. Gerdrie van der Merwe, gesê sy moet rustiger raak. “Hy het my hartspesialis toe gevat wat niks fout met my kon kry nie. Hy het net gesê: ‘Tannie, jy moet net nie jou reserwekrag opgebruik nie!’ ”

Maar nog is sy nie klaar met haar selfopgelegde taak om ’n verskil te maak waar sy gaan nie. Met die opening van die nuwe Alfred Nzula-hospitaal in Trompsburg het sy ook haar dienste gaan aanbied.

“Ek het besluit ek gaan maatskaplike werk in die hospitaal doen – my druppel aan die emmer vir die rassesaak.”

So het sy reeds vanjaar ’n klere- en ’n speelgoedbank vir die hospitaal begin. “Misdaadslagoffers se klere word geneem as bewysstukke en dan het hulle niks om aan te trek nie.” Sy neem ook gereeld tydskrifte om in die wagkamer neer te sit.

Meer oor:  Kontrei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.