Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Op die loopplank

Klere weerspieël ’n tydgees, soos gesien kan word op die internasionale modeweke wat te midde van die Covid-19-pandemie gehou word.

Milaan se modeweek was ook ’n viering van Italië se terugkeer na die “nuwe normaal” ná ’n moeilike stryd teen Covid-19.Foto’s: AP

Wanneer ons eendag terugdink aan 2020, sal sweetpakke waarskynlik onthou word as die groot mode-artikel van die jaar – ’n inperkingsuniform en die móét-hê-item in jou werk-van-die-huis-af-klerekas.

Maar namate die wêreld aanpas by die omstandighede wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, keer ook die modewêreld terug na ’n “nuwe normaal”.

Die vier groot modestede – Milaan, Parys, New York en Londen – hou almal vanjaar modeweke.

Waar dié groot geleenthede in die verlede hoogtepunte op talle mense se sosiale kalender was, is dit in die “nuwe normaal” aangebied as ’n kombinasie van werklike en virtuele geleenthede.

New York s’n was hoofsaaklik virtueel en in Londen en Milaan was dit ’n kombinasie van kleiner byeenkomste en aanlyn vertonings. In Parys word intieme vertonings beplan.

Die titsel glans het teruggekeer teen die agtergrond van die pandemie, wat ook die modebedryf geknou het. Daar was verskeie afleggings in die bedryf en daar is minder geleenthede vir grimeerkunstenaars en haarkappers om as vryskutte by modeweke betrokke te wees. Ontwerpers stel hul nuwe reekse bekend in ’n wêreld wat sy asem ophou (en sy beursie toeknyp) te midde van stram ekonomiese omstandighede.

’n Model in ’n framboospienk skepping van Daniela Gregis met speelse skoene daarby.

En met verskeie internasionale reisbeperkings kon van die voorste internasionale modelle nie op die loopplank verskyn nie.

Die keersy? Die besef dat dit goedkoper is om ’n virtuele modevertoning aan te bied, kan dit vir kleiner ontwerphuise moontlik maak om in die toekoms ook tot dié eksklusiewe modeweke toe te tree. En geleenthede is vir plaaslike modelle geskep om die loopplank te betree.

Vanjaar se ontwerpe is sterk beïnvloed deur die veranderende tydgees. Soos Roksanda Ilincic, die Serwiese ontwerper wat uit Londen werk, dit stel: “Wat het vroue nou nodig? Vir wie ontwerp ons? Waar gaan hulle dit dra? Hoe kan ek my klere relevant laat voel in die sfere waarin ons nou leef?”

Die tema van die Italiaanse modehuis Fendi se vertoning was “familie” en uitnodigings is afgelewer saam met bokse pasta en die ontwerper Silvia Venturini Fendi se ouma se resep vir suurlemoenpesto.

Vat dit kop toe . . . Vien se lente/somer-reeks vir 2021 wat in Milaan vertoon is.
Dié uitrusting deur Max Mara toon een van die neigings vir die nuwe seisoen: sagte, wye langbroeke met some wat op die vloer sleep.
Gemaskerde grimeerkunstenaars bring die laaste titsel poeier aan voor modelle die loopplank betree. Foto: AP

’n Gesamentlike vertoning deur die Italiaanse ontwerper Miuccia Prada en die Belg Raf Simons is aanlyn gestroom. Modelle het ontwerpe vertoon teen ’n affodil-geel agtergrond en Prada en Simons het agterna vrae beantwoord wat van oor die wêreld heen ingestuur is.

Die ontwerpe was eenvoudig, verfyn en geskik vir alledaagse dra – wêrelde verwyder van die soms uitspattige haute couture wat dikwels die kenmerk van dié modeweke is.

Kleure op vanjaar se modeweke het gewissel van bedeesde swart, grys en wit tot framboospienk, dieporanje en kobaltblou.

Die paar gaste wat wel vertonings bygewoon het, het stylvolle maskers gedra. In baie gevalle het gaste minder getof, met Carine Roitfeld, voormalige redakteur van die Franse uitgawe van Vogue, wat vertonings in jeans en ’n T-hemp bygewoon het.

Dolce en Gabbana het oorskietlap van vorige seisoene gebruik om die omgewingsimpak van hul vertoning te versag.

Die Skotse ontwerper Chris­topher Kane meen egter daar is niks mee fout om in dié tye ’n ietsie blinks te dra nie. “Ons het nou meer as ooit tevore nodig om goed te voel oor onsself. Ons het meer vreugde nodig!”

Of, soos The New York Times skryf: “Hoewel skoonheid nie ’n oplossing is nie, kan dit ’n salf wees.” – CNN, Evening Standard, The Guardian, The New York Times

Van die voorste neigings wat op die Londen-modeweek opgemerk is, is:
  • Langbroeke wat ’n stelling maak, met oorgroot silhoeëtte, hoë middels en some wat op die grond sleep.
  • Alle variasies van krae: van vloot-geïnspireer, koloniaal en formeel tot sag en romanties.
  • Kort toppies, maar nie die soort wat tieners dra nie. Die idee is ’n stylvolle toppie, gekombineer met ’n wyepypbroek met ’n hoë middel.
  • Stylvolle pajamadrag, soos hemde, broeke en kamisole van sagte sy en kimono’s of kaftans.
  • Groen was ’n gewilde kleur, met skakerings van appel, pistasieneute en lemmetjies.
  • Klere wat ’n gesonde sosiale afstand afdwing. Dink aan oorgroot klere met pofmoue en uitskoprompe, wat dit vir gaste by ’n skemerkelkie moeilik maak om te na aan jou te kom . . .


    Meer oor:  Covid-19-Pandemie  |  Covid-19  |  Mode
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.