Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Op ’n bergfiets deur Suid-Afrika

Met geleenthede ingeperk weens die Covid-19-pandemie het twee Kapenaars besluit om ’n goeie daad te verrig en met bergfietse van die Waterfront tot in Limpopo gery, skryf Sarie Marais-Nell.

Johan Janse van Vuuren en Peter Pittendrigh is al 15 jaar lank goeie vriende. Hulle het as studente by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie ontmoet, waar hulle albei toerismebestuur studeer het.

Janse van Vuuren het in Hazyview grootgeword en Pittendrigh in Tzaneen. Albei bly deesdae in Kaapstad en is groot avonturiers.

Toe die geleentheid hom dus voordoen om 2 200 km van die Kaapse Waterfront tot in Limpopo binne 26 dae af te lê, het hulle nie gehuiwer nie. Terugskouend meen hulle dis dalk nie so ’n slim plan om die hele avontuur binne net tien dae te beplan nie!

Janse van Vuuren (32), ’n professionele berggids “wat op Tafelberg boer”, beplan lankal ’n marathon-drafsessie oor die Bolandse berge, deur die Karoo, Vrystaat en Noordwes tot by die Botswana-grens.

Pittendrigh (34) was voorheen die bestuurder van ’n toerismemaatskappy wat luukse safari-pakette bemark. Hy wou nog altyd met ’n buitelugaktiwiteit geld vir minderbevoorregtes insamel.

Johan Janse van Vuuren en Peter Pittendrigh op hule avontuur wat in die Kaapse Waterfront begin het en 26 dae later in Limpopo geëindig het . . . al die pad op ’n bergfiets!

Toe inperkings weens die Covid-19-pandemie die twee skielik werkloos laat, het hul drome vir ’n avontuur weer opgevlam.

Die finale besluit oor ’n vertrekdatum vertel hulle, is in Augustus oor Stephanie, Janse van Rensburg se vrou, se verjaardag-ete van pizza en dalk ’n glas wyn te veel afgespreek: 2 September. Dit het slegs 10 dae toegelaat vir die soek na broodnodige borge, navorsing vir die aangewese roete en oornagplekke. En geskikte bergfietse.

“Toe ek my werk verloor, het ek my eie toermaatskappy Map2africa.com gestig saam met Marietjie Thomas en Bonnie Cable, vroeëre kollegas,” vertel Pittendrigh.

Omdat sy vrou, Hanlie, voorheen as vrywilliger vir die Muizenberg Surf-stigting gewerk het, het alles vir die twee vriende in plek geval. “Ons sou die 2 200 km aanpak en fondse vir die Surf-akademie insamel, want inperkings het hulle ook hard getref.”

Janse van Vuuren het blyplek help reël, asook fietsnommerplate: yourmap2africa vir Pittendrigh en @ranger_byfoot vir homself. Dit is ook die name van hul onderskeie ondernemings wat mense op Instagram kan volg.

Hul volgende uitdaging? Fietse.

Janse van Vuuren het nie ’n bergfiets gehad nie, maar Pittendrigh het vir hom ’n vroue-bergfiets geleen gekry.

Boonop het Janse van Vuuren jare laas fiets gery.

Die twee het vooraf op ’n 20 km-roete geoefen.

Pittendrigh se fiets dateer uit sy geboortejaar – 1986 – met die aluminium-rakke wat nog deur ’n vorige eienaar, ’n Bolandse wynmaker, vasgesweis is.

Die twee avonturiers het ’n borg gekry en terselfdertyd ’n GoFundMe-inisiatief van stapel gestuur om geld vir die Muizenberg Surf-stigting in te samel.

Op 2 September, tydens ’n hewige reënstorm, vertrek hulle toe uit die Waterfront vir die eerste skof van 87 km. Binne die eerste twee sopnat dae oorwin hulle die Bainskloof-, Mitchells- en Nuweveldbergpas – en moet Janse van Vuuren reeds op Ceres ’n fisioterapeut raadpleeg vir “knie-olie”.

Teen die derde dag kóú die Theronsbergpas buite Ceres hul spiere terwyl hulle weet die kwaai Verlatenkloofpas wag buite Sutherland. Daardie nag slaap hulle in die reën in hul tente langs die pad, met hul families wat hulle oorhoeks stres oor die twee se veiligheid. Hierdie gekampeer in die buitelug raak egter deel van hul lekkerste herinnerings.

“Wat ’n belewenis toe ons ná die Verlatenkloofpas in die donkerte, onder sterrelig, op Sutherland arriveer. Verder was die veranderende landskappe wat ons per fiets beleef het, asemrowend – die Oranje- en Vaalrivier en die afsluiting by die Limpoporivier. Heeltemal anders as motorritte waar mens verby plekke swoesh!” vertel hulle.

Langs die pad was daar dikwels fietsprobleme wat vinnig opgelos moes word of blitsige besluite oor ’n roete wat moet verander.

Afwykings van die beplande roete is meestal gegrond op die weersomstandighede, hul beskikbare tyd en om rytyd op grondpaaie te verminder.

“Ons fietse was nie bestand teen al die grondpaaie nie. Dan moet Marietjie vinnig ons akkommodasiereëlings by die nuwe roetes aanpas. Haar hulp was vir ons goud werd,” vertel Janse van Vuuren.

Terwyl hulle die N1 probeer vermy het, tref hulle toe vreeslike windstorms op die N12. Toe hulle ’n sekere driedagroete uitsny, verval ’n oornagpunt wat Pittendrigh dolgraag wou besoek. Albei moes langs die pad opofferings maak wat hul uithouvermoë, gees en vriendskapsbande sou uitdaag.

“Ons hét twee keer baklei! Maar dit was nodig, dit het die lug gesuiwer,” vertel hulle.

En toe, op dag 20, kry Janse van Vuuren ’n werksaanbod wat sou beteken dat hy moes omdraai.

Pittendrigh het tevergeefs gesoek vir iemand wat in dié laat stadium van die avontuur by Janse van Vuuren kon oorvat.

’n Stilhouplek langs die pad en twee fietse wat ’n lang storie kan vertel.Foto’s: Verskaf

Janse van Vuuren het egter besluit om vas te byt en enduit te trap. “Daar was soveel ondersteuners en gawe gastehuiseienaars wat ons tot hier gehelp het, hoe kan ek alles net so los? Ek móét die roete voltooi,” was sy besluit.

Ná 20 agtereenvolgende dae in die saal, neem hulle toe ’n noodsaaklike ruskans.

“Ek vaar altyd sleg as ek eers gerus het,” besef Janse van Vuuren hierna. En dit terwyl Pittendrigh opnuut stres omdat sy fiets se raam teen daardie tyd reeds op vier plekke gebreek het en sy agterwiel gevaarlik wikkel . . .

Vriende by wie hulle in Hartbeespoort oornag, gee toe raad oor hoe om grondpaaie en die bedrywige Hammanskraal-omgewing noord van Pretoria uit te sny. Goue wenke, besef hulle op die tweede laaste dag van die reis, onderweg na die Platjan-gastehuis in Alldays, Limpopo.

Toe hulle op dag 26 hul mikpunt by Pontdrif op die grens met Botswana bereik, is hulle ekstaties: “Ons het dit gedóén!”

Met rugsakke wat ongeveer R100 elk gekos het, Covid-19-geïnduseerde leë beursies en seer lywe wat heeltyd bestuur moes word, het die besef hulle getref: “As ons dit kon voltooi, kan enigiemand anders dit ook doen!”

Al het die jel-saal wat Janse van Vuuren vanaf Ceres uitgetoets het, “eintlik net die pyn rondgeskuif”.

Janse van Vuuren het langs die pad 6 kg verloor, terwyl Pittendrigh se gewig dieselfde gebly het.

Pittendrigh erken hierdie tiendae-kennisgewing voor die aanpak van die groot avontuur is tipies van sy effens impulsiewe geaardheid. “Sou ons avontuur soveel anders verloop het as ons langer kon voorberei?”

Ondervindings wat uitstaan is die moeilike dae toe hulle 160 km en 180 km moes ry.

“Dan raak die laaste 2 km dié grootste uitdaging. En die aande wanneer ons ouers so gestres het – toe ons onder die sterre gekamp het op vreemde terreine!”

Het hulle ooit onveilig gevoel? Die twee sê hulle was nooit bang vir mense nie, maar op paaie in Noordwes en Limpopo het bakkies, busse en taxi’s “gevaarlik naby” aan hulle gery.

“Ons het baie by mekaar en van onsself geleer. Ons besef ook nou ’n mens moet jouself net dwing om ’n ideaal deur te voer, al lyk omstandighede geensins ideaal nie.

“Ons sal dit graag weer doen . . . Dalk op ’n ander manier, gekombineer met ander aktiwiteite soos draf en bergklim.”

Immer op soek na die volgende avontuur . . .

'n Goeie doel
Die Muizenberg Surf-stigting is gestig deur Shaun Solomons, wat self uit moeilike omstandighede kom en begrip het vir probleme wat kinders uit agtergeblewe gebiede moet trotseer. Solomons bied ’n nasorgdiens met gebalanseerde maaltye en huiswerktyd aan kinders. Hy leer hulle sosiale vaardighede, ’n sin vir verantwoordelikheid en maak hulle waterwys. Volg die GoFundMeblad by https://map2africa.com/surf-2-africa/ of kontak Solomons by 071 364 4259.
Meer oor:  Toerisme  |  Bergfiets  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.