Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Op soek na my pa

Andreas Demetriou
Uiteindelik kon Brendan Kuhn*, links, se biologiese pa, Andreas Demetriou, kom kyk hoe sy seun in sy musikale voetspore volg.
Bykans ’n halfeeu nadat hy aangeneem is, het ’n musikant eindelik sy bio­logiese pa in die VSA opgespoor. Hy praat met Maryke Roberts oor sy soektog en die uiteindelike ontmoetings.

Brendan Kuhn* (49) is op tien dae oud aangeneem en het in Germiston grootgeword. Dit was gelukkige grootwordjare saam met ’n liewe ma, pa, broer en suster. “Maar ek het altyd gewonder waar ek vandaan kom,” sê hy.

Ná skool het hy by die lugmag aangesluit en is uitgeplaas Kaapstad toe.

“Ek het geweet my biologiese ma woon in die Kaap en het met my aankoms ’n aannemingsagentskap gevra om haar op te spoor. Ek het haar in daardie jaar in die Kaap baie goed leer ken. Sy’t my vertel van haar swaarkry toe sy as jong meisie onbepland swanger geraak het en dat sy nooit my pa van my vertel het nie. Hy was ’n Griekse musikant wat in 1970 by die Palmgrove-hotel in Margate opgetree het. Hulle het nie kontak gehou nie.”

Dis my geheim
In haar boek Dis my geheim vertel Juanita Aggenbach van die uitdagings wat sy ervaar het toe sy na haar biologiese ouers gesoek het.

Brendan het in die musiekwêreld ’n loopbaan begin bou – eers as lid van orkeste, toe in musiekproduksie. Uiteindelik het hy na Perth, Australië, verhuis om nader aan sy kinders te wees. Die soeke na sy pa het hom rusteloos gehou. Hy vertel: “Ek het ’n vriend hier, ’n pastoor, vertel van my soeke. Hy vra toe hoekom ek hom nie net google nie.” Hy het nooit daaraan gedink nie, want hy het nie veel geweet van sy pa geweet buiten natuurlik dat hy ’n musikant was wat daai tyd by die Palmgrove opgetree het nie.

“Ek het God vir ’n teken gevra en sowaar, toe ek dit google, het ’n hele klomp foto’s verskyn. Ek het op een vasgehaak: ’n klein swart-en-wit foto van vier mans. Die een man se oë het my opgeval en ek het net geweet dis hy. Ek het ’n skermfoto geneem en vir my biologiese ma gestuur, wat bevestig het dis hy. Toe begin die soektog. ’n Vriendin en haar suster het hom in Florida, VSA, opgespoor.”

Sy biologiese pa, Andreas Demetriou, het Perth toe gevlieg om hom en sy seuns te ontmoet. Hul band is sedertdien sterk en sy pa is ook ’n toegewyde oupa.

Sy pa se ouers het destyds van Ciprus na Zimbabwe verhuis, waar hulle vir jare gewoon en gewerk het. Toe dinge in Zimbabwe uitmekaar begin val, is hulle terug Ciprus toe.

Die volgende stap was toe om sy pa se Griekse familie te ontmoet. Hy is na Athene, waar sy halfbroer as ’n beeldhouer werk. Sy pa en nog twee halfbroers en ’n halfsuster wat almal in Amerika woon, het daar vir hom gewag.

Hulle is almal saam na Ciprus om sy ooms, tannies en grootouers te gaan ontmoet. “Almal was in trane, want ek lyk nes my pa toe hy jonger was en baie van ons handgebare en gewoontes is dieselfde. Ons stap selfs dieselfde. Almal praat Grieks – letterlik – en niemand kon verstaan hoekom ek nie saamgesels nie!”

Steeds was dit soos ’n tuiskoms. “Die ooreenkomste en sterk gene is ongelooflik. My een seun wil ’n beeldhouer word, soos my Griekse halfbroer, en my ander seun is baie musikaal, soos ek en my pa.

“Die hele ervaring was soos ’n film. Ek het my hele lewe gewonder oor hom en gewroeg of ek moet kontak maak en sy lewe omvergooi. Nou stuur ons elke dag vir mekaar stemnotas per WhatsApp en sien mekaar so gereeld moontlik.”

* ’n Skuilnaam is gebruik om die identiteit van sy biologiese ma te beskerm. Sy het nog nie haar verhaal aan nabye familie en vriende vertel nie.

Soek jou biologiese ouers
Die ou swart-en-wit foto van sy biologiese pa wat Brendan Kuhn met ’n internetsoektog opgespoor het.

Alle aanneem-inligting word deur die registrateur van aannemings in die departement van maatskaplike ontwikkeling in Pretoria gehou. Dit sluit in die biologiese ma se toestemmingsbrief; die aanneem­ouers se aansoek; die maatskaplike werker se verslag oor die aanneemouers en ’n verslag oor die biologiese ouers (waar beskikbaar). Volgens wetgewing kan biologiese ouers slegs toegang tot aanneem­dokumente kry as die aanneemouers en hul kinders toestemming gee. As hulle weier, kan die biologiese ouers hul kontakbesonderhede los om in die kind se lêer te plaas, sou die aanneemouers of kind in die toekoms van plan verander.

Aangenome kinders van 18 jaar en ouer mag hul biologiese ouers soek. Maar, beveel die ma-en-dogter-span Wilna en Amore Malherbe, albei maatskaplike werkers by die Wilna Malherbe-aannemingsagentskap in die Strand aan, dis goed om die proses saam met ’n maatskaplike werker aan te pak. Wilna sê: “Hierdie proses moet baie sensitief hanteer word, want (veral) aannemings voor 2005, wat as ‘nie-openbaarmaking’ bekend staan, kan baie wonde oopkrap.” Sy verduidelik dat ’n wysiging in die Kinderwet (Wet 38 van 2005) ’n openbaarmakingsopsie ingestel het, sodat die baba deur ouers van die biologiese ma se keuse aangeneem kan word, waar dit voorheen nie die geval was nie. Aanneemouers kan ook nou onder meer teenwoordig wees by die geboorte en die ma beter leer ken.

“Onderneem hierdie reis saam met ’n gekwalifiseerde kundige omdat dit baie emosioneel kan wees. Omstandighede het oor 18 jaar vir albei partye verander en baie biologiese ma’s – wat heel moontlik nooit die ingrypende gebeurtenis in hul lewe met enigiemand gedeel het nie – se lewens kan verwoes word as die proses onoordeelkundig hanteer word. Baie ma’s wil nie hul identiteit bekend hê nie en as daar skielik ’n biologiese kind aan haar deur klop, kan dit verreikende gevolge inhou – vir ma sowel as kind.”

Amore sê maatskaplike werkers is daagliks in aanraking met die registrateurskantoor. Lêers word nooit vernietig nie, maar aannemings van dekades gelede het gewoonlik baie min inligting in en dit kan moeilik wees om biologiese ma’s op te spoor.

’n Ná-aannemingsooreenkoms tussen die voornemende aanneemouers en biologiese ouers kan ook opgestel word en deur ’n maatskaplike werker bestuur word. Dit sluit foto’s en die bywerk van die baba se inligting in.

“Hierdie dokument moet omsigtig opgestel word, want aanneming is kragtens wet permanent. Uit ondervinding weet ek dit bring vertroosting en berusting vir biologiese ouers, wat weet dat hul kind versorg en gelukkig is,” verduidelik Wilna.

Dis my geheim

Andreas Demetriou toe hy destyds as musikant in Suid-Afrika opgetree het.

Juanita Aggenbach, wie se storie oor haar aanneming in die 1970’s, Dis my geheim, in 2012 deur Protea Boekhuis uitgegee is, sê: “Iemand by nasionale intelligensie het my ’n guns bewys en my biologiese ma se adres tydens geboorte opgespoor.

“Ek stem heelhartig met Wilna saam. ’n maatskaplike werker en berading is noodsaaklik. Ek was 21 toe ek die eerste keer in aanraking gekom het met my biologiese familie (in daardie stadium nog net my biologiese grootouers). Dit was ’n seer ontmoeting. Op 26 het ek die res van my biologiese families ontmoet, insluitende my ma en pa.

“Dit was ’n tuimelrit van goed en sleg. Ek sou nie emosioneel sterk genoeg gewees het op 18 nie en was selfs nie op 21 nie. Hoe ouer jy is of hoe meer emosionele volwassenheid daar is, hoe beter.”

Juanita Aggenbach gee die volgende raad aan kinders wat na hul biologiese ouers wil soek: “Sorg dat jy weet wie jy is voor jy begin soek. Moenie jou identiteit haak aan ’n onbekende persoon, wat jy hoop van jou sal hou nie. Die verwerpingslas waarmee jy rondloop, is ’n leuen. Hulle het jou nie weggegooi nie; hulle het jou ’n kans op ’n gelukkige gesinslewe gegee.

“Neem in ag dat hulle aanbeweeg het met hul lewe. Hulle het moontlik gesinne van hul eie, wat nie van jou bestaan weet nie – en dat daardie besluit nie noodwendig verkeerd was nie.

“Die idee met aanneming was dat jy ’n hoopvolle toekoms kon hê – moenie dink jou gelukkige toekoms lê in jou verlede nie. Om te weet hoe jou ma lyk en om te weet watter genetiese siektes dalk in jou gene is, maak nie jou toekoms helderder nie.”

Meer oor:  Aangenome Kind  |  Musikant  |  Pa  |  Soektog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.