Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Op vakansie met viervoet

As ’n vakansie eenvoudig nie pret is sonder jou beste vriend aan jou sy nie, is dié verblyf by plaaslike vakan- siebestemmings net die ding, skryf Delia du Toit.

Die Umzimkulu-oord in die Drakensberge is hemels vir viervoete wat lief is vir water.

Vir dié wie se honde deel is van die familie, is vakansies soms ’n stryd: jy wil graag reis en rus, maar daar gekom, bekommer jy jou gewoonlik oor Brakkanjan wat eensaam in ’n hondeherberg slaap, of jou sekerlik verwens omdat jy hom aan die diere-oppasser oorhandig het.

Gelukkig is daar deesdae al hoe meer dierevriendelike vakansiebestemmings om van te kies. Dié plekke is die perfekte oplossing:

Die Hartfell Farm bied hope oop ruimtes, staproetes en damme.

Hartfell Farm

Dié plaas, naby Dullstroom, lê tussen ’n groot, oop grasveld en ’n digte woud – die beste van albei wêrelde. Neem jou viervoet op stappies in die natuur of span uit langs een van die vyf foreldamme vir die dag. Daar is drie private kothuise, elkeen omring deur groot eikebome.

Vanaf: R350 per persoon per nag vir vier mense; R100 per troeteldier.

Kontak: hartfellfarm.co.za

Umzimkulu River Lodge

Al die eenhede by dié oord in die Ukhahlamba Drakensberg Park is etlike meter van die Umzimkulu-rivier en het asemrowende uitsigte.

Elke eenheid het ook ’n kaggel vir kouer aande, maar op warm dae is daar heerlike wateraktiwiteite waaraan jy kan deelneem, soos bootreise en visvang of jy kan met ’n trekkerbinneband teen die stroomversnellings af vaar.

Die eenhede is omring met ’n heining om jou hond veilig te hou, of neem hom saam op een van die 5 km-staproetes.

Vanaf: R900 per nag vir ’n eenheid vir twee mense.

Kontak: umzimkuluriverlodge.com

Blommekloof

Blommekloof is geleë in Leeukloof, ’n beeldskone vallei naby Ruiterbos in die voetheuwels van die Outeniquaberge. Op en om die plaas kan jy hengel, op staptogte gaan en jou vergaap aan die pragtige natuurlewe, maar Mosselbaai en Oudtshoorn is minder as ’n uur se ry ver as jy op soek is na ander doendinge.

Vanaf: R300 per persoon per nag.

Kontak: blommekloof.co.za

The Blue House in Stanford is luuks en steeds hondevriendelik.

The Blue House

Dié gerestoureerde Victoriaanse huis is in die historiese sentrum van Stanford. Daar is drie slaapkamers en ’n groot stoep en tuin waar die familie menige luilekker middae kan deurbring. Vir die wintermaande is daar ’n kaggel en snoesige kombuis en eetkamer. Jou hond sal veral die uitstappie rivier toe, op ’n gruispaadjie langs, geniet.

Vanaf: R1 800 per nag vir die huis, waarin agt mense kan slaap.

Kontak: overberggems.co.za/thebluehouse

By Stoneybrooke Farm is genoeg speelplek in die tuin vir jou hond.

Stoneybrooke Farm

Dié werkende plaas in Tierpoort, net buite Pretoria, is naby genoeg vir Gautengers dat jou hond nie ’n lang motorrit hoef te verduur nie, maar ver genoeg dat jy voel of die stad ver agter jou is – al wat jy sal hoor, is die geluide van koeie, hoenders en eende. Ontspan op die stoep en geniet die uitsig of wandel af Pienaarsrivier toe vir ’n piekniek aan die oewer.

Vanaf: R450 per persoon per nag, kinders jonger as 12 jaar gratis.

Kontak: stoneybrookefarm.co.za

Beach House Witsand

Slegs klein honde word hier toegelaat, en kinders moet ten alle tye dopgehou word, want die huis bied ’n luukse wegbreek vir volwassenes. Daar is vyf slaapkamers met beddegoed van Egiptiese katoen, twee groot vermaakareas, ’n kombuis waarin ’n sjef in sy element sal wees, en ’n stoep met lieflike see-uitsigte. Buite is daar ook ’n swembed en vuurput. Die huis is heeltemal omhein met ’n hekkie wat reg op die strand oopmaak.

Vanaf: R4 000 per nag vir die huis, waarin tien mense kan slaap.

Kontak: beachhousewitsand.co.za

Barking Beach Cottage

Soos die naam aandui, is dié huis, vyf minute van Sandbaai af, ingerig vir ’n vakansie saam met Flaffie en kie. Hondebeddens, kosbakke en harnasse word verskaf en die huis is heeltemal omhein om honde veilig te hou. As jou honde nie binne slaap nie, kan jy saans ’n hekkie tussen die kombuis en braai-area toemaak sodat hulle veilig onderdak kan slaap. Die strand is binne stapafstand.

Vanaf: R1 900 per nag vir die huis, waarin ses mense kan slaap.

Kontak: barkingbeachcottage.com

The Twelve Apostles Hotel

As jy jouself en jou viervoetkind wil bederf, is dié luukse hotel en spa net die ding. Kies tussen ’n kamer wat uitkyk oor die Atlantiese Oseaan of oor Tafelberg en die Twaalf Apostels. Dis verlede jaar in die Condé Nast Traveler Readers’ Choice Awards aangewys as een van die top-20 hotelle in Afrika – en met goeie rede. Alles wat jy hier sien, proe of aanraak, is van die beste gehalte. Slegs klein honde word toegelaat.

Vanaf: R5 539 per nag vir ’n dubbelkamer.

Kontak: 12apostleshotel.com

Reis veilig met jou honde

Louise Basson, ’n honde-afrigter van Kaapstad en skrywer van Shaping Your Dog: The Positive Way (Strategic Book Publishing, 2012) en Winter Dogs: Living with Huskies as Pet Dogs (Strategic Book Publishing, 2010) gee dié wenke om jou hond veilig en gemaklik by jul bestemming te kry:

  • Voordat jy ’n rit van 12 uur lank van Johannesburg na Kaapstad aanpak, moet jy eers jou honde gewoond maak aan motorritte. Neem hulle gereeld op uitstappies, soos na die park toe, sodat hulle leer ’n kar is nie net iets wat hulle altyd veearts toe vat nie.
  • Oor die algemeen moet julle minstens elke twee uur stilhou om bene te rek en sodat jou hond kan water drink.
  • Hou die lugverkoeler die heelpad aan of hou die vensters oop – honde kry baie vinniger warm as mense. Moenie die vensters groot genoeg oopmaak dat hulle hul koppe kan uitsteek nie, dis gevaarlik.
  • As jou hond gewoond is aan ’n krat, laai hulle in. Indien nie, moet jy hulle met ’n harnas aan ’n sitplekgordel vasmaak vir veiligheid. Moenie ’n hond agterop ’n oop bakkie laai nie.
  • Gee ’n senuagtige hond ’n kalmeermiddel ’n halfuur voor die rit, en daarna elke twee uur.
  • As jou hond saam vlieg, moet jy hom gewoond kry aan ’n krat deur hom kort rukkies daarin los en die sessies stelselmatig langer te maak. Sit sy gunstelingspeelgoed, water en beddegoed in die krat.


Meer oor:  Troeteldier  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.