Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Oud-sportvrou swem van Robbeneiland vir beenmurg

Christine Roos, ’n voormalige Protea-hokkiespeler, het Woensdagoggend die uitmergelende swemroete van Robbeneiland tot Big Bay in Bloubergstrand voltooi om R50 000 vir die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) te probeer insamel.

Die 29-jarige Roos, wat in Benoni in Gauteng woon, het die 7,4 km in net minder as drie uur geswem.

Roos het sowat twee jaar gelede as ’n beenmurgskenker geregistreer en is sedertien ’n kampvegter daarvoor.

Die geld wat sy insamel, is om pasiënte te help wat nie die koste kan dek om ’n geskikte skenker te vind nie.

Roos het gesê sy het omstreeks 09:00 begin met die swemtog en was teen omstreeks 11:30 klaar.

“Die vorige aand was ek nogal senuagtig. Dit het gevoel asof daar ’n partytjie in my maag aan die gang is. Daar was baie opgewondenheid ook.”

Sy het gesê sy het ’n glasie wyn geniet om haar senuwees te kalmeer.

Dit het Christine Roos net meer as drie uur geneem om die meer as 7 km te swem. Foto: Jaco Marais

“Toe ek vanoggend (Woensdagoggend) opstaan, het ek geweet ek gaan die swem voltooi. As ek ’n ding doen, gee ek nie op nie.”

Roos het gesê dit is fantasties dat sy kan help om ’n bewustheid skep oor iets wat so baie vir haar beteken.

Sy het Woensdag teen 17:00 reeds sowat R5 750 van haar doelwit van R50 000 ingesamel.

Ndinae Muligwe-Mofokeng, wat skenkers werf en ’n volhoubaarheidskoördineerder van die SABMR is, het gesê hulle is dankbaar dat Roos bereid was om die swemtog aan te durf.

“Ons kon verlede jaar weens die pandemie nie juis geldinsamelingsprojekte aanpak nie. Christine se swemtog help ons dus om verlore geld in te haal om mense beter te kan bystaan.

“Al is ons tans in die pandemie, is daar steeds baie mense wat aan bloedsiektes sterf.”

Muligwe-Mofokeng het die hoop uitgespreek dat die inisiatief ’n groter bewustheid by die publiek sal skep oor die werk wat die SABMR doen.

Christine Roos ná haar swemtog van Robbeneiland na Big Bay in Bloubergstrand. Foto: Verskaf
Christine Roos (29) het die swem aangedurf om geld vir die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister in te samel. Foto: Jaco Marais

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.