Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Oud word weer nuut in Bethulianer se hande

Johan Pretorius, eienaar van The Carpenter Shop & The Welder Shop in Bethulie, se woonhuis is ’n vertoonvenster van hierdie knap vakman se kreatiewe skryn-, restourasie- en metaalwerk. Coreli Roos het by hom gaan inloer.

Emmelia het die piouterwerk gedoen om die bord af te rond. Foto’s: Coreli Roos

Ornamentele broekieskant-versiering van hout rond die veranda van die Pretorius-gesin se karaktervolle Karoo-huis se stoep af.

Johan kon die houthortjies voor die stoepvensters restoureer, maar moes die oorspronklike kanthout dupliseer en nuwes maak. Martinstraat 9 se pragtig gerestoureerde huis het voorheen aan sy oupagrootjie, Petrus Schutte, behoort. Dit is in 1904 gebou en was erg vervalle toe hy dit 20 jaar gelede gekoop het toe hy trouplanne kry.

“Daar was baie werk. Dit het stadiger gevorder as beplan en toe ek sien ek gaan dit nie betyds klaarkry nie, het ons ons troue met drie maande uitgestel!”

Johan se eerste voetspore lê op die plaas Springboklaagte, 20 km van Bethulie. Sy onderwyser-pa, Jacs Pretorius, het ook daar geboer. Die gesin het later dorp toe verhuis om nader aan die skool te wees. Sy kreatiewe geen kom van sy kunssinnige ma, Alrina Pretorius, ’n nooi Coetzee uit die Bethulie-distrik.

Alrina hou baie van mooi goed en antieke meubels en het soms ’n spesiale ou meubelstuk gekoop en so ook ’n liefde vir oudhede by hom gevestig. Hy het tot matriek houtwerk geneem en het reeds op skool begin om sy vaardigheid te beoefen en restourasie- en herstelwerk aan ou houtmeubels te doen.

Die koffietafel waarop die kruise staan, is ook Johan se handewerk.

“Tóé was dit vir my ma, wanneer sy ’n kas of ander meubelstuk gekoop het.”

Al was grafiese ontwerp sy eintlike belangstelling, het hy ná sy diensplig in Potchefstroom ’n student aan die Bloemfonteinse Technikon geword waar hy van 1990 tot 1994 koste- en bestuursrekenkunde studeer het. Daarna het hy tot die draai van die eeu in Bloemfontein gewerk. Nadat hy in 1997 sy vrou, Emmelia (née Aucamp), ook ’n gebore en getoë Bethulianer, ontmoet het, het sy hart egter terug huis toe gestaan. Terug in Bethulie, het hy by die plaaslike Tiger Brands-tak by die ou stasiegebou begin werk.

“Toe het ek altyd in my vrye tyd Graaff-Reinet toe gery om na hul ou en antieke gerestoureerde meubels daar te gaan kyk. Ek het my absoluut daarin verlustig. Daar was ook baie tweedehandse handelaars.”

Tiger Brands se Bethulie-tak het toegemaak en hy het as hul verteenwoordiger onder meer Lady Grey, Barkly-Oos en Middelburg bedien.

“Jaco (18) was ’n klein seuntjie van twee toe ek bedank het en vir die hele 2003 staalkonstruksiewerk in Amerika gaan doen het om geld bymekaar te maak.

Johan se unieke versameling antieke houtwerk en ander gereedskap uit verskillende era’s.

“Ek wou altyd graag vir myself werk, maar dit was eers nadat ek terug was, dat ek die behoefte vir restourasiewerk raakgesien het. Toe begin ek dit te doen in die dubbelmotorhuis van my erf.”

Later het hy na ’n groter perseel in Voortrekkerstraat verskuif.

“Ek was regtig nog nooit sonder werk nie. ’n Groot gedeelte daarvan is restourasiewerk, asook doelgemaakte kaste, ensovoorts. Oor die jare het ek ook die vloere van sowat 50 huise net in Bethulie en distrik afgeskuur, onder meer van die historiese plaas Karmel. Sy gang is ’n ongelooflike 50 m lank!”

Deur mondelingse oordrag het sy vaardigheid al wyd en syd bekend geword. Benewens mense naby aan Bethulie, nader kliënte van so ver as Kaapstad en Pretoria hom vir restourasiewerk.

“Jy hoor altyd hoe klein seuntjies sê wat hulle eendag wil word. Ek het gewéét dat ek eendag restourasiewerk wil doen, maar min het ek toe kon dink dit sou ’n heeltydse besigheid word!

Johan se liefde vir ougoed en hout, is duidelik sigbaar in sy huis. Hy het die gebokste metaalkruise aanmekaar gesweis en gevul met sand van sy grootwordplaas, Springboklaagte. Die traporrel is een van menige voorbeelde van sy restourasiewerk in sy huis. Dit was in ‘n swak toestand toe hy dit in Groot Brakrivier raakloop.

“Kuns is my groot passie. Om iets moois te ontwerp, te skep. Dis eintlik iets wat ek net vir myself, vir ons huis maak, maar mense sien dit en dan wil hulle dit ook hê en bestel daarvan. Ek sou graag ook beeldhouwerk wou doen.”

Hy luister na sy kliënte se behoeftes en doen ook ontwerpe daarvolgens. Baie maal maak hy vir ander die mooi goed waarvan hy self hou en wat hyself graag sou wou hê.

“Die skaakbord wat ek eendag vir een van die kinders gemaak het, het op sy beurt geboorte geskenk aan my houtblokkiesborde wat ek maak uit stukke afsnyhout wat ek normaalweg sou weggooi.”

Om dit te maak en die saamgestelde blokkieseffek te kry, moes hy self ’n plan, die proses, uitdink. Hy het die unieke staalkruise in sy huis in ’n boksvorm aanmekaar gesweis en daarna gevul met sand van sy grootwordplaas, Springboklaagte.

“Ek het myself leer sweis, en op die harde manier geleer,” vertel hy.

Emmelia het vir hom ’n spesiale brandyster met sy logo Wood Slice @ Wood Art uit Amerika bestel waarmee hy sy houtkunsprodukte brandmerk. Vanjaar het Johan ’n koffietafel, skild en ander houtkuns gemaak, en geskenk om opgeveil te word op die Laer- en Hoërskool Burgersdorp se wynveiling. Op vorige geleenthede het hy ook spesiale stukke vir die Laerskool Trompsburg se wynveiling gemaak. Van tyd tot tyd bemark hy van sy werk by plaaslike kunsmarkte.

Sy entoesiasme vir oudhede en mooigoed was aansteeklik en het ook oorgespoel na Emmelia wat sommige van sy houtwerk met ander kunstige handwerkvorme soos piouter en mosaïek versier en saam met hom hul huis se binneversiering doen.

Baie voorbeelde van Johan se werk is ook te sien in die plaaslike dokterspreekkamer waar Emmelia werk.

“Sowel ons dogter, Chané (15), en jongste seun, Hannoe (11), is ook baie kunstig, terwyl Jaco (18) die redenaar is wat beplan om volgende jaar in Potchefstroom teologie te gaan swot.”

Johan Pretorius voor sy werkswinkel in Voortrekkerstaat, Bethulie.
Nog houtkuns. ’n Ou skoolbanksitplek is omtower tot die skild vir die “Kontrei-stoetram”. Johan se vrou, Emmelia het die pewterwerk gedoen.
Voordat hy die brandmerk aanbring, verhit Johan sy spesiale Wood Art @ Wood Slice
Johan het hul huis se oorspronklike luike gerestoureer en het ‘n vensterlose houtraam in ‘n ou klipgeboutjie op die plaas Springboklaagte herwin vir die borsstuk wat hy uit staal gemaak het af te rond.
Oorspronklike houtdeur met kunstige staalwerk.
Karoo-kuierstoep met pragtige oorspronklike deur en kunstige staalwerk.
62 Haak jou glas in die spesiale houtbord, pak jou eetgoedjies daarop en kuier lekker.
48 Kunstige blokkieshoutborde uit afvalhoutstukke is met die Wood Art @ Wood Slice logo-brandmerk.

Meer oor:  Johan Pretorius  |  Bethulie  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.