Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ouersdkap:
Ouers se digitale dilemma
Veilige internetgebruik is nie ’n tegnologiese kwessie nie, dis ’n ouerskapkwessie. Karla Janse van Vuuren vertel hoe jy jou kind kan beskerm teen aanlyn-predatore en ongewensde webwerwe.

Maak jou kind bewus van die gevare van die internet, soos dat hy nie vreemdelinge se vriendversoeke moet aanvaar nie.

Dit is nooit te vroeg om aanlyn veiligheid met jou kinders te begin bespreek nie.

“Volgens ’n peiling wat vanjaar deur die Wêreld- Ekonomiese Forum gedoen is, is Suid-Afrikaanse kinders in groter kubergevaar as die meeste ander jong mense elders ter wêreld. Volgens die peiling is kinders tussen agt en 12 die kwesbaarste. 62% van kinders in dié groep is al aan ten minste een kuberrisiko blootgestel, insluitende aanlyn boelies, die deel van seksuele materiaal en videospeletjie-verslawing,” sê Charnel Hattingh van Fidelity ADT.

Lei jou kind

Prof. Basie von Solms, direkteur van die sentrum vir kubersekerheid aan die Universiteit van Johannesburg, sê die grootste uitdaging vir ouers is om hul kinders bewus te maak van die risiko’s. Hy gee drie belangrike riglyne:

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir jou kind se aanlyn aktiwiteit. Weet wat hy aanlyn doen.
  • Stel voorwaardes waarvolgens hy die internet mag gebruik.
  • Bly op die hoogte van wat hy doen en waarna hy kyk. (Hiervoor is daar sagteware wat jou toegang gee tot sy gebruiksgeskiedenis. Sien die kassie.)

Praat én tree streng op

Volgens Carey van Vlaanderen van Eset, ’n internet­sekuriteitsmaatskappy, bekommer nege uit tien ouers hulle oor hul kinders se aanlyn aktiwiteit, maar min tree op. “Die internet kan gesien word as die nuwe móét vir kommunikasie, samewerking en opvoeding, maar daar is natuurlik misdadigers wat dit gebruik vir hul eie doeleindes.”

Carey beklemtoon die belangrikheid van ’n oop en aanhoudende dialoog oor die internet en die gebruik daarvan. “Gesprekke moet begin van die oomblik wat kinders die internet begin gebruik. Verduidelik dat hul digitale aktiwiteit kan uitkring en gevolge in die regte lewe kan hê.”

Iets wat tieners dikwels inspan om hul ouers in die duister te hou, is akronieme soos “PIR” wat staan vir “parent in room”. Volgens Basie beklemtoon dit weer die belangrikheid van ’n oop vertrouensverhouding met jou kind. “Hulle moenie vir jou as ouer uit die prentjie probeer hou nie. As jy ’n ooreenkoms het met jou kind, moet jy baie streng optree as jy uitvind hulle mislei jou. Die probleem is ouers wat tot dusver nie streng beheer oor kinders se aanlyn aktiwiteit gehad het nie.

“Die gevolge van hierdie houding gaan ons eers oor tien of 15 jaar sien soos wat dié generasie kinders grootword. My raad is buig die boompie terwyl hy jonk is; dit gaan hierdie taak van jou as ouer baie makliker maak soos wat die jare verbygaan.”

Volgens Carey is ’n groot deel van jou kind se aanlyn veiligheid opvoeding, en dit sluit in om jouself op te voed oor die moontlike akronieme en ander maniere wat kinders kan gebruik om agter jou rug verkeerde dinge aanlyn te doen.

Basie meen dit is onrealisties om kinders totaal weg te hou van die internet af tot op ’n sekere ouderdom. As jy dit van hulle weghou, sal hulle waarskynlik in elk geval by maats of by die skool toegang kry. “Dissiplineer en kondisioneer hulle eerder om verantwoordelik daarmee te werk. Dit is egter ’n goeie idee om eers later op laerskool, hier van gr. 6 af, hulle toe te laat om sosiale netwerke te gebruik. Die meeste netwerke soos Facebook het in elk geval ouderdomsbeperkinge.”

Wenke vir veiligheid
  • Gaan met jou kind ’n kontrak aan. As hy dit verbreek, moet daar gevolge wees, soos dat jy sy foon wegneem, sê prof. Basie von Solms.“Kyk ook gereeld of die kind binne die kontrak bly. Jy moet aktief betrokke wees by die proses.”
  • Gesprekke met jou kind is baie belangrik, sê Carey van Vlaanderen. “Maak dit duidelik dat jy jou kind ondersteun in die positiewe gebruik van die internet soos om meer te leer en navorsing te doen vir skooltake. Verduidelik hoekom jy nie wil hê hulle sekere webwerwe moet besoek nie.”
  • Vra jouself af: Hoekom het my kind ’n selfoon nodig? “Die hoofrede moet wees vir sy of haar veiligheid, dat hulle jou kan kontak,” sê Basie. Dit is nie nodig dat jou laerskoolkind die duurste slimfoon met onbeperkte toegang tot die internet het nie.
  • Installeer sekuriteitsagteware soos Eset Parental Control wat jou as ouer beheer gee oor wat jou kinders kan sien. Besoek www.eset.com/za en www.cybersecurity.org.za om meer hieroor uit te vind. Hier kan tegnologie jou as ouer help om jou kind veilig te hou deur onvanpaste inhoud te blokkeer of uit te filter, dit beperk watter soort inligting gedeel kan word en dit hou ook data oor waarna jou kind kyk en hoe lank hy/sy aanlyn besig is.
  • Stel streng grense. Laat byvoorbeeld net ’n uur se gebruik op ’n keer toe. “Jou kind moet ook nie sy foon of tablet saamneem wanneer hy gaan slaap nie. Dit het ’n nadelige uitwerking op jou kind se fisieke en geestelike ontwikkeling as hy snags wakker lê en op WhatsApp gesels of in kletskamers rondhang,” beklemtoon Basie.
  • Kinders is baie naïef en daarom moet jy die gevare van die deel van naakfoto’s en ander eksplisiete materiaal spesiaal by kinders inskerp. “As jou kind naakfoto’s van homself of ’n ander kind deel, is dit ’n strafregtelike oortreding want dit is die verspreiding van kinderpornografie en kan hom in groot moeilikheid laat beland. Beklemtoon dat hy ’n misdaadgeskiedenis kan kry wat sy toekoms negatief kan beïnvloed,” gee Basie raad.
  • Waarsku kinders ook oor die gebruik van sosiale media. “Hulle moenie net enigiemand se vriendversoek aanvaar nie en maak hulle ook bewus van kuberboelies wat hulle dalk kan teiken. Weer eens is ’n aanhoudende dialoog met jou kind hier van uiterste belang, sodat hulle eerste na jou toe kom as hulle die teiken van ’n aanlyn ‘roofdier’ of kuberboelie is,” sê Carey.

    Meer oor:  Internet  |  Veilig  |  Beskerm  |  Kind
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.