Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Twee trou 20 j. nadat hulle toevallig saam op foto is

Die rooikopseuntjie wat twee dekades gelede agter haar gestaan het op ’n foto wat op ’n kinderpartytjie geneem is, is nou die man met die groot glimlag aan haar sy op hul troufoto.

Die oud-Bloemfonteiners Minke (25, née Du Plooy) en Dewald van den Berg (26) het Paassaterdag in Vanwyksvlei in die Noord-Kaap trou aan mekaar belowe ná ’n verhouding van twee jaar – met ’n ongewone kinkel.

Die pasgetroudes Dewald en Minke van den Berg. Foto: Verskaf

Die trane het gevloei toe hy sy bruid sien, vertel Dewald.

Die egpaar se ongewone liefdesverhaal het Netwerk24 se lesers in 2019 geroer.

LEES DIE BERIG HIER

Sowat ’n maand nadat Dewald haar gevra het om te kys, het hulle na Minke se kinderfoto’s gekyk – en besef hulle was kleintyd saam op ’n kinderpartytjie!

Dié foto is twee dekades gelede op ’n kinderpartytjie geneem. Voor staan Minke, met Dewald regs agter haar. Foto: Verskaf

Hul storie is onder meer op Amoré Bekker se radioprogram, Tjailatyd, op RSG vertel en het ook op Volksblad se voorblad gepryk.

Die twee was onder die indruk dat hulle mekaar op Oujaarsdag 2018 vir die eerste keer ontmoet het nadat hulle in Desember op Facebook begin gesels het.

Ek kan eintlik nie glo dis nou presies 20 jaar sedert die foto geneem is nie. Dit slaan jou asem weg dat alles so uitgewerk het.

Dewald het in sy toespraak op die troue na dié foto verwys.

“Ek kan eintlik nie glo dis nou presies 20 jaar sedert die foto geneem is nie. Dit slaan jou asem weg dat alles so uitgewerk het.”

Minke sê hulle is opgewonde daaroor om met hul lewe saam te begin.

Dit was vir die paartjie besonders om in dieselfde kerk te trou en die onthaal by dieselfde venue te hou as waar haar ouers, Melinda en PJ du Plooy, getrou het. Minke se ouers boer in die distrik.

Pasgetroud! Dewald en Minke van den Berg Saterdag met hul troue in Vanwyksvlei. Foto: Chanel Bergh

Minke en Dewald woon reeds ’n jaar in Kaapstad, waar sy as ’n finansiële adviseur en hy as ’n beleggingskonsultant werk.

Die pasgetroudes sê hul troue was ’n groot fees.

Daar was sowat 70 mense op die troue, die weer was goed en geliefdes het van ver gekom om die bruilof by te woon. Dit was spesiaal dat hul vriende die Karoo kon beleef.

Daar was ook lammers op die onthaal.

Minke en Dewald van den Berg in 2019 aan die begin van hul verhouding. Foto: Nyakallo Mahloko

“Ons het ’n kraal sommer daar in die saal opgemaak en ’n paar hanslammers daar gesit sodat foto’s saam met die kinders geneem kon word,” vertel Minke.

Dewald het haar op 4 Januarie, met die tweede herdenking van hul verhouding, gevra om met hom te trou. Hy het dit op ’n piekniek gedoen, net soos toe hy haar gevra het om sy meisie te word.

Dewald van den Berg is beslis nie meer in die agtergrond nie. Hier soen hy sy bruid, Minke. Foto: Chanel Bergh
Meer oor:  Bloemfontein  |  Vanwyksvlei  |  Geliefdes  |  Trou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.