Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Palesa eerste Afrika-modeontwerper wat met H&M saamwerk

Palesa Mokubung, die hoofontwerper en stigter van die Mantsho-etiket, sê sy word soms steeds oorweldig deur die wete dat sy die eerste modeontwerper van Afrika is wat saam met die Sweedse winkelgroep H&M werk.

Palesa Mokubung
Palesa Mokubung Foto: Verskaf

Mokubung (38), oorspronklik van Kroonstad in die Vrystaat, het onder die Mantsho-etiket ’n spesiale klerereeks ontwerp wat van Donderdag 15 Augustus af in alle Suid-Afrikaanse H&M-winkels te koop sal wees. Dié reeks sal ook op H&M se aanlyn winkel en in sekere van H&M se vlagskipwinkels oorsee beskikbaar wees.

“H&M het my in November verlede jaar genader om saam met hulle te werk, en die aankondiging is in April gedoen. Om die klere in die winkels te hê, en as dit boonop nog uitverkoop, sal die laaste stap wees. Alles het so vinnig gebeur, want dit is ’n vinnige bedryf.”

Sy beskryf haar ervaring die afgelope klompie maande as verbysterend.

“Ek het so baie geleer. Ek was in dié tyd swanger en my babadogter (Reedah) is nou ’n paar weke oud. Dit (die samewerking met H&M) is my ander baba – so hulle is eintlik ’n tweeling,” skerts sy.

Mokubung, wat in Vereeniging in die Vaaldriehoek grootgeword het en nou in Johannesburg woon en werk, het Mantsho in 2004 begin. Die Sotho-uitdrukking “mantsho” beteken “swart is mooi”.

Sy het goed gevaar en het klere aan Edgars en Spree gelewer, maar wou eers verder studeer. Daarom het sy ná sewe jaar vir eers haar winkel se deure gesluit.

“Om toe te maak was ’n moeilike besluit. Ek was platsak toe ek gaan studeer het. Maar ek moes myself toerus, want ek het nie die nodige kundigheid gehad nie.”

Haar studie by die Design School of South Africa het haar gehelp om die stamina en fokus te kry wat in die modebedryf nodig is, sê Mokubung.

Sy het ná haar studie haar werk hervat en volgens haar was sy gereed toe H&M haar nader.

“Jy moet gefokus en gedissiplineerd wees om op die hoogste vlak te funksioneer. Dit is ook my boodskap aan jonger ontwerpers. Ook dat jy altyd gereed moet wees vir enige geleentheid wat mag kom.

“Wanneer die geleentheid kom en jy is gereed, kan jy die oomblik geniet. Ek geniet dit nou. Ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie.”

Sy sê daar is geen woorde om te beskryf hoe dit voel om haar werk op modeweke oor die wêreld heen te sien nie, insluitend Amerika, Brasilië, Griekeland, Jamaika, Nigerië en Senegal.

“Ek is sprakeloos. Ek het geweet my oomblik gaan kom, maar ek het nie geweet dit gaan op dié vlak kom nie.”

Haar inspirasie kom van die vroue wat haar klere dra.

“Hulle is my dryfkrag. Dit kom ook van Afrika, want ons kontinent en verskillende kulture is so inspirerend,” sê sy.

Die dinamiese Mokubung sê sy hoop om ’n rolmodel te wees vir ander vroue-ontwerpers, want daar is tans min leidende vroue in Suid-Afrika se modewêreld.

“Ons het baie mans wat klere ontwerp wat hulle nie dra nie. Ek verstaan duidelik die vrou se lyf en wil klere ontwerp vir elke dag se gebruik, soos om werk toe te gaan. Nie net vir die rooi tapyt nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.