Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Pantoffels van skaapvel hou wiele aan die rol
Thulanie Shadlen Judas
Thulanie Shadlen Judas, hoofskoenmaker van die Daggaboer-padstal, spog met sy eerste voertuig wat hy danksy die verkope van sy skaapvelpantoffels kon koop. Foto: Facebook, Daggaboer Padstal

Die aanlyn verkope van skaapvelpantoffels het nie net ’n Oos-Kaapse padstal gehelp oorleef tydens die nasionale staat van inperking nie, maar ook aan ’n skoenmaker sy eerste voertuig besorg.

Vir Thulanie Shadlen Judas, inwonende hoofskoenmaker van die Daggaboer-padstal, sowat 40 km buite Cradock, het die hupstoot in pantoffelverkope lang werkure beteken, maar ook ekstra geld waarmee hy oplaas die lewenslange droom van sy eie voertuig kon bewaarheid.

Isobel Neethling, eienaar van die padstal, sê hulle moes verlede jaar skielik innoverend raak toe hul finansies tydens die inperkings weens die koronaviruspandemie beroerd begin lyk het.

Die padstal se deure was verlede jaar sowat ses weke gesluit, en selfs hierna het die verbod op interprovinsiale reise daartoe gelei dat minder mense die padstal langs die N10 besoek het.

In die koue wintersaande maak hy en sy vrou vuur wanneer hulle die pantoffels se gom plak, want die gom plak nie goed as dit baie koud is nie.
Thulanie Shadlen Judas
Thulanie Shadlen Judas wys sy handgemaakte skaapvelpantoffels. Foto: Facebook, Daggaboer Padstal

Die aanlyn bemarking van hul skaapvelpantoffels het in alle erns begin, en Thulanie, wat reeds die afgelope 12 jaar handgemaakte pantoffels met outentieke skoenmakersgereedskap maak, het vir voldoende voorraad gesorg.

“Thulanie en sy vrou (Lillian) ontvang ’n basiese salaris vir ’n vyf dae werkweek, maar word ook bykomend betaal vir elke paar pantoffels wat hulle maak. As aanmoediging om nie onnodig velle te mors nie ontvang hy ook driemaandeliks ’n bonus as hy ’n sekere getal pantoffels uit ’n sekere getal skaapvelle kan maak.

“Hy word ook bykomend betaal vir al die ekstra ure wat hy sedert April 2020 gewerk het.

“In die koue wintersaande maak hy en sy vrou vuur wanneer hulle die pantoffels se gom plak, want die gom plak nie goed as dit baie koud is nie,” sê Neethling.

Teen die einde van 2020 het die padstal sy beste pantoffelverkope nóg in die afgelope 12 jaar gehad en Judas kon genoeg geld spaar om vir hom ’n bakkie te koop.

Thulanie Shadlen Judas
Die skaapvelle waarmee Thulanie Shadlen Judas die skaapvelpantoffels vir die Daggaboer-padstal maak. Foto: Facebook, Daggaboer Padstal

Hy sê hy het nog nooit geskroom om hard te werk nie en is toegewyd aan sy loopbaan.

“Ek voel baie nederig en is dankbaar vir die geleentheid wat die Daggaboer-padstal my gegee het. Ek dink altyd aan die toekoms, nie die hede of die verlede nie. In die toekoms wil ek my bakkie in Zimbabwe vir sakegeleenthede en my familie gebruik,” sê Judas, ’n Zimbabwiese burger en pa van drie kinders.

Neethling sê Judas is baie hardwerkend, toegewyd en intelligent. “Ons is uiters trots op Thulanie en Lillian, en wil hulle bedank vir hul harde werk en ondersteuning. Thulanie, jy verdien jou nuwe wiele en ons wens jou veilige reise toe.”

Meer oor:  Cradock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.