Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Pa’s en seuns wat saam werk

Pa en seun in een onderneming? Die meeste mense kies die hasepad, want dit kan konflik meebring, maar vele gryp dié geleentheid aan, skryf Maryke Roberts.

Die Retiefs van Van Loveren: Phillip, Neil, Wynand, Nico, Bussell en Hennie.
Twee pa’s en vier neefs

Van Loveren Familiewingerde buite Robertson vier vanjaar hul 40ste verjaardag; het pas ’n nuwe logo en verpakking bekend gestel en dié vier Retief-nefies van die gewilde Four Cousins-handelsmerk, het baie by hul pa’s geleer. Daar’s Wynand met sy seuns Phillip en Neil en Nico met sy seuns Bussell en Hennie.

Wynand en Nico is albei al in hul 70’s en die seuns het almal in die afgelope 20 jaar klaar gestudeer en op die plaas kom aansluit.

Wynand waarsku pa’s moenie te lank aan hul mag en verantwoordelikheid vasklou nie. “Ek het geglo in (ons seuns) en besef ons gee die onderneming in bekwame hande oor.”

Oor sy seuns sê hy: “Ek bewonder hul entoesiasme en positiwiteit in die moeilike tyd waarvoor ons as ouer geslag bang is. Ek stem nie altyd saam met hul besluite oor uitbreidings nie, maar hulle maak ’n sukses en ek moet hulle bewonder. Vandag boer hulle op meer as 1 000 ha.”

Philip sê die vier neefs werk as span saam en “ons risiko-aptyt en entrepreneuriese vaardig­hede is dalk ’n bietjie groter as ons pa’s s’n. Die moderne wêreld se pas is vinniger en my aanslag skakel moontlik beter hierby in as my pa s’n.”

Hy bewonder sy pa se rustigheid en gemoedelikheid teenoor mense. “Die rol wat my pa gespeel het in die 1980’s en 1990’s was ongelooflik waardevol om die fondamente van hierdie onderneming te lê. Tydsberekening met ons toetrede was waarskynlik baie naby aan perfek en ons kon die volgende 20 jaar die fondamente met berekende risiko’s en aptyt uitbou.”

Pa Nico sê hy het vir sy seuns, Hennie en Bussell, geleer om nie bang te wees vir waag nie, terwyl hulle sê hul pa se praktiese sy het hulle geleer om alles goed te deurdink voordat hulle besluite neem.

Dax en Stuart Holding.
Stuart en Dax van Mungo

Die tekstielvervaardiger Mungo op Plettenbergbaai vier vanjaar sy 23ste bestaansjaar en het onlangs Suid-Afrika se eerste Global Organic Textile Standard-sertifisering (die wêreldbekende tekstielverwerkingstandaard vir organiese vesel) gekry.

Stuart Holding het destyds met twee antieke, gerestoureerde weeftoestelle begin en vandag is sy seun, Dax, saam met hom in die onderneming.

Dax sê hulle werk die afgelope tien jaar saam en dis nie altyd maklik nie. “Wanneer jy jonk is, dink jy jy is onvernietigbaar en vry van enige gevolge. Wanneer jy ouer is, het jy al lesse geleer en wil jy jong mense beskerm. Die middeweg is nie maklik om te vind nie.

“My pa bring ’n fundamentele wysheid, sy passie vir tekstiele en sy diep kennis oor hoe om tekstiele van gehalte te maak. Ek bring dinamika, ’n kykie na die huidige stand van sake en ’n veelsydigheid met ’n taamlike mate van sukses.”

Dax sê hy het by sy pa geleer om nederig te bly oor jou sukses, want jy kan enige tyd misluk. “En wanneer dit gebeur, om op te staan en weer te probeer.”

Jacie en Jacques Oosthuizen.
Jacie en Jacques van Lord’s Wines

Buite die Bolandse dorpie McGregor is Lord’s Wines, waar pa Jacie en seun Jacques Oosthuizen saamwerk.

Jacie het die plaas in 2003 gekoop en begin uitbrei. Die plaas is genoem na sy gunstelingsport, krieket, se tuisveld, Lord’s in Londen. Hy is die wynmaker en eienaar. Jacques het in 2019 by die plaas aangesluit as skakelbeampte.

Jacie sê hy en Jacques het elkeen hul eie afdelings en gee mekaar ruimte om daarin goed te wees. “Ons hanteer dit soos ’n onderneming en haal al die emosie uit ons saamwerk. Ná werk is almal weer pelle en dis my raad aan ander pa’s en seuns wat saamwerk.”

Hy sê hy bewonder Jacques se kalmte en die manier waarop hy met die publiek en kollegas omgaan.

Jacques sê hy bewonder sy pa se sakesin. “Hy werk ongelooflik hard, maar hy werk ook slim en kostedoeltreffend.

“Ons albei het gewoonlik dieselfde einddoel in sig, maar verskillende maniere hoe ons daarby wil uitkom. Ons pluis dinge uit, trap dit deur en dan kyk ons na alle oplossings en watter een die meeste sin maak. Sodra die plan van aksie in plek gestel is, laat ons dit gebeur.”

Clinton en Brian Armour.
Brian en Clinton van ANEW

Die pa en seun Brian en Clinton Armour het in 2017 die ANEW Hotelgroep begin en ou sukkelende hotelle begin opkoop. Drie hotelle voor inperking het nou gegroei tot 11 in Gauteng en KwaZulu-Natal. Clinton is die uitvoerende hoof en pa en seun werk al vir meer as ’n dekade saam.

Brian se raad aan Clinton was nog altyd om ook na “die storie se ander kant te luister en om integriteit en verdraagsaamheid te hê”. En hy sê hy sien dit in sy seun se bestuurstyl.

Brian voeg by sy seun het hom gewys dat mense die sleutel is tot ’n goeie onderneming en hy het die vermoë om vele probleme te hanteer, sonder om te opgewerk te word.

Clinton sê sy pa het hom geleer om op te let en hy glo dis waar die groep se fokus op detail vandaan kom.

Clinton sê seuns wat saam met hul pa’s in ondernemings werk, moet verantwoordelikheid aanvaar vir hul rol. “Hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jou pa jou vertrou en laat gaan. Onthou dat dit nie maklik vir jou pa is nie: Hy het al die ondervinding en kennis wat jy nog moet leer.”

Buster en Edgar Brotherton.
Edgar en Buster van Just Milk

Edgar Brotherton en sy seun, Buster, van Makhanda (Grahamstad) besit Just Milk, wat 14 melkerye op tien plase in die Oos-Kaap bestuur. Die melkerye het sowat 14 400 jersey- en friesland-koeie. Hulle werk al vyf jaar saam. Buster is ’n geoktrooieerde rekenmeester en verantwoordelik vir die finansiële sy, wetgewing en is ook uitvoerende hoof van hul kaas-onderneming. Edgar bestuur die beeskuddes en ontwikkeling van nuwe melkerye.

Edgar sê wedersydse respek is hul hoeksteen en sy raad aan ander pa’s en seuns wat wil saamwerk, is “om te verseker dat julle albei weet wat jul verantwoordelikhede en rolle is en dat daar ’n gemeenskaplike doel en visie vir jul onderneming is”.

Buster sê sy pa se bestuur- en kommunikasiestyl staan vir hom uit. Hy kom met almal oor die weg en neem besluite wat op waardes gegrond is.

“Die raad wat hy my gegee het, is om alles wat jy aanpak, behoorlik te doen. En elke mens verdien om met respek behandel te word en erkenning te geniet.”

“Omdat ek met syfers werk, verwys mense skertsend na my as die ‘papierboer’. Ek neem besluite op grond van syfers, terwyl my pa se groter begrip en boerdery-instink hom dra. Ek het nie daardie instink nie.”

Meer oor:  Werk  |  Onderneming  |  Pa  |  Seuns  |  Vadersdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.