Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Pitbulls: maatjie of monster?

Daar verskyn klokslag berigte in die media oor mense wat deur pitbulls verskeur is. Moet dié ras verbied word? Of word die honde net verkeerd benader? Hanri Wondergem het gaan uitvind.

Amerikaanse pitbull-terriërs word definitief verkeerd verstaan en gestereotipeer weens die media wat net dié honde se slegte kant uitbeeld.

So sê Jeanette Erasmus, president van die Pitbull Federasie van Suid-Afrika (PBFSA).

“As jy nie glo dat ’n pitbull ’n sagte, rustige, goeie geaardheid het en ’n goedgemanierde ras is nie, wil ek jou nooi na ons opleiding op ’n Sondagmiddag by Toutrekpark in Pretoria. Kom ervaar wat die ras werklik kan wees.”

’n Amerikaanse pitbull-terriër. Daar is gemengde gevoelens oor die geskiktheid van dié honderas as troeteldiere.Foto: ISTOCK

Dr. Roselle Hartwigsen, ’n veearts by die AnimalQi Wellness Centre in Rustenburg, stem saam met Ferreira en sê omdat pitbulls so misbruik word vir hondegevegte, is die algemene stereotipering vreeslik negatief. “In my ondervinding is die meeste pitbullies vriendelik en liefdevol, veral met hul gesinslede.”

Leigh Shenker, ’n dieregedragskundige en dosent aan die Centre of Applied Pet Ethology (COAPE) in Langebaan, sê egter alle honde is aanvanklik geteel om sekere funksies te verrig. In die geval van pitbulls was dit om ander honde aan te val – iets wat volgens haar nog lank nie uit pitbulls geteel is nie.

“As hulle iets of iemand doodmaak, doen hulle net wat hulle veronderstel was om te doen.”

Maar, sê Shenker, dit beteken nie die honde is noodwendig altyd “bloeddorstige monsters” nie.

“Hulle kan liefdevol wees, maar hulle is nie veronderstel om kinderoppassers te wees nie.” Sy waarsku dat pitbulls sal byt om dood te byt as hulle bang, opgewonde of opgewerk is.

Colleen Lynn is ’n woordvoerder van DogsBite.org, ’n Amerikaanse organisasie wat inligting verskaf oor gevaarlike honde (“hoofsaaklik pitbulls” volgens die webwerf) en ondersteuning bied aan mense wat deur honde aangeval is.

Lynn sê die vraag is nie of pitbulls verkeerd verstaan word nie. Sy glo daar is belangriker vrae. “Hoe keer ons dat daar meer slagoffers is? Gaan ons as samelewing aanhou om die verminking van mense deur hierdie honde te aanvaar? Gaan ons aanhou aanvaar dat die kake van hierdie honde tot soveel sterftes onder weerloses, soos kinders en bejaardes, lei?” Lynn is oortuig dat pitbulls as troeteldiere verbied moet word.

‘Alle honde byt’

Hartwigsen, Erasmus en Shenker is dit egter eens dat aanvalle deur honde nie beperk is tot pitbulls nie.

“Enige hond kan op enige gegewe tyd byt. Dit gaan oor hoe die hond grootgemaak word, of hy reg gesosialiseer word en die hond se temperament,” sê Erasmus.

Honde soos Jack Russell-terriërs en selfs Yorkshire-terriërs is volgens Shenker ook in die verlede geteel om te jag en dood te byt, maar omdat die honde nie so kragtig is soos pitbulls nie, is daar minder skade wanneer hulle byt.

En omdat pitbulls tans baie gewilde troeteldiere is en meer mense die honde aanskaf, reken Shenker dit wil voorkom asof dié ras verantwoordelik is vir meer aanvalle as ander honderasse.

Leigh Shenker, ’n dieregedragskundige en dosent aan die Centre of Applied Pet Ethology (COAPE).

Erasmus sê aanvalle deur pitbulls word meer beklemtoon as enige ander ras. “Baie keer, wanneer daar beweer word dat ’n pitbull iemand aangeval het, is dit nie eens werklik ’n pitbull nie.

“Pitbulls is van nature baie aktiewe honde met hoë energievlakke wat fisiek en geestelik uitgeput moet word,” sê sy.

Hartwigsen sê luidens ’n onlangse studie word daar elke dag in Suid-Afrika 29 mense deur honde gebyt. Die spesifieke honderas word egter nie in die syfers bygewerk nie. “Soortgelyke studies in die buiteland het bevind dat pitbull-terriërs, rottweilers en Duitse herdershonde in die algemeen meer betrokke is by aanvalle teen kinders.”

Lynn sê egter in 14 verskillende navorsingstudies in die VSA, waarby traumasentrums en ongevalle-afdelings van hospitale betrek is, is bevind pitbulls veroorsaak aansienlik meer beserings as ander honde.

Bloedlyn of eienaar?

Volgens Hartwigsen speel die bloedlyn en genetika ’n baie klein rol in die temperament van enige dier. “Ander faktore soos sosialisering, opleiding, omgewing, ander honde in die huis, die eienaar en ander diere se persoonlikhede en gedrag speel ’n baie groter rol as die ras van die hond,” sê sy.

Vrees en frustrasie is, volgens Hartwigsen, die sondaars wat aggressie by pitbulls betref.

Die onus rus volgens haar op die eienaar om te verseker dat die hond reg opgelei word en dat kinders en besoekers ook weet hoe om die hond reg te hanteer.

“Kinders moenie honde se koppe trek of soen nie. Honde hou nie daarvan as iemand van bo af op hulle afbeweeg nie en hulle wil definitief nie vasgedruk of vasgelê word nie. Vir sommige honde is klank oorstimulerend en kinders wat aanhoudend skreeu, huil of lag kan die hond opwerk en irriteer. Kinders moet nooit alleen met enige diere gelaat word nie,” benadruk Hartwigsen.

’n Beskuldigende vinger wys ook na telers van pitbulls. “Daar is so baie kruistelings wat pitbull genoem word, maar hulle is nie,” sê Erasmus. Baie telers het volgens Shenker geen opleiding nie en kan daarom nie genoegsame inligting oor die honde wat hulle verkoop, verskaf nie. “Om inligting te verskaf op grond van jare se ervaring met pitbulls, maar geen kwalifikasies te hê nie, is soos om te sê ek is ’n tandarts want ek het al vir jare tande,” verduidelik Shenker.

Dr. Roselle Hartwigsen, ’n veearts by die AnimalQi Wellness Centre.

Hartwigsen sê opgeleide telers is bekend met bloedlyne wat met aggressie verbind word. Volgens haar is dit “agterplaastelers” wat verantwoordelik is vir pitbulls se slegte naam. “Backyard breeders wat net soveel hondjies so gou moontlik wil teel om te verkoop. Die honde wat gebruik word vir teel is dan gewoonlik in hokke of aan kettings vir hulle hele lewe en die kleintjies word vir die eerste ses tot agt weke in haglike, ongesosialiseerde toestande groot.”

Lynn dink ietwat anders oor alle telers. Sy sê hulle verstaan nie (of weier om te glo) dat pitbulls in die verlede geteel is om tot die dood toe te veg. “Daar is geen gepaste konteks vir dié optrede in vandag se samelewing nie.”

Volgens die PBFSA is daar 35 geregistreerde pitbull-telers in die land. Op die federasie se databasis is meer as 6 000 pitbulls in die land wat as troeteldiere aangehou word.

Die syfers is egter nie akkuraat nie omdat baie telers en honde nie by die federasie registreer nie.

Wat van regulering?

Volgens Lynn is daar in 53 lande reeds wetgewing wat pitbulls reguleer. Dit word egter nie doeltreffend in Suid-Afrika gedoen nie. Volgens Shenker is daar nie die vermoë om dit te doen nie.

“Kusa (Kennel Union of Southern Africa) is bemoeid met hoe die honde lyk en telers word geregistreer op grond van die fisieke aspekte van die bloedlyn. Daar word nie juis ag geslaan op die gedragspatrone nie,” verduidelik Shenker. Lynn glo Suid-Afrika kan leer by Amerikaanse deelstate soos Kansas, Iowa en Missouri, waar daar ’n verbod op pitbulls geplaas is.

Daar is ook talle ander deelstate wat die aanhouding van pitbulls reguleer.

“Om eienaars te reguleer kan bydra tot meer verantwoordelike eienaarskap indien dit reg benader word en indien dit werklik goed gemonitor gaan word,” sê Erasmus. Dit geld egter nie net vir pitbulls nie. “Na my mening sit ons met ’n reuse- onbeheerde teelprobleem van alle honderasse in Suid Afrika,” sê Hartwigsen.

Lynn sê egter mense loop te graag katvoet om kwessies wat spesifiek pitbulls raak. Sy sê wel dat pitbulls goeie troeteldiere is, “mits niks fout gaan nie”. En dan voeg sy by: “Maar dieselfde kan gesê word oor plofstof en handgranate . . .” Sy meen mense moet besef dat die kool nie die sous werd is nie. “Die kleinste foutjie kan in ’n lewe-of-dood-situasie ontaard met ’n pitbull.”

Oorweeg jy dit?

Dink mooi voor jy ’n pitbull as troeteldier aanskaf, want dit is ’n voltydse verpligting, sê Shenker. “Jy moet ’n pitbull 24/7 bestuur. Jy kan hulle nie alleen los by kinders nie. Jy weet nooit wat ’n pitbull gaan opwerk nie . . . jy kan hulle nooit 100% vertrou nie.”

Sy vergelyk pitbulls met mense wat adrenalien najaag. “As pitbulls iets doodbyt, stel dit dopamien vry. Dit laat hulle goed voel. Net soos vir mense wat valskermspring. Dis ’n verslawende gevoel en hulle wil dit oor en oor doen.”

Hanri Wondergem

Erasmus stem saam dat pitbulls baie tyd en moeite van verantwoordelike eienaars verg. “Pitbulls is nie vir elke mens nie. Dit is ’n hond wat baie aandag en liefde soek. Mense moet ophou om honde net aan te skaf.”

Sy stel navorsing oor die ras voor en sê die sleutel tot sukses lê in opleiding – “nie vir ’n jaar nie, maar vir lewenslank”.

Lynn se raad vir mense wat ’n pitbull wil kry? “Kry eerder ’n beagle. ’n Beagle gaan nie sommer net jou kind verskeur nie.”

Dr. Quixi Sonntag, ’n kenner van dieregedrag wat verbonde is aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde, sê veral mense met kinders moet advies by ’n kenner kry voor hulle honde aanskaf, berig Brümilda Swartbooi.

Honde wat volgens Sonntag in ’n “jagsone” verkeer, is ingestel om dit wat hulle stimuleer te byt, dood te maak en te eet omdat dit verband hou met die hond se jaginstinkte. Nie alle honde “jag” om te eet nie. “Sommige byt net en sal hul prooi skud tot dit stil is.”

Sonntag sê sy vermoed die jaginstink kan skielik begin werk wanneer ’n hond skielik iets hoor of sien. As jy byvoorbeeld ’n groot hond en ’n kleiner hond het, kan die kleiner hondjie se getjank ’n sneller wees wat die groter hond wil laat byt.

Sonntag glo egter die meeste honde het die potensiaal om “geskikte huishonde” te wees en sal goed oor die weg kom met mense, tensy daar genetiese afwykings is. Honde moet egter gewoond gemaak word aan hul huismense.

Pitbulls, sê Sonntag, is egter geteel as veghonde en hulle het aggressie wat op ander honde gefokus is, maar ook van toepassing kan wees op mense. En as so ’n hond eers ’n mens gebyt het, hang dit volgens haar van elke individuele geval af of die hond daarna gerehabiliteer kan word.

  • Wondergem is ’n senior redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Monster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.