Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Plek van die voëls

As jy jouself nou werklik ’n voëlkyker wil noem, sal jy hierdie tien voëls van jou lysie moet aftik, sê die kenners. Deur Delia du Toit.

Elke voëlkyker het een – daardie voël wat jou bly ontwyk en jy net nie op jou lysie kan aftik nie.

Sommige is pragtig en kleurvol, maar kom net in sekere dele van die land voor. Ander is volop, maar klein en bruin en moeilik om te sien.

En dan is daar dié wat uiters bedreig is en jy móét sien voordat dit dalk te laat is.

Híér het jy die beste kans om die tien mees besonderse voëls in Suid-Afrika te sien:

Taitavalk Foto’s: Martin Taylor, Niall Perrins, Gallo images en istock.

Taitavalk

Dr. Gareth Tate, bestuurder van die roof­voëlprogram by die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) sê dié klein valk is een van die skaarsste voëls in die land en is kritiek bedreig. Tog het jy ’n goeie kans om hulle op een spesifieke plek te sien: langs die snelweg soos jy deur die Blyderivierkloof ry, kort voor die Strydomtonnel. Kyk baie mooi – hulle is sowat 28 cm groot, met ’n kort stert en gelerige voete.

  • Bly hier:
Kaapse berglyster.

Kaapse berglyster

Dié knapie is rats, boer op berghange en kom boonop net in die bergfynbos in die Wes- en Oos-Kaap voor. Hulle lyk baie soos die oranjeborsberglyster, wat meer noord voorkom, maar het ’n rooier bors.

Martin Taylor, van voëltoerisme en spesiale projektebestuurder by BirdLife South Africa, weet gelukkig presies waar jy dié lysters kan aantref: “Neem die R44 vanaf Rooi-Els, draai regs in Porterrylaan, hou sowat 600 m aan tot by ’n hek met ’n ‘Cape Rockjumper’-bord en parkeer dan daar. Stap sowat 300 m met die stofpaadjie aan en begin dan teen die berghange kyk. Dit sal dalk ’n ruk neem om hulle raak te sien, maar jou geduld sal beloon word.”

  • Bly hier:
Bloukraanvoël.

Bloukraanvoël

Suid-Afrika se pragtige nasionale voël is byna net binne die land se grense te sien, buiten ’n klein groep wat in die noorde van Namibië voorkom. Jy het die beste kans om hulle in die Overberg-omgewing te sien, waar hulle graag in die baie graanvelde kuier. Sommige boere in die omgewing het selfs besluit om die voëls te bewaar en na hul landerye te lok, en dié streek staan informeel as die Caledon-bloukraanroete bekend. As jy op die grondpaaie hier rondry, is jy basies ’n bloukraanvoël gewaarborg, sê Martin. Hulle kom egter ook in die oostelike grasvelde van KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Noordoos-Vrystaat voor, asook in die sentrale Karoo.

  • Bly hier:
Blouswael.

Blouswael

Die blouswael is een van die skaarsste voëls in die land en is op die randjie van uitsterwing. In die jaar 2000 was daar na raming sowat 120 broeipare in Mpumalanga, Swaziland en KwaZulu-Natal, maar teen 2015 het die spesie uit Mpumalanga verdwyn, sê Martin. Die handjievol wat oor is, is hoofsaaklik in die mistige grasvelde in KwaZulu-Natal te sien. Jy het die beste kans om een te sien in die Tillietudlem-natuurreservaat, wat eksklusiewe toegang tot die beste blouswael-broeiareas in die land bied.

  • Bly hier:
Baardaasvoël.

Baardaasvoël

Dié massiewe aasvoëls met hul kenmerkende wigstert-vlugsilhoeët is kritiek bedreig en kom net in die Drakensberge voor. Dis ook een van die gesogste voëls op entoe­siaste se lysies, sê Martin – soveel so dat die Giant’s Castle-natuurreservaat in KwaZulu-Natal wêreldbekend is om sy baardaasvoël-uitkykpunt, wat tot ses maande vooruit volbespreek is.

  • Bly hier:
Groenhoutkapper.

Groenhoutkapper

Slegs klein groepies van dié voëls kom langs kusgebiede in Kenia, Malawi, Mosambiek en Suid-Afrika voor. Maar binne Suid-Afrika se grense, gaan jy hulle net op een plek te sien kry: die Ngoye-woud in KwaZulu-Natal, sowat 150 km noord van Durban, sê Martin. “Tussen Maart en Oktober, wanneer hulle nie broei nie, kan jy hulle in klein groepies van tot agt aantref. In die broeityd, tussen November en Februarie, breek hulle dan in paartjies weg.”

Onthou jou verkyker – hulle boer in die hoër takke.

  • Bly hier:
Dubbelbandslangarend.

Dubbelbandslangarend

Slangarende word van ware arende onderskei deur hul kaal bene, en die dubbelbandslangarend is die skaarsste van sy soort. Hulle is kritiek bedreig en kom in Suid-Afrika slegs in immergroen en rivierwoude in Zoeloeland voor. Die beste plek om hulle te sien is in die iSimangaliso-vleiland. As jy gelukkig is, sien jy dalk selfs een in ’n hoë boom of op ’n telefoonpaal langs die pad tussen St. Lucia en Cape Vidal, sê Martin, waar hulle soms doodstil sal sit en wag om prooi raak te sien.

  • Bly hier:
Bloukruissuikerbekkie.

Bloukruissuikerbekkie

Dié pragtige klein suikerbekkie met sy unieke blou kruis, swart pens en rooi streep oor die bors is waarskynlik een van die moeilikste voëls om in Suid-Afrika te sien, sê Martin.

Hulle kom net in ’n klein deel van die land voor en verkies sandwoude. Jou beste kans om een te sien, is in die Mkhuze-natuurreservaat.

Kies koers Kumahlala-uitkykpunt toe, of probeer die sandwoud naby die Kubube- en Kumasinga-uitkykpunt.

  • Bly hier:
Drakensberglewerik.

Drakensberglewerik

Die lewerik is een van die moeilikste klein, bruin nommers om te gewaar.

Hulle het baie spesifieke habitatvoorkeure en kom net in die hoë grasvelde in die ooste van die land voor, en is boonop bedreig.

As jy hom wel van naby genoeg te sien kry, is hy maklik om van ander lewerikke te onderskei, met sy kroonvere wat soos horinkies kant toe staan.

Goeie plekke om te gaan soek sluit in Wakkerstroom, Belfast, Waterval Boven, Ermelo, Verkykerskop en Memel, sê Martin.

  • Bly hier:
Visuil.

Visuil

Dié groot uil is op sowel Martin as Gareth se moet-sien-lysie. Dis een van die voëls wat die meeste voëlkykers grys hare gee omdat hulle bedags een-een in digte bos skuil. Saans hou hulle doodstil riviere dop en duik dan poot-eerste af om vis te vang.

As jy gelukkig genoeg is om een te sien, kan hy maklik aan sy ligbruin onderkant en oranje-bruin rugkant, ronde kop en groot oë uitgeken word. Gaan soek in die noord-oostelike dele van die land, by riviere soos die Limpopo-, Olifants-, Sabie- en Krokodilrivier. Hulle is ook al rondom die St. Lucia-meer en ’n paar ander groot panne in KwaZulu-Natal gewaar, sê Martin.

  • Bly hier:
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.