Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Plus-grootte vroue moet besef wie hulle is’

Vir een van die Vrystaat se finaliste in die Mej. Suid-Afrika Plus-grootte Wêreld-eindronde 2019, is “daai vet-woord al lankal onder haar voete”.

Ingrid Maseilane (32), ’n finalis in die Mej. Suid-Afrika Plus-grootte Wêreld-eindronde 2019, buite ’n opslaankantoor van Kindersorg Bloemfontein, waar sy werk. Foto: Mlungisi Louw

Ingrid Maseilane (32), oorspronklik van Koffiefontein, lééf in haar lyf en dié soort etikette raak haar nie meer nie.

Sy oefen speels om gemaklik voor die kamera te wees.

“Dis my eerste skoonheidskompetisie. Volgende jaar April bring ek die kroon terug.”

Daar is 20 finaliste waarvan agt van die Vrystaat is.

Om ’n finalis te wees is net die hupstoot wat dié maatskaplike hulpwerker vir Kindersorg Bloemfontein nodig gehad het.

Sy wil binnekort maatskaplike werk begin studeer. Kindersorg het haar oor die jare gebou en die mens gemaak wat sy is.

“Dit gaan nie oor die prys nie. Die kompetisie het ’n paradigmaskuif binne my veroorsaak.”

Sy beskryf haarself as ’n “gewese slagoffer van ’n lae selfbeeld”.

“Ek het geweet daar is mooiheid aan my, maar ek het dit net van buite aanskou.”

Maar sy weet nou wie sy is.

“En as jy weet wie aan die binnekant is, sal jy jou familie en gemeenskap anders begin sien en positief beïnvloed.”

Dié hoopgewer speel ook vlugbal vir die Vrystaat en skryf fiksie in haar vrye tyd.

Haar eerste taal is Sotho, maar sy skakel seepglad oor na Afrikaans.

“Ek dink my liefde vir Afrikaans lê in die feit dat ek in die Xariep-distrik (in die Suid-Vrystaat) gebore is.”

Sy het reeds nege liefdadigheidsprojekte op haar kerfstok.

Ingrid Maseilane (32), ’n finalis in die Mej. Suid-Afrika Plus-grootte Wêreld-eindronde 2019. Foto: Mlungisi Louw

Haar hart lê by kinders en plus-grootte vroue en om hulle uit ’n slagoffer-mentaliteit te kry.

“Dié wat moes hoor hulle is vet, hulle is niks, hulle is dom, hulle sal nooit iets word nie . . .

“Vir hulle wil ek sê: jy hoef nie jouself in ’n dun stelsel in te forseer nie.”

Wanneer jy vrede het met wie jy is, ervaar die mense rondom jou ook vrede.

“Soms weet mense hulle het potensiaal, maar hulle weet nie hóé om dit uit te leef nie. Ek is daar om te help met die hoe-gedeelte.”

Sy raak ook, nes ander plus-grootte vroue, gefrustreerd met die tekort aan klere in haar grootte.

“Vroue moet glo hulle is mooi in God se oë en dat hul storie baie lewens kan aanraak.”

Sy is bekommerd oor haar tuisdorp Koffiefontein, wat die afgelope paar maande onder voortslepende onluste en betogings gebuk gaan.

“My pa bel my en sê hulle skiet in die straat. Mense huil.”

Maar kort voor Kersfees gaan sy huis toe, kom wat wil.

“Huis is waar die hart is. Omdat ek ’n visie vir die plek het, is ek opgewonde. Daar is hoop vir Koffiefontein.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.