Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Pofadder(s) braai tesame vir Huis Sophia
Johannes Waterboer en Jandrie Steenkamp wys hoe derms gebraai moet word. Foto’s: Charné Kemp

Die omgeegroep van Huis Sophia, ’n aftreeoord in Pofadder, is in sy skik met die inkomste van die eerste vleisbraaidag waarin Boesmanlandse vleis, binnegoed en roosterbrode vir honger dorpenaars en toeriste gebraai is.

Naas die braaigoed wat Saterdag oor houtvure gaargemaak is, was pannekoek en poeding ’n verdere bederf.

Die inkomste is genoeg om ’n afdak te bou vir Huis Sophia se inwoners wat graag op die stoep sit en uitkyk. Een van hulle is oom Tore van Niekerk, wat ’n boer was. Hy sit graag hier in sy rolstoel, maar wil nie deur die son verbrand word nie.

Die vrywilligers wil soveel as moontlik bydra om die ouetehuis te ondersteun.

Hulle het almal familie en vriende hier.

Op hul beurt het personeellede en vrywilligers van Huis Sophia sowat 400 pannekoeke gebak ter aanvulling van die bonusfonds waaruit personeellede aan die einde van die jaar vir hul harde werk beloon word.

Die vleisbraaidag is op Luise Niemöller se erf in die dorp gehou. Luise het die poeding gemaak.

Niemöller, Annas der Merwe, Jannie Kruger, Wilhelm van Niekerk, Abrie van Niekerk, Alida van Niekerk en Jandrie Steenkamp is stigterslede van die omgeegroep.

Willem Wium, Jannie Kruger, Wilhelm van Niekerk en Abrie van Niekerk maak reg om die vleis te braai vir die verkoping om geld in te samel vir Huis Sophia in Pofadder.
Derms, skilpadjies en skaapstertjies is onder die braaigoed.

Van der Merwe is bekend vir sy braaivernuf. Hy het vetderms, skilpadjies, lamsharte, skaapsterte en hoenderkwarte gebraai. ’n Rooikop-boerbokrib se karkas is ook oor die kole staangemaak.

“Elke stukkie vleis is lekkerder as die ander. As ek eers begin braai, wil die mense vuisslaan soos hulle dit wil eet. Die derm, sommige mense se grilgoed, het ’n wilde smaak; ek spice hom sterk. Hy moet gebraai word tot hy breek, krakerig is, anders is hy ’n taai, sawwe ding.

“Die hart moenie droog gebraai word nie, maar die lamsharte kan so ’n bietjie pienk wees. Die braaier proe gereeld of die lewer binne in die skilpadjies gaar is, hy moenie doodgebraai wees nie.

“Die hoender, wat ek vir die aardigheid braai, is vir die mense wat van groente hou.”

Alida van Niekerk sê hulle het 48 kg wors en vyf slaggoed se vleis gebraai en verkoop. Van die vrywilligers of hul vriende of boere uit die omgewing, het die karkasse geskenk. Sy het ook gemmerbier verkoop.

Die vroue wat pannekoeke by Huis Sophia gebak het. Links van die tafel is Sanet Bothma, Patricia Cloete, Irista van Rooi en Trix Maas. Oorkant hulle is Annatjie de Klerk, wat met Luise Niemöller (heel regs) praat, en Joey Visser met haar rug na die kamera.

Annatjie de Klerk, wat die administratiewe bestuur by die ouetehuis behartig, het saam met kollegas en vrywilligers agter die gasplate pannekoeke uitgeryg. Haar resep met 20 kg meel is gebruik om die deeg aan te maak.

“Die ACVV wat die ouetehuis bestuur, hou gereeld geleenthede waarby hulle kerrie-en-rys, vetkoek-en-maalvleis of jaffels verkoop of hou ’n koekiefees of maak spesiale maaltye vir Moedersdag om geld in te samel.”

Vir meer behoeftige inwoners stort die ACVV-tak geld in ’n losiesfonds.

Volgens Trix Maas, wat vroeër by die ouetehuis gewerk het, is die samesyn en kuiery van só bakkery die lekkerste, veral nadat hulle vir ’n jaar lank weens die Covid-19-pandemie geen gesellighede kon hou nie.

Meer oor:  Huis Sophia  |  Aftreeoord  |  Pofadder  |  Vleisbraaidag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.