Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Poppie Nongenas’ van Bfn praat oor hul seer
Die “Poppie Nongenas” van Bloemfontein. Elizabeth Molefe (57) van Botshabelo en Elsie Kgantse Mahapi (59) van Phahameng, twee huiswerkers, was Dinsdag diep geraak deur die fliek ‘Poppie Nongena’, wat onder meer by die Northridge Mall wys. Foto: Charles Smith

“Dit was mooi, maar so verskriklik seer.”

Vir Elizabeth Molefe (57), ’n huiswerker van Botshabelo buite Bloemfontein, was Poppie Nongena meer as net ’n fliek.

“Dit is my storie.”

Sy en Elsie Kgantse Mahapi (59) van Phahameng in Mangaung het Dinsdag, presies 30 jaar nadat Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is, vir die eerste keer hul voete in ’n fliekteater gesit.

Die trane het vrylik oor hierdie twee oumas se wange gerol wat hul pyn in die apartheidsjare as jong trekarbeiders deur Poppie Nongena se swaarkry herleef het.

Albei werk reeds meer as 30 jaar as huiswerkers.

Molefe vertrek steeds elke dag om 04:00 uit die apartheidsdorp Botshabelo om in ’n huis in Bloemfontein te werk. By hulle is die owerheid se dienslewering nog swakker as in die stad.

Vlug van polisie

Sy wys na ’n litteken op haar been toe sy as vyfjarige oor ’n hek moes spring om vir die polisie te vlug toe sy by haar ma in Hospitaalpark in Bloemfontein gekuier het.

Dit was tydens die politieke onrus in 1976 en sy het uit Sterkspruit in die Transkei gekom en lief geraak vir Afrikaans danksy haar ma se werkgewer se kinders.

“In die laerskool het ek lief geraak vir boeke soos Trompie en Die Droomboom.”

Molefe en Mahapi het saam geneurie aan ’n troosliedjie wat Poppie (gespeel deur Clementine Mosimane) vir haar werkgewer (Anna-Mart van der Merwe) se dogter sing.

Hulle het ook die vrees herleef toe die “comrades” opruk in weerstand teen die skoolstelsel wat verafrikaans.

Lank nadat die erkennings oor die skerm gerol het, het hulle bly sit.

Terug huis toe sonder 'n werk

“Ek dink hulle het daarin geslaag om ons storie te vertel, dit herinner my aan waar ek vandaan kom,” sê Molefe ná ’n lang stilte.

Wat haar vir lank sal bybly, is toe Poppie moes teruggaan huis toe, sonder ’n werk.

“Daardie gevoel as jy moet sien hoe jou kinders honger ly en jy niks kan doen nie. Daar is niks erger nie.

“Dinge is darem nou beter. My beker en bord lyk dieselfde as joune.”

Mahapi, wat tot dusver stil was, raak bewoë.

“As jy kuiergaste gehad het, moes jy dit by die polisie aanmeld.”

Sy verstaan ook Poppie se geloofswroeging en geveg met haar gesin, wat ’n toordokter wil raadpleeg om uit hul omstandighede te kom.

Die ander kykers was deur die bank pensioentrekkers wat ooglopend ewe diep deur die fliek, geskoei op Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena, geraak is.

Ansa du Toit (72), ’n ander rolprentganger, kon op die vraag hoe sy die fliek ervaar het net na haar bors wys.

“Dit is so ongelooflik goed.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.