Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
PRAGFOTO’S: 'n Dekade van Catherine se styl

Sjiek en stylvolheid word as sinoniem met Catherine, hertogin van Cambridge, beskou, maar hoe het sy die afgelope dekade haar styl aangepas? Arlene Prinsloo vertel.

Toe prins William Kate Middleton op ’n skihelling in Switserland soen, het die wêreld geweet, hier kom ’n ding.

En sy het uiteindelik op 16 November 2010 met ’n breë glimlag en haar oorlede skoonma se diamant-en-saffierring aan haar ringvinger langs William voor ’n mediakontingent in St. James-paleis gestaan.

Die donkerblou Issa-rok wat Catherine met die aankondiging van haar verlowing aan prins William gedra het, was die begin van Kate-koors. Die rok is binne dae uitverkoop. Foto: Getty Images

Die rompgedeelte van die donkerblou rok van Issa, wat lieflik om haar lyf gevou het, het saggies bo haar knieë geklok. Dié Issa-nommers is feitlik dadelik uitverkoop. Kate-koors het vlamgevat.

Sedertien word elke skoen, rok, bloes én bykomstigheid van Catherine ontleed. In haar vroeë jare as koninklike het sy nie ontwerpersklere gedra nie en haar klere was dus toeganklik vir die gewone vrou op straat. Later het sy ’n mengsel van sogenaamde High Street- en ontwerpsitems gedra.

Catherine op ’n besoek in 2011 aan St. Andrews, waar sy en William mekaar ontmoet het. Dié rooi pakkie was treffend, maar nie afgewerk om Catherine soos ’n handskoen te pas nie. Foto: Getty Images

Die skeppings van die ontwerper van haar trourok, Sarah Burton van die modehuis Alexander McQueen, is steeds ’n gunsteling in haar kas. Ander staatmakers is Erdem, Zara, L.K. Bennett, Emilia Wickstead en Catherine Walker.

Vandag is Catherine (hoe sy verkies om bekend te staan) een van die stylvolste adellikes.

As sy van ’n rok of baadjiepak se snit hou, skaf sy sommer ’n paar daarvan in verskillende kleure aan.

Dië pragtige pienk rok deur Sarah Burton van Alexander McQueen, was só ’n gunsteling dat Catherine die rok in ’n donkerder skakering laat maak het wat sy na prinses Eugenie se troue in Oktober 2018 gedra het. Die foto op Buckingham-paleis se balkon is met die Vaandelparade in Junie 2017 geneem. Foto: Getty Images
Die Sarah Burton-uitrusting in ’n donkerder pienk. Foto: Getty Images

Haar informele styl, veral as sy buitemuurse verpligtinge nakom, is ’n styfpassende langbroek of denimbroek, ’n eenvoudige bloes en gemaklike skoene.

Oor die afgelope dekade het sy ontslae geraak van een van haar stapel-stylelemente van haar eerste jare in die kollig – haar geliefde roomkleurige hoëhakskoene wat sy amper tot vervelens toe gedra het. Saam met die roomkleurige skoene het haar swart oogomlyner ook vergete in haar styl arsenaal gebly.

Koninklike kommentators en stylliefhebbers het jare pret gehad met Catherine se voorliefde vir die roomkleurige skoene. Hoewel veelsydig, het ’n rits verskynings in dié skoene modeliefhebbers ’n bietjie moedeloos gehad. Ná ’n paar jaar het Catherine se voetmodes van die veilige, maar ietwat vervelige roomkleur begin afgewyk. Foto: Getty Images
Pragtig, al word Catherine se voorliefde vir swart oogomlyner deur stiliste gekritiseer. Foto: Getty Images

As toekomstige koningin begin sy ook al meer juweelstukke uit koningin Elizabeth se versameling dra, soos die Lover’s Knot-tiara wat haar oorlede skoonma, Diana, prinses van Wallis, ook uit die koninklike versameling geleen het. Sy is ook vroeg in haar huwelik al met ’n pragtige diamantarmband van die koningin gesien.

Dié armband was ’n geskenk van prins Philip aan koningin Elizabeth. Catherine het dit al verskeie kere gedra. Foto: Getty Images
Nes ’n storieboekprinses. Catherine met haar ontslape skoonma, Diana, se Collingwood-oorbelle, die Lover’s Knot-tiara en ’n pêrel-en-diamanthalssnoer uit koningin Elizabeth se persoonlike versameling. Foto: Getty Images
Die ongelooflike Nizam van Hyderabad-diamanthalssnoer. Foto: Getty Images

Haar geliefde verloofring word selfde afgehaal. Daarmee saam dra sy ’n ring met edelstene rondom en ’n trouring van Walliese goud. Al haar juweliersware is nie stukke wat in kluise gebêre word nie. Sy dra gereeld oorbelle wat sy in die winkel Accesorize vir slegs ’n paar pond gekoop het!

Catherine se trouring van Walliese goud en haar saffier-en-diamantring. Foto: Getty Images

Catherine se brunet lokke is een van haar grootste stylbates. Sy is glad nie skaam om met gryserige hare wat uitgroei in die openbaar te verskyn nie. Die kuif wat sy ná prins George se geboorte laat sny het, het vinnig uitgegroei. Verder eksperimenteer haar haarstilis met sonstrepies in haar welige lokke. Veral vir onthale in die aand of meer formele geleenthede word haar brunet lokke in lieflike style gekap.

Haar “mammakuif” is kort ná prins George se geboorte gesny, maar sy het vinnig besluit om die kuif te laat uitgroei. Foto: Getty Images
Catherine se dik bos brunet lokke is een van haar grootste stylbates. Sy wissel die lengte af en haar stilis eksperimenteer soms met ligstrepe. Foto: Getty Images
Catherine se hare is vanjaar ná die lang Britse somervakansie ietwat ligter met sonstrepe. Foto: Getty Images
’n Paar grys hare wat uitgroei is geen probleem vir Catherine nie. Foto: Getty Images

Catherine se styl is tydloos en klassiek. Dit is vanselfsprekend meer verfynd as toe sy vir die eerste keer as ’n student in haar twintigs aan William se sy opgemerk is.

Nou kan sy kus en keur uit ontwerpersklere wat nommerpas vir haar skraal lyf gemaak word. Tog is sy glad nie skaam om uitrustings meer as een keer na openbare geleenthede toe aan te trek nie.

Sy het die afgelope jaar ook meer begin waag met sterker kleurkombinasies, gestileerde langbroeke en langbroeke met wye pype. Haar handtassies het ook dan en wan begin plek maak vir treffende handsakke, selfs een van Chanel.

Langbroeke met wye pype het vanjaar die eerste keer hul verskyning in die hertogin se kas gemaak.Foto: Getty Images
’n Olyfgroen langbroek en wynrooi gebreide top was ’n absolute modetreffer. Foto: Getty Images
2019 was die jaar waarin Catherine se handtassies begin plek maak het vir ’n normale grootte handsak, soos dié roomkleurige sak waarmee sy vanjaar Wimbledon bygewoon het. Foto: Getty Images
Dié silwerkleurige handtas met ’n groot by is vanjaar vir die eerste keer gesien. Foto: Getty Images
Die Chanel-handsak van Catherine. Sy het vanjaar interessanter handsakke begin dra in plaas van haar gebruiklike handtassies. Foto: Getty Images

Dit is asof haar se styl as’t ware al meer koninklik word soos die jare aanstap – soos dit ’n toekomstige prinses van Wallis en koningin van Engeland betaam.

Hoede

Catherine in 2010 kort voordat haar en prins William se verlowing aangekondig is. Met ’n groter begroting vir klere en bykomstighede het veral haar hoedestyl baie meer verfynd en duursaam geraak. Foto: Getty Images
Catherine vanjaar by die orde van die kousbandplegtigheid in Windsor-kasteel. Groot of klein, dié hertogin kan aan enige hoed reg laat geskied. Foto: Getty Images
Die pragtige haarbande wat sy dra, is geskik vir openbare verskynings, maar laat steeds reg aan haar pragtige hare geskied. Getty Images

Die wighakke
Catherine in Julie 2010 by ’n polowedstryd waarin prins William gespeel het. Met haar los hare, rok hoog bo die knie en wighakskoene het sy omtrent aandag getrek. Foto: Getty Images

Wighakke – en dan nog so hoog, is steeds deel van Catherie se modestyl. Foto: Getty Images
Die dag ná hul troue op 29 April 2011. Catherine en William verlaat Buckingham-paleis die oggend ná hul huweliksonthaal. Catherine het weer wighakke gedra, ’n korterige blou rok en ’n baadjie. Foto: Getty Images
Die sportiewe Catherine het op ’n koninklike toer aan Australië sommer met haar wighakskoene oor die bekende Manlystrand in Sydney gedraf. Foto: Getty Images

Aanddrag
Sedert sy in 2011 met prins William getroud is, is Catherine se aanddrag ’n voltreffer. Foto: Getty Images
Catherine vanjaar saam met prins William by die Royal Variety-konsert wat by die Royal Albert Hall in Londen aangebied is. Foto: Getty Images
As koninklike word daar verwag dat Catherine se aandrokke nie te waaghalsig is nie, met dié aandrok het sy die perfekte balans gehandhaaf tussen ’n waaghalsig en tog betaamlik. Foto: Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.