Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Pres. Kruger-huis rig toekoms

Die uiterlike van die gebouekompleks aan die regterkant van die pad as jy Reddersburg van Bloemfontein af inry, gee min weg van die lewendige interaksie en huislike atmosfeer daarbinne.

Dié kompleks huisves sedert 1961 die Gereformeerde Kerk se President Kruger-kinderhuis, een van twee in die land.

Hoewel hartseer omstandighede daartoe lei dat kinders hierheen kom, is hier soveel verhale van hoop wat elke dag hier afspeel.

Die President Kruger-kinderhuis in Reddersburg verskaf reeds sedert 1961 ’n veilige hawe aan kinders. Foto’s: Siska Martin

Hier hoor jy die verhaal van ’n seun wat 11 jaar lank in die kinderhuis was en nou reeds besig is met sy tweede jaar van indiensopleiding by ’n bekende hotelgroep.

’n Meisie wat agt of nege jaar lank hier was, het ’n verpleegkundige geword en werk nou by ’n ouetehuis.

Kinders wat die kinderhuis verlaat, kom gereeld “huis toe” vir vakansie, want “huis” is waar jou familie is, waar jy veilig voel, waar jy tuis is en waar jy onvoorwaardelik aanvaar word.Geleenthede gegeeDie lys van verhale van hoop hou aan – verhale van geleenthede gegee en aangegryp.

Danie Noeth, wat saam met sy vrou, Jolandé, die afgelope twee jaar aan die hoof van die kinderhuis staan, beklemtoon die hooftaak van die kinderhuis is om vir kinders geleenthede te gee. “Ons gee hulle die geleentheid om aan sport deel te neem, om drie etes per dag te kry, om ’n veilige bed te hê – hulle moet net hul geleenthede gebruik.”

Danie en Jolandé Noeth is die afgelope twee jaar die huisouers van die President Kruger-kinderhuis in Reddersburg.

Op enige gegewe tyd is hier sowat 60 kinders in die kinderhuis – rofweg helfte seuns en helfte meisies – met ouderdomme wat wissel van vier tot 18 jaar. Die kinders is hoofsaaklik in die Landbouskool Hendrik Potgieter in die dorp, ’n plaaslike kleuterskool en dan ook in drie Bloemfonteinse skole waar hulle koshuisinwoners is. Laasgenoemde word sover moontlik elke naweek gaan haal.

Moeite word gedoen dat kinders op geen manier uitstaan in die skole waar hulle is nie. “Ons maak seker hulle is goed toegerus, ook wat betref sakgeld, kospakkies en wat hulle ook al nodig het. Hulle word ook geleer om nie die kinderhuis-kaart te speel as ’n verskoning vir enigiets nie,” sê Danie.

’n Terapiekamer is ook op die terrein ingerig sodat kinders hier terapie kan kry. In die verlede moes kinders vir die dag uit die skool gehaal word om na Bloemfontein te gaan. Nou is daar op Maandae en Dinsdae terapeute en kinders hoef net vir die duur van hul afsprake skool te mis. Tussen agt en tien kinders kan nou op ’n dag gehelp word. Boonop doen een van dié terapeute ook evaluasies vir skole en aanlegtoetse en kan kinders dadelik in die beste skole vir hul spesifieke behoeftes geplaas word.Sport en vakansiesSportdeelname is vir Danie belangrik en die kinders word aangemoedig om aan rugby, netbal, perdry en ander buitemuurse aktiwiteite soos jeugskou en revue deel te neem.

Die huislike en sonnige sitkamer in die meisiesafdeling van die President Kruger-kinderhuis in Reddersburg.

Hy vertel die mooi storie van die Landbouskool Hendrik Potgieter se o.11-rugbyspan wat uit net 14 spelertjies bestaan. Sewe van hulle is kinderhuis-kinders. Dié spannetjie het net een wedstryd, teen die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort, in die Bloemfonteinse B-liga waarin hulle deelgeneem het, verloor. “As een siek of beseer is, moet hy net daar eenkant op die veld staan, anders is daar te min spelers op die veld!”

In skoolvakansies word kinders sover moontlik by hul eie ouers of gasouers uitgeplaas. Daar is egter op enige gegewe tyd tussen 12 en 18 kinders in die vakansie in die kinderhuis. Vir hierdie kinders word allerhande aktiwiteite soos hengelnaweke, ’n seevakansie en daguitstappies gereël.

In die kleuters se kamer lê Barnie en ’n bruin beer styf teen mekaar op ’n pienk kinderbedjie.

Wanneer mense vir Danie vra hoe dit by die kinderhuis gaan, is sy antwoord gewoonlik dit gaan goed, maar dit gaan ook sleg, want die kinderhuis is nog vol. Die einddoel van die kinderhuis is immers gesinshereniging – om kinders terug te plaas in hul ouerhuise of by ander geskikte gesinne. Verlede jaar is agt kinders uitgeplaas, die meeste by hul eie ouers.Lewe ná die kinderhuisKinders word deur die wet in die kinderhuis geplaas totdat hulle 18 jaar oud is, of hulle klaar is met skool of nie. Daarna kan die kind kies of hy of sy wil aanbly en skool voltooi of die kinderhuis wil verlaat.

Danie beklemtoon egter dat geen kind die kinderhuis verlaat sonder dat hulle weet wat van hom of haar gaan word nie. “Ons help hulle om werk te kry en op hul voete te kom. Hulle het ’n ketel, bed en die eerste maand se huurgeld nodig – hulle bly nege of tien jaar by ons en ons kan hulle nie net los nie, hulle is ons kinders.”

Veral vir hierdie naskoolse kinders doen die Vriendekring van die President Kruger-kinderhuis baie. Geld word jaarliks ingesamel om hierdie kinders te help – hetsy studente met studiegeld of met basiese benodigdhede om huis op te sit.

Jolandé noem die kinderhuis het vanjaar slegs een matrikulant, maar volgende jaar is daar vier, dan weer twee en in 2022 kan daar nege wees. Die Vriendekring moet dus nou reeds voorsiening maak vir daardie kinders.

Benewens basiese benodigdhede word die kinders ook gehelp om ’n begroting op te stel.

Sommige kinders kan ná twee maande onafhanklik funksioneer, ander moet vir drie jaar gehelp word. Elkeen word egter op eie meriete hanteer.

Die Vriendekring help ook kinders wat nog in die kinderhuis is en op provinsiale en nasionale vlak presteer om hierdie geleenthede aan te gryp.

Sowat tien mense is nou by die Vriendekring betrokke en nog mense word benodig om hulle by dié groep aan te sluit. Belangstellendes wat betrokke wil raak, kan Danie by 083 325 1188 bel.

Oulike ligte en vrolike beddegoed verfraai die laerskoolmeisies se kamers.
'n Feetjielig hou wag oor die kleuters in hul kamer in die Pres. Kruger-kinderhuis.
Die bord in die Pres. Kruger-kinderhuis se eetsaal waarop inwoners en personeel se verjaardae aangeteken word.
Meer oor:  Reddersburg  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.