Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
President en kie speel blindemol

Die owerhede het hul hande vol gehad om smokkelary in sulke kanne stop te sit.
Ná ’n insiggewende besoek aan ’n dranksmokkelmuseum in Estland, besef Christo Lombaard net weer dat geen regering werklik alkohol kan verbied nie.

Die onverbiddelike “Ahem, nee!”-refleks van die Suid-Afrikaanse regering oor drank en sigarette gaan ’n mens se verstand te bowe.

Min. Nkosazana Dlamini-Zuma (NDZ) se gebooie is selfs strenger as die evangeliste s’n wat tentkerke opslaan en “Bekeer jou!”-spoegspatpreke (hopelik mét ’n masker aan deesdae) uitbulder oor alles wat jou in die hel sal laat beland. Ten minste bied hierdie predikers aan jou ’n beloning ook – die hemel. Dalk selfs, in die effe vryer tentkerke, ’n nagmaalkelk met ’n ou soetetjie.

NDZ se medewetmaker Bheki Cele belowe jou egter net die tronk, sou sy pionne jou sonder ’n kwitansie betrap. Geen wortel nie; net ’n lat.

Skoolsgeite
’n Gelaaide smokkelboot onderweg na Finland.

Gepraat van lyfstraf. Waar daar ’n lat is, is daar altyd die rebelle wat ’n waagstuk sal probeer. Onhebbelikhede, soos ’n skelm trek op veldskool aan ’n onderwyser se pyp, is amper ’n verpligte teenreaksie op streng reëls.

Die volksmond-verwysing van “sondebelasting” wat styg wanneer drank- en sigaretpryse jaarliks buite verhouding verhoog word, herinner jou dalk met elke trek en slukkie dat jy jou besig hou met iets halftaboe. Dieselfde geld die goedige grappies oor jou dop wat jy gou agter jou sitkamerstoel moet wegsteek wanneer die ouderling onverwags vir ’n huisbesoek opdaag, of oor ’n priester, rabbi en imam wat by die kroeg instap en elk ’n “non-alkoholiese” sopie bestel.

Natuurlik is daar die teenkant ook: die geweld wat met smokkelbendes gepaard gaan; die polisiekorrupsie – smokkel se staatsbewapende handlangers.

Wat ’n mens laat wonder, maar hoe kan so ’n domme verbod nog steeds probeer word? Tensy jy as wetmaker verwag dat jou vriend in die smokkelhandel jou iewers nog ’n blykie van waardering, skies vriendskap, sal gee. (Ons onthou mos nog goed hoe sulke blykies in oudpolisiehoof Jackie Selebi se tyd hande verwissel het.) Die onsinnighede stapel so op, selfs Suid-Afrikaners verloor hul humorsin. En dit sê nogal iets . . .

Kom ons gestel die NDZ-banvloek is werklik totaal onskuldig en opreg bedoel, al lyk dit allesbehalwe so. Op die allerminste, is dit na my mening, skandalig oningelig. Want weet ons kabinet dan nou niks van die VSA se drankverbod in die 1920’s nie? Jy kan skaars Netflix aansit, of jy sien weer hoe die Amerikaanse mafia sy eerste houvas gekry het . . .

Dié tienliter-kanne was net die regte grootte om maklik in ’n boot weg te steek en ook nie te swaar om te dra nie. Foto: Christo Lombaard

Kanne kô hystoe

Internasionaal minder bekend as die VSA-drankverbod in die 1920’s, is die “droë Finland”-wet uit dieselfde era. Heelwat van die lande in die noorde van Europa het dit probeer, almal met goeie bedoelinge: volksgesondheid. Almal het misluk.

Telkens omdat die gepaardgaande misdadigheid net te erg geword het.

Tot op dese dag is die einste Finland bekend vir hul drinkkultuur wat nou nie juis gekultiveerd is nie: soveel (meestal) vodka, so gou as moontlik, om so dronk as moontlik te word. Met as begeleiding: heavy metal-musiek. Dié is skoon al ’n cliché oor die Finne, maar nie sonder rede nie . . .

Dis ’n ander tipe drankgenot as myne: hoe ’n drankie proe en die kos-wyn-smaakspel is deel van my lewenslus.

Terwyl Suid-Afrikaners nou droë keel moet sit (of is dit die geval?), bevind ek my naby Finland, in die piepklein Estland. Dis ’n landjie in die noorde van Europa met swak weer, ’n aardige taal (oftewel “keel”) en ’n super-geordende samelewing vol tegnologiese voorbokke. Die koronavirus het my hier in beter omstandighede gestrand as wat omtrent al my Suid-Afrikaanse landgenote beleef. Sonder eers ’n gedagte om goed te wil verbied (want ’n mens wéét mos . . .), maak dié instinktief wetsgehoorsame burgers, met ’n uitstekend funksionerende staat en ’n ingeburgerde skugterheid, dat die viruskrisis hier nagenoeg oorwonne is. (Die plaaslike kwinkslag is: Dankie tog die “bly twee meter van mekaar af weg”-aanbeveling is nou afgeskaf. Uiteindelik kan ons nou soos tevore weer vyf meter van mekaar af bly.)

Jakob Kain (links) was een van die Estlanders wat sy fortuin uit drank smokkel gemaak het. Hierdie foto is in 1928 geneem.

Die gasvryes hier nooi my, ’n skynbaar eksotiese Afrika-mens, saam op ekskursies. So bevind ek my verlede Sondag op Purtse, ’n moderne hawe-gehuggie in die noordoostelike deel van Estland, 140 km van die hoofstad Tallinn af.

Daar’s nou ’n uitstekende restaurant (die Estlandse koskultuur bly ’n mens verbaas).

Ek kom gereeld in hierdie geweste en restaurante se kwaliteit is wêreldklas.

Vanweë flieks soos Babette’s Feast, kry ’n mens die idee dat die noordelike koskultuur maar droërig is. En dis tog waar van die tradisionele koskultuur: Hier het ek geleer wat die woorde new potatoes beteken. Dis vir maande lank te vrek koud om dit buite te waag en bitter min groei in die sneeuwinters. Groente word gevolglik vir lánk in kelders gestoor. Aartappels kry sulke dik velle. In Suid-Afrika het ons dus nét new potatoes.

Bloedwors, verivorst in hul taal, is nog ’n voorbeeld. Dit word gemaak van gars, marjolein, piment en natuurlik bloed, gestop in varkderms.

Alles kos wat wys die voorouers was maar arm. Ook g’n wonder nie, hulle is deur die eeue heen deur nagenoeg almal ingeneem.

Maar terug by die onderwerp van drank. Suid-Afrikaanse wyne is volop en gewild hier. In restaurante baie duurder as tuis, in die winkels net effe meer.

Dan weer die onderwerp van smokkel.

Die Tulivee-museum op die Liimala-strand. Foto: Visitestonia.com

In Purtse is daar ook nou ’n klein museum, gewy aan – kan jy glo? – dranksmokkelary ’n eeu gelede.

Dit is nie die enigste smokkelarymuseum op aarde nie, maar is heel waarskynlik die enigste een oor spesifiek dié onderwerp. Dit is ’n eenvertrek-affêre: ’n mens wil nou nie wetsoortreders oordrewe verheerlik nie. Maar gis-skiedenis bly geskiedenis. Vandaar hierdie museumpie. (Met reuse-finansiering van die Europese Unie bewimpel – wat, moet ek erken, half smokkel met my kop.)

Die vertrek is baie modern. Dit lyk soos ’n boot wat omgekeer is, met die balke sigbaar. Of dalk soos ’n walvis se beendere.

Daar is ’n paar rakke met smokkeltoebehore en blikkanne, ’n groot televisie waarop die storie van smokkelhandel van weleer vertel word en ’n paar inligtingsplakkate en foto’s.

’n Eeu gelede, toe die buurland Finland “droog” verklaar is, het die Estlandse vissermanne in hierdie gehuggie van Purtse daaruit munt geslaan. Gróót munt!

Die Purtse hawe met plek vir 18 bote. Foto: Visit­estonia.com

As jy ’n bootjie-vrag vol Duitse of Poolse vodka-kanne net so oor die 100 km ver oor die klein Oossee suksesvol Finland toe kon smokkel, het jy maklik ses maande se inkomste op ’n slag verdien.

Natuurlik was daar gevare. Tronkstraf. Bendegevegte. Ontevrede verskaffers of klante. Seestorms. Ysige koue – volgens Suid-Afrikaanse standaarde, wintertemperature vir minstens nege maande van die jaar, met die see wat weke lank kan toevries. Alles dinge wat jou jou lewe kan kos.

Maar as die wins groot genoeg is, is daar altyd mense wat ’n kans sal waag. En sommige van hierdie waaghalse het selfs hul nageslag op stewige finansiële voet gelaat. Dit is nog altyd die trekkrag van smokkel: daar is ’n goudpot vir die gelukkiges aan die punt van dié bose boog.

Dit is hierdie gebeure wat herdenk word by die dranksmokkelmuseum in Purtse.

Die naam van die museum, “Tulivee” – letterlik: Vuurwater. ’n Naam in baie tale vir sterk drank, en ’n goeie skimp op ’n seesmokkelweg. Gaan kyk gerus op hul webblad: www.tulivee.ee. (Tensy jou Estnies of Russies skaflik is, klik op die knoppie vir Engels.)

Flinkdrink

Die gebruikers van smokkelsigarette en -drank het vanselfsprekend nie altyd die grumisdade teenoor en deur die draerbendes in gedagte nie. Almal dink óf nie daaraan nie, onskuldig, óf hoop maar dat in hierdie geval daar nie sulke wandade betrokke was nie.

Jy drink dalk net vir die plesier, of gevaarliker, à la Anton Goosen en Sonja Herholdt se “Harlekyn”, vir die “lag en traan en pyn”. Soos die ou gesegde dit dan sou stel: almal praat oor sy drink, maar niemand dink oor sy dors nie.

Jy gaan hierdie menslike luste nie gestop kry nie. Vee die behoeftes van die lyf onder die mat in en al wat jy kry, is dat jy bolangs kyk. Jy sien nie wat regtig aangaan nie. Maar blindemol speel, beteken nie die werklikheid is regtig weg nie.

Intussen word al hoe meer voorheen wetsgehoorsame burgers nou ook smokkelaars en nóg meer knipoog-smokkelkopers.

Natuurlik was daar gevare. Tronkstraf. Bendegevegte. Ontevrede verskaffers of klante. Seestorms.

Dit is ’n holrugwaarheid in politieke en regstudie dat ’n wetgewer wat sy burgery grootskaals as misdadigers klassifiseer, sy eie geloofwaardigheid direk ondergrawe.

Natuurlik, voorspel ek en baie ander, sal daar ’n blitsvergifnis kom, wanneer die president oor ’n paar maande alle Covid-19-ondeundhede van die regsdatabasis laat vee.

Wat, ironies genoeg, net weer sal wys hoedat hierdie regering vir die reg en vir die burgers ewe min respek het.

Dalk word dít dan ons museum vir 2020 se bandeloosheid: ’n Regering sonder ’n misdadige nalatenskap.

Meer oor:  Koronavirus  |  Drankverbod  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.