Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Projek verkoop klere teen fraksie van prys in Potch

’n Gemeenskapsprojek in Potchefstroom stel mense nou in staat om op ’n menswaardige manier klere teen ’n fraksie van die gewone prys te koop.

Hiermee word twee wêrelde bymekaargebring: Dié van mense wat nie ’n oorvloed het nie, en dié van mense wat nie weet wat om met die oorvloed klere in hul kaste te maak nie, sê Dewald van Breda, bestuurslid van die Potch-Tlokwe Sakekamer in Potchefstroom.

Ds. Janneman van Wyk (links), predikant van die Duet-gemeente in Potchefstroom, en Dewald van Breda van die Potch-Tlokwe Sakekamer, in die Second Life Goods Store in die stad. Foto: Susan Cilliers

“Dit is ’n barmhartigheidsprojek sonder winsbejag onder die sakekamer se vaandel, waarby verskillende kerke betrokke is. Baie mense, byvoorbeeld studente, moet werklik hul sente omdraai om deur die maand te kom.”

Die winkel se slagspreuk is “dra, deel en gee om” – die kernbeginsels waarop die onderneming gegrond is.

Van Breda en ds. Janneman van Wyk van die Duet-gemeente in die stad het Donderdag in die Second Life Goods Store verduidelik dat die projek die geesteskind van kerk- en sakeleiers in die stad is.

Die winkel het op 1 April in die Gerrit Worst-saal oorkant die NG Moedergemeente in Potchefstroom geopen.

Lezelle Coetzee, bestuurder van die Second Life Goods Store in Potchefstroom, in die afdeling vir babaklere.Foto: Susan Cilliers

Dié gemeente, wat ook betrokke is by die projek, het die saal nou op ’n permanente grondslag vir die projek beskikbaar gestel.

Die resultaat laat ’n mens se hart sommer warm klop: Wanneer jy hier instap, voel dit kompleet of jy in ’n winkel is. Mans-, vroue-, kinder- en babaklere word afsonderlik uitgestal en volgens groottes gesorteer. Hier kan jy ook komberse, skoene, handsakke en serpe uitsnuffel. Net soos in ’n konvensionele winkel is hier ook estetiese dekor, en die klere kan aangepas word.

Lezelle Coetzee bestuur die winkel met die hulp van talle vrywilligers.

Lezelle Coetzee, bestuurder van die Second Life Goods Store in Potchefstroom, hou komberse vas wat ook in die winkel verkoop word.Foto: Susan Cilliers

Van Wyk sê by kerke en liefdadigheidsorganisasies is dit standaardpraktyk dat klere in houers aankom, waarvan behoeftiges dikwels maar net moet vat wat hulle kry.

“Die behoefte aan klere is groot en daar is beslis ’n enorme vraag na goeie tweedehandse klere. Ons verkoop dit hier teen rofweg ’n kwart van die prys wat jy in ’n winkel daarvoor sou betaal.”

Op die eerste dag wat die winkel geopen is, is 200 stukke klere al verkoop. Van Breda sê hulle het nie ’n spesifieke mark nie. Enigeen kan hier kom koop, en enige geskenkte items is welkom. “Ons sif self daardeur.”

Klere wat geskenk word, kan ook by die winkel gewas en gestryk word. Al die geld uit die verkope van die klere word in ander gemeenskapsprojekte teruggeploeg, sê Van Breda.

Lezelle Coetzee, bestuurder van die Second Life Goods Store in Potchefstroom, by die kinderklere in die winkel. Foto: Susan Cilliers
Die Second Life Goods Store in Potchefstroom. Van links is Dewald van Breda van die Potch-Tlokwe Sakekamer, ds. Janneman van Wyk van die Duet-gemeente in die stad en Lezelle Coetzee, bestuurder van die winkel. Foto: Susan Cilliers
Meer oor:  Potchefstroom  |  Klere  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.