Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Projekte spreek tot die siel

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) vier sy 90ste bestaansjaar. Ter viering van Erfenisdag wil hulle Afrikaanse erfenisse aan die breë Suid-Afrika bekendstel.

Verandering is eie aan die lewe, maar in 2020 is die mat onder ons voete uitgeruk.

Die lewe soos ons dit geken het, het in ’n oogwink verander. Die Covid-19-pandemie het die belangrikheid om te weet wie jy is en waar jy vandaan kom, onderstreep.

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) het ter viering van sy 90ste bestaansjaar vanjaar ’n bietjie gedelf in sy verlede en die waarde van erfenis eerstehands beleef. Om terug te stap op die voetspore vanmelewe se dae en die goeie én tradisie te vier, is ’n proses wat ’n mens met dankbaarheid en trots vul.

Hierdie geleentheid is elke mens, familie, kultuurgroep en nasie beskore. Vanjaar op Erfenisdag wil die ATKV elkeen aanmoedig om hul eie kultuur en geskiedenis te vier, maar ook om meer van iemand anders se eiegoed te ontdek.

Die meisieskoor van die Hoërskool Jeugland in Kemptonpark by ATKV-Applous.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW (maatskappy sonder winsbejag), glo dat Erfenisdag die geleentheid bied om die verskillende Afrikaanse erfenisse aan die breë Suid-Afrika en die wêreld bekend te maak.

“Ons jong mense het soveel om van baat te vind by die rykheid en verskeidenheid van ons Afrikaanse erfenisse. Dis daarom vir die ATKV belangrik om die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar deel te maak van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika.”

Oudpres. Nelson Mandela het in ’n toespraak in 2002 gesê Erfenisdag is een van ons belangrikste nasionale dae omdat ons die geleentheid kry om eenheid binne diversiteit te vier. Een manier waarop ons dit kan regkry, is deur ons eie erfenis te deel met ander, maar ook vir ander die geleentheid te gee om hul erfenis met ons te deel.

“Wanneer ons mekaar se eiegoed en kultuur begin verstaan, sal ons mekaar beter verstaan en só help om ’n beter Suid-Afrika vir almal te skep.

“Ek hoop dat ons land dit kan regkry om te midde van al die kulturele diversiteit ook hierin ’n gemeenskaplike samehorigheid kan vind en geniet.”

Paulo Coelho het gesê: “Kultuur help mense om mekaar beter te verstaan. En wanneer hulle mekaar se siel beter verstaan, is dit makliker om ekonomiese en politieke struikelblokke te oorkom. Eers moet hulle egter verstaan dat hul buurman uiteindelik net soos hulle is, met dieselfde probleme en dieselfde vrae”.

“Ja, vanjaar het die lewe vir ons ’n draaibal gegooi, maar as ons terugkyk na wat was, glo ek ons sal met ons projekte by die siel van mense uitkom. Dink aan die ATKV-Redenaarskompetisie waar jong mense die kans kry om hul standpunt te stel.

“Verlede jaar was #OnseFees ’n geleentheid waar die ATKV en strategiese vennote deur gemeenskappe trots Afrikaans en Suid-Afrikaans kon vier.

“Deur ATKV Applous kry jong mense die kans om hul menswees deur sang uit te leef. Van Afrikaanse liedere tot ’n tradisionele Afrika-lied – hier kry erfenis lewe een musieknoot op ’n slag.

“Die reikwydte en impak van Afrikaans is ook met die ATKV-Spelathon gesien. Dasha Levanets het saam met haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer toe sy ses jaar oud was. Sy kon destyds net Russies en Oekraïens en ’n bietjie Engels praat. Toe wen sy in 2019 die Spelathon-kompetisie in die afdeling gr. 10 tot 12 Afrikaans Eerste Addisionele Taal .

“Ek wens ek kan elke projek opnoem, maar laaste, maar nie die minste nie, is dit die askoektrappers wat vlerksleep en bokspring. Wanneer ’n mens in die Taalmonument se amfiteater sit en onder luide applous na die dansers kyk, weet jy onvoorwaardelik die riel is in hul siel.”

Of jy nou ’n vleisie op die kole gooi of nie, knyp ’n paar oomblikke af om aan jou erfenis te dink. Wat is dit waarop jy die trotsste is, dit wat in jou siel leef? Miskien is dit tyd om ook dit met ander te deel en hulle uit te nooi om ook hul sielsgoed met jou te deel.

Heel gepas lui die Chinese spreekwoord: Wanneer jou wortels diep is, is dit nie nodig om die winde [van verandering] te vrees nie.

Meer oor:  Atkv  |  Erfenisdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.