Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Prostetiese been hou hom nie van sportveld nie
Wian Hoffmann op sy gelukkigste – met ’n rugbybal in die hand. Foto: Melinda Stuurman

Wanneer hy op die sportveld uitdraf, kyk mense twee keer om seker te maak dat dié kranige rugby-, krieket- én hokkiespeler dit werklik met ’n prostese regkry.

Wian Hoffmann (16) van die Hoërskool Bekker in Magaliesburg se linkerbeen is sowat tien jaar gelede ná ’n fratsongeluk op ’n plaas in Hekpoort geamputeer.

Hy vertel hy en sy jonger broer het buite op ’n sleepwa gespeel terwyl sy ma skottelgoed gewas het. Die twee seuns het op die sleepwa se staaldeur geklim, maar die deur het losgekom. Wian het sy broer aan die een kant afgestamp en hyself het aan die ander kant met die deur op sy linkerbeen beland. Hy het ’n paar sekondes later sy bewussyn herwin.

“Ek kon voel iets is nie reg nie. Toe ek sien my been is beseer, het ek die sowat 30 m tot by die huis op my ander been gespring. Die huiswerker het die deur oopgemaak en my kamer toe gedra,” sê hy.

Sy pa is gebel om hom hospitaal toe te neem. Ná ’n paar dae moes sy linkerbeen onder die knie geamputeer word, omdat hy gangreen opgedoen het.

Die Hoërskool Bekker-leerling Wian Hoffmann laat nie toe dat sy prostetiese been hom op die sportveld terughou nie. Foto: Melinda Stuurman

“Ek was baie jonk en baie emosioneel. Dit het my ’n rukkie gevat om vrede te maak daarmee. My broer en suster het gereeld buite gespeel en ek was kort-kort bang hulle val in die swembad. Ná ’n ruk het ek opgestaan en vir my ma gesê ek moet na hulle kyk. Dit het my gehelp om aan te gaan,” sê Wian.

Hy is lief vir sport en is veral ’n goeie krieketspeler wat in 2019 as sy skool se Kolwer van die Jaar aangewys is. Hy speel ook flank vir die skool se tweede rugbyspan en blink as verdediger in hokkie uit.

Hy moet egter hard oefen om op sy spanmaats se vlak te bly.

“Sport maak my ’n beter mens. Dit wys my wie ek is en wat ek kan doen, en dit wys vir ander mense ek is normaal, ek kan aangaan met my lewe.

“Ek wil soos almal anders wees en ek wil nie hê hulle moet my anders sien nie, hulle moet my gelyk hanteer,” sê hy.

Hy kyk op na die rugbyspeler Cheslin Kolbe, want “hy is ’n klein rugbyspeler wat die grootste ouens tackle”.

Die Hoërskool Bekker se hoofseun, Neil Buitendag, gee die bal uit aan Wian Hoffmann. Foto: Melinda Stuurman

Sy prostetiese been het te klein vir hom geraak en daarom het die Hoërskool Bekker ’n geldinsameling begin om met die koste van ’n nuwe prostese te help. Onder die hutswoord #WhatChallenge is mense op sosiale media aangemoedig om ’n sopie melk en ’n sopie suurlemoensap te sluk om bewusmaking oor die insameling te skep.

Operation Healing Hands, ’n liefdadigheidsorganisasie, het hom oor Wian ontferm en maak tans vir hom ’n nuwe prostetiese been, asook ’n prostetiese lem waarmee hy sport kan beoefen. Die koste hieraan verbonde beloop sowat R150 000. ’n Gholfdag is ook vir 16 April gereël om geld in te samel, en Wian hoop hulle kan hiermee ook ander mense met gestremdhede bystaan.

“Ek wil eendag mense in sport help, mense wat dieselfde as ek deurgaan. Ek sal graag wil afrig en dalk motiveringspraatjies wil lewer. Ek wil vir mense sê hulle moet bly glo in wie hulle is en nie opgee nie, hulle moet aangaan met wat hulle het, want jy het nog jou lewe,” sê hy.

“As ek soms in die oggende opstaan en vir ’n oomblik voel ek wil nie aangaan nie, dink ek dat ek dankbaar is om nog ’n lewe te hê. God het my nog ’n kans gegee.”

Mense wat ’n bydrae wil maak of aan die gholfdag wil deelneem, kan die skool vir meer besonderhede kontak.

Meer oor:  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.