Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Rebelle, 5 toue en ’n houtbalk

’n Dowwe foto uit 1946, waar sy as ’n klein dogtertjie staan by die monument vir Slagtersnek, het Deonette Haggard aangespoor om weer die pad te vat na Longhope om opnuut ’n bekende baken op die Oos-Kaapse landskap en in die Afrikanergeskiedenis te verken.

Die voorblad van die novelle Skavont, deur J Albert Coetzee, oor Slagternek. ’n Kunstenaar van Pretoria, E. Halliday, het gebeure getrou uitgebeeld. Landdros Cuyler staan in sy blou ampsdrag, heel regs is een van die predikante, ds. Harold, en ’n jong seun, Marthinus Victor, sit in ’n boom om alles te kan sien.

Ongeveer 30 km buite Somerset-Oos op die N10 na Port Elizabeth, ongeveer ’n kilometer voor ’n mens die afdraai kry na die Longhope-sylyn en sy verlate stasiegebou, is ’n piekniekplek langs die pad. Dit lyk soos baie ander langs die land se hoofpaaie – ’n paar doringbome wat dapper skadu gooi oor ’n tafeltjie, bankies en ’n asdrom van beton.

Neffens die piekniekplek is ’n kampie met ’n tralieheining. Binne in staan ’n swart gedenknaald met sy rug gekeer na die pad en front ooswaarts, soos die grafsteen wat dit eintlik is.

Hier dwaal hartseer tussen die Karoobossies. Dis bewolk en die luggie roer die skugter pers blommetjies wat hier tussen die klippies groei liggies. Daar’s nie ’n voël in die vaal lug nie. Dis net die naald van die monument wat hemelwaarts smeek hier op die effense koppie in die bossievlakte. ’n Oorverdowende stilte heers – hier het stilte klip geword.

’n Helder dag in 1816

Dis 9 Maart 1816. Dis ’n helder dag met ’n goudgeel son in ’n blouselblou hemel. Voor die skavot met die vyf lusse wat van die dwarsbalk hang, staan die vyf ter dood veroordeeldes. Langs die trappies staan die laksman en sy assistent en langs die galg wag die oop graf (3 x 4 m). Agter die rye soldate is daar ook dragonders en dan die regeringsmense, bedroefde familielede en vriende. Die meeste mans sit op hul perde met hul gewere aan die sy. Die perde trippel onrustig rond en ruk aan hul teuels. Die vrouens se kappies verberg die trane, maar rukkende skouers verklap hul smart. Die doodsvonnis word hardop gelees, die dominee doen ’n gebed en een van die veroordeeldes versoek dat hulle vir oulaas ’n psalm saam met hul familie en vriende mag sing. Stadig en yl kom “Uit diepten van ellenden roep ek mond en hart” aan die gang soos meer en meer die knop in die keel wegsluk en saamsing.

’n Gedenkplaat op die stapel waar Freek Bezuidenhout doodgeskiet is. Foto: Facebook

Stephanus Bothma word toegelaat om met sy verdrietige vriende en familie te praat en hy maan hulle om die owerhede gehoorsaam te wees: “Neemt een exempel aan my”.

Toe die laaste note nog deur die bossies dwaal, klim die laksman op die lang luik en plaas die vyf agtermekaar met hul gesigte na die ooste gekeer. Nou kry hulle een vir een die lus om die nek. Hier het hulle die eed van onderlinge trou en verset teen die regering gesweer en hier betaal hulle nou met hul lewe vir hoogverraad. Die laksman, John Stopforth, was glo aanvanklik onder die indruk dit is net Prinsloo wat gehang sou word en het met net een tou opgedaag. Hy moes inderhaas nog vier toue uit die militêre store op Uitenhage laat kom.

’n Goddelike ingryping

Toe die luik van die galg wegval, het net een lewelose liggaam bly hang aan die galg. Die vier ander toue het gebreek en die omstanders het dit beskou as ’n teken van Goddelike ingryping en dat die vier mans vrygelaat moet word, maar landdros Cuyler het geweier. Die ander mans is een vir een met dieselfde tou gehang. Al vyf is in die enkele graf begrawe.

’n Stapel opgerig by die skeur wat die ingang tot die grot is waar Freek Bezuidenhout doodgeskiet is. Foto: Facebook

Dit was hierdie besluit van Cuyler wat bitterheid teenoor die Britte vir geslagte lank sou aanvuur. Cuyler het self glo gesê: “God geve dat ik nimmer weer een tweede terechtstelling van dezelfde sort moge bywonen”.

Alhoewel Andries Stockenström tevrede was dat gereg geseëvier het, het hy ook die manier van teregstelling veroordeel en opgemerk: “The whole affair from first to last, particularly the closing scene of horror, had made a most awful impression upon me.”

Die skavot het lank in wind en weer op dieselfde plek bly staan as somber herinnering. Dit het Carel Johannes van Aardt teen die bors gestuit om heeldag op sy plaas, Verkeerde Water (oftewel Vanaardtspos), daarteen te moet vaskyk. Toe dit tyd geword het om ’n nuwe opstal te bou, het hy toestemming van Cuyler gekry om die stellasie af te breek. Hy het die balk, van soliede geelhout en ongeveer 14 voet lank met geen splinters of breekplekke nie, op een van die buitemure van die huis aangebring waar dit uit die oog verdwyn het is.

Die Slagtersnek-monument in die veld 30 km buite Somerset-Oos. Foto: Verskaf

Dit was dalk wel uit die oog, maar nie uit die hart nie. Die Slagtersnekrebellie sou dalk net ’n voetnota in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gewees het, as dit nie was vir die omstrede teregstelling nie. Vir baie Suid-Afrikaners was dit ’n voorbeeld van wrede Britse onderdrukking en party meen dit was een van die oorsake van die Groot Trek – ’n betwisbare punt. Slagtersnek was tot so ’n mate ’n simbool van Afrikaner-verset dat die ZAR-burgers sowat 80 jaar later vir Leander Starr Jameson en sy trawante aan dieselfde balk wou ophang ná hulle mislukte inval. Gelukkig vir Jameson-hulle het president Paul Kruger hulle begenadig voor dit kon gebeur.

Slagtersknegte
Die nek wat as Slagtersnek bekend is, lê ongeveer 120 km noord van waar die teregstelling plaasgevind het. Die ware Slagtersnek het niks met ’n slagting te doen nie, alhoewel die meeste boere so gereken het. Inderwaarheid was dit die plek waar die slagtersknegte uit die Kaap die vee van die Tarka-burgers gekoop het.

Van varkhok tot museum

Die eer van die herontdekking van die historiese galgbalk kom eintlik die Voortrekkers van Somerset-Oos toe. Oom Victor Hulme, veteraan Voortrekker-offisier van dié beweging, wou tydens die simboliese ossewatrek van 1938 die Voortrekkers se geesdrif vir die volksverlede aanwakker. Daarom het hy ’n ou inwoner, oom Piet van Aardt van die plaas Goede Hoop, uitgenooi om die jongspan oor Slagtersnek toe te spreek. So hoor hulle toe van die ingeboude galgbalk in Carel van Aardt se huis naby Longhope-stasie. Carel Johannes was oom Piet van Aardt se oupa. Twee jaar later het hy die galgbalk aan Voortrekkers uit Upington gaan wys, maar toe was dit nie meer in die woonhuis nie. ’n Mnr Hart, ’n immigrant, was toe die eienaar van die plek en die ou woonhuis het vervalle geraak met die gevolg dat die deel waarin die balk was toe as varkhok gebruik is.

Deonette Haggard as kind by die Slagtersnek-monument. Foto: Verskaf
Die berugte balk is vir jare in die staatsargief in Pretoria bewaar. Foto: Slagtersnek
Die berugte balk word in Kaapstad gelaai op pad na Somerset-Oos se museum. Foto: Slagtersnek
Emile Badenhorst, voormalige kurator van Somerset-Oos Museum, by die balk. Foto: slagtersnek
Op Vanaardtspos waar die balk uitgehaal is. Derde van links is Oompie Hulme. Foto: Slagtersnek

Die herontdekking van die galgbalk het bekend geword en toe ’n geskiedkundige, Dr. J. Albert Coetzee van Johannesburg, daarvan te hore kom, het hy na Somerset-Oos gereis om beëdigde verklarings van twee eerbiedwaardige grysaards, Mnr. Christiaan van Aardt en Ds. D.L. Steyl, te kry. Terug tuis het hy finansiële hulp gekry om die balk te koop. In teenwoordigheid van Oompie Hulme en andere is die balk toe vir R400 aangekoop. ’n Mnr. Prinsloo het die balk uitgehaal en na Somerset-Oos vervoer, waar dit ses maande op die solder van Oompie Hulme se huis gelê het.

Deonette Haggard

Daarna is die balk na Pretoria vervoer, want die bedoeling was dat dit tydens die Krugerdagviering in 1949 in Pretoria vertoon sou word, maar dit het nie gebeur nie en dit het in die staatsargiewe in Pretoria beland.

Vandaar het dit deel geword van die Iziko Museum se versameling in Kaapstad. In 2005 het die kurator van Somerset-Oos se museum onderhandelinge aangegaan om die balk in Somerset-Oos terug te kry. Hy het ’n kamer in die museum ingerig om die balk en die geskiedenis van Slagtersnek te vertoon.

Die galgbalk wat gebruik is, is vandag in die Somerset-Oos Museum te sien. ’n Vorige kurator, Emile Badenhorst, het ’n kamer vir die Slachtersnekrebellie ingerig en hier hang die balk met vier gebreekte toue en een lus wat gehou het.

Landdros JG Cuyler

Die rebellie

Teen 1812, ses jaar ná die Britse ryk die Kaapkolonie ’n tweede keer geannekseer het, kon die verhoudinge tussen die grensboere, die Khoi-Khoi, Xhosas en die Britte beswaarlik slegter gewees het.

Die sendelinge eerwaarde James Read en Dr. Van der Kemp het by die owerhede gekla die grensboere mishandel hul werkers en is aggressief teenoor die swart stamme.

Die gevolg was die rondgaande hof waar regters van Kaapstad na die binneland gereis het om klagte aan te hoor. Die koloniste het gepraat van die “Swarte Ommegang”.

Vroeg in 1813 het ’n Khoi-Khoi werker, Booy, ’n klag teen sy baas, Freek Bezuidenhout van die Baviaansrivier, aanhangig gemaak by adjunk-landdros Andries Stockenström van Cradock. Die saak is aanvanklik met ’n briewewisseling tussen Bezuidenhout en Stockenström besleg. Nadat Booy egter weer vir Bezuidenhout verkla het en Bezuidenhout hom glo derhalwe met ’n kierie oor die kop geslaan het, het Stockenström herhaalde dagvaardigings aan Bezuidenhout gestuur om in die hof te verskyn.

Bezuidenhout het dit geïgnoreer tot ’n afdeling Britse offisiere en 12 pandoere (Hottentotsoldate) van die Kaapse Regiment op 9 Oktober 1813 na sy plaas gestuur is om hom in hegtenis te neem. Bezuidenhout en sy seun het na ’n grot gevlug, maar is vasgekeer. Ná onsuksesvolle onderhandelings het ’n skermutseling uitgebreek waartydens een van die pandoere, sers. Joseph, vir Bezuidenhout doodgeskiet het.

Twee dae later, by Bezuidenhout se begrafnis, het sy broer, Johannes (Hans), gesweer om sy dood te wreek. By Elandsdrift het Hendrik Frederik (Kasteel) Prinsloo by hom aangesluit en nog ander opgesweep om te rebelleer. Hulle het ook besluit om ’n alliansie met die Xhosas te vorm as steun om die militêre poste by Rooiwal en Krugerspos aan te val. Cornelius Faber, Adriaan Engelbrecht en Frans Marais het die Xhosa-leier Ngqika van die Gaikastam ontmoet en vertel dat hul einddoel is om die Engelse terug te dryf die water in. Ngqika het hom egter nie tot die saak verbind nie.

Intussen het Bezuidenhout en Prinsloo briewe geskryf om by verafgeleë boere steun te werf. Een van dié briewe het sy pad gevind tot by die onder-landdros op Cradock, wat dit aan die militêre magte op Grahamstad gerapporteer het en die oorspronklike brief na landdros Andries Stockenström op Graaff-Reinet gestuur het.

Op 13 November 1815 is Hendrik Prinsloo by sy huis aan die buitewyke van die destydse Somerset Farm (Somerset-Oos) gearresteer en na Vanaardtspos geneem. Die volgende dag het 60 rebelle na Vanaardtspos opgeruk en majoor Fraser met 36 van sy manne het van Grahamstad ook daar aangekom. Die rebelle het sonder sukses aangedring op Prinsloo se vrylating.

’n Dag later het landdros Jacob Cuyler en ’n groep lojale burgers van die Uitenhage-distrik ook op Vanaardtspos aangekom en op 18 November vertrek hy, 40 pandoers en 30 lojale burgers vanaf Vanaardts­pos om die rebelle by Slagtersnek te gaan ontmoet. Twintig rebelle het dadelik besef die saak is verlore en hulself oorgegee. Die plek staan vandag as Verraaikop bekend. Die leiers van die rebellie, onder wie Bezuidenhout, De Klerk en Faber, het egter oor die grens gevlug.

Op 29 November vind die veldslag teen die rebellie by Madoersdrif plaas. Majoor Fraser, 100 pandoers en 22 gewapende burgers het Bezuidenhout en sy gevolg in ’n lokval gelei. Bezuidenhout het gou besef hulle is omsingel en dat dit sy laaste kans is om hom te verset. ’n Skietgeveg het uitgebreek; Bezuidenhout het een pandoer doodgeskiet voor hy self doodgeskiet is.

Die oorblywende rebelle is onder bewaking na Uitenhage geneem. Ná ’n ondersoek word die meeste ontslaan, maar 39 bly in aanhouding op klagte van hoogverraad voor die “Swarte Ommegang”.

Die hofsaak het meer as ’n maand geduur en vyf van die rebelle is ter dood veroordeel: Hendrik Frederick Prinsloo (Kasteel) (32), Stephanus Cornelis Bothma (43), Theunis Christiaan de Klerk (30), Abraham Carel Bothma (29) en Cornelis Jacobus Faber (43). Onder die teenwoordiges by die teregstellings in Maart 1816 was 300 soldate, landdroste Cuyler en Stockenstrom, adjunk-landdroste Van de Graaff en Fraser, asook twee predikante en inwoners van die omgewing.

Meer oor:  Naweek  |  Geskiedenis  |  Reis  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.