Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Rek só tog jou rande
Illustrasie: iStock

Kenners gee hul top-wenke om jou finansies reg te ruk – selfs al sukkel die ekonomie.

As Covid-19 ’n mens enigiets geleer het, is dit dat die lewe ’n stokkie voor enige plan kan steek. Jy kan dalk nie voorspel wat vorentoe met die ekonomie of jou loopbaan gaan gebeur nie, maar jy kan jou bes doen om seker te maak jy land op jou voete indien dinge ’n nare draai sou maak.

Vyf skrywers van gewilde finansiële blogs gee wenke om jou geldsake teen ’n onseker toekoms te pantser . . .

Patrick McKay

investorchallenge.co.za

Stel ’n geraamte-begroting op

Gaan deur jou maandelikse uitgawes en besluit vir elke uitgawe of dit absoluut noodsaaklik is en of jy daarsonder kan oorleef. As jy nie nou ’n inkomste verdien nie, is die totaal van die noodsaaklikhede jou nuwe begroting. As jy geld maak, probeer ’n paar uitgawes steeds verminder en daardie geld spaar of belê. Ek het my motorversekering verminder na R25 per maand.

Kyk na verlof as ’n noodfonds

Terwyl jy in elk geval nie vakansie kan hou nie, spaar eerder jou verlofdae. Ek het oor ’n paar jaar my verlof tot die maksimum, 60 dae, opgegaar. As ek my werk sou verloor, sal ek drie maande se salaris daaruit kry – genoeg om ’n jaar lank op my geraamte-begroting te oorleef.

Maak geld uit jou stokperdjie

My vrou is ’n haarkapper en terwyl sy nie kan werk nie, maak sy aanlyn video’s met haarwenke. As dit gewild word, kan dit geld inbring, maar vir nou kan dit minstens nuwe kliënte of werknemers vir die toekoms lok. Dink aan maniere om geld uit jou stokperdjie of kennis te maak.

Los daai belegging

Terwyl die toekoms onseker is, is dit beter om niks met jou belegging te doen nie as om die verkeerde ding te doen. Die dag gaan kom wat die pandemie geskiedenis is en die markte herstel. Hou by jou beleggingsplan – myne is om my laekoste, diverse beursverhandelde fonds (ETF) te behou.

Hendrik Brand

tigersonagoldenleash.co.za

Vermy korttermynskuld

Jy kwalifiseer waarskynlik vir duisende rande se skuld op kredietkaarte, winkelkaarte en meer. Dis aanloklik as geld knyp, maar onthou dat jy dit teen belaglike rentekoerse gaan moet terugbetaal – terwyl dit moeilik is om nou ekstra geld te verdien. Wag tot jy daardie hakskoene met jou eie geld kan koop.

Moenie terugbetalings uitstel nie

Baie banke bied tans die opsie om jou huis- en motorpaaiemente met ’n paar maande uit te stel. As jy nie nou ’n inkomste verdien nie, maak dit sin. As jy egter steeds jou salaris kry, is dit nie die moeite werd nie – die uitstaande balans trek steeds rente en jou skuld vermeerder dus.

Dien ’n belastingopgawe in

As jy minder as R500 000 per jaar verdien en dit kom alles van een bron af, hoef jy nie ’n belastingopgawe in te dien nie. Maar as jy dit tog doen, kan jy sommige uitgawes, soos aftreeannuïteit-betalings en mediese uitgawes, terugeis.

Span (gratis) tegnologie in

Apps soos 22seven van Old Mutual help jou om ’n begroting op te stel en integreer met al jou rekeninge. ’n Begroting is noodsaaklik en help jou geleenthede raaksien om uitgawes te verminder.

Brendan Dale

takechargeofyourmoney.blog

Beplan ses maande vooruit

Maak ’n lys van al jou uitgawes oor ses maande – onthou om ongewone uitgawes soos kardienste of spesiale herdenkings in te sluit. Kan jou inkomste die totaal dra? Indien nie, moet jy jou maandelikse begroting besnoei.

Delg daai skuld

As jy steeds jou gewone salaris verdien en jou oorspronklike huis- of motorpaaiement voor die rentekoersverlaging kan bekos­tig, hou daarby. Só sal jy die lening vinniger kan afbetaal.

Skep ’n noodfonds

Dis nooit te laat om te begin nie. Maak nie saak hoe deeglik jy beplan nie, gaan daar altyd onvoorsiene uitgawes soos veeartsbesoeke of ’n gebreekte yskas wees. Al kan jy net ’n paar rand per maand eenkant sit vir dié soort uitgawes, doen dit – elke bietjie sal help. Mik om minstens ’n maand se salaris uiteindelik in die fonds te hê (en daar te hou).

Vermy jou beleggingstate – tensy jy ’n krisis het

Sommige beleggings het oor die afgelope paar weke met 20% geval, maar moenie nou iets daaraan doen nie – tensy jy natuurlik nie ’n keuse het nie. As jy dringend kontant nodig het of naby aftrede is en bekommerd is oor jou belegging, praat met ’n finansiële ad­viseur om raad te kry voor jy dalk (die verkeerde) emosioneel-gedrewe besluite maak.

Brett Hilarides

etfenthusiast.co.za

Stel ’n las-en-batestaat op

Maak ’n lys van jou besittings (bates) en skuld (laste). Hoeveel is jou motor werd as jy dit nou moet verkoop? Hoeveel skuld jy op jou huis, motor of kredietkaart? Tel jou bates saam en trek jou laste af. Daardie syfer is jou finansiële posisie en dís wat jy in die toekoms wil verbeter.

Stel doelwitte vir die volgende drie, tien en 30 jaar

My driejaar-doelwit is om my motor af te betaal, binne tien jaar my woonstel en om oor 30 jaar gemaklik af te tree. Doelwitte is belangrik, want dit gee jou ’n riglyn vir hoe jy jou begroting moet opstel. Betrek die hele familie. Ons doelwitte is teen die yskas sodat ons elke dag onthou waarheen ons mik.

Maak nou ’n plan om jou doelwitte te bereik

Spaargeld is net een deel van dié plan. Kyk waar jy aan jou maandelikse uitgawes kan verminder – dikwels kan jy minder op kruideniersware uitgee, versekeringsuitgawes verlaag en nuttelose, vergete aftrekkings kanselleer. ’n Belegging is een van die beste maniere om jou geld te kry om vír jou te werk. Doen navorsing en kies ’n eenvoudige, verstaanbare beleggingstrategie – myne is om aandele in ETF’s te koop.

Kay Carmichael  drawingmoney.com

Oppas vir emosionele besluite

Wanneer ’n mens bekommerd is, wil jy iets dóén en dis moeilik om stil te sit en te wag. Maar jy moet. Nou is nie die tyd om vir ’n duur kursus in te skryf en ’n nuwe loopbaan te begin, om aandeleverhandeling te begin doen of om in te koop op jou vriend se geldmaakskema nie. Sulke besluite is dikwels deur paniek gedryf en kan oor ’n paar maande uitdraai om geldmors te wees.

Voed jou siel as jou beursie leeg is

Die beste manier om bogenoemde reg te kry, is om jouself besig te hou met dinge wat jy geniet. As vryskutkunstenaar het ek al geleer die beste manier om stil maande te oorleef, is om myself met allerhande projekte besig te hou – voor ek dalk verveeld raak en geld op aanlyn inkopies uitgee. Maar koop die minimum wat jy benodig om te begin – net die jogamat en nie vyf uitrustings nie; net die 14 dae-proeftydperk op daai sagteware en nie die jaarlange inskrywing nie.

Maak jou mond oop

Dis aaklig om nie nou ’n inkomste te verdien nie, maar onthou dis nie jou skuld nie en jy’s nie alleen nie. Almal sukkel en jy hoef nie skaam te wees om dit te erken nie. Onderhandel met jou verhuurder, doen navorsing oor reddingskemas en vra vriende en familie om te help met jou elektrisiteitsrekening. Jy sal verbaas wees oor die welwillendheid waaroor mense nou beskik. In dieselfde asem: As jy nou geld verdien, kyk waar en hoe jy kan help.

Spaar, spaar, spaar

Leer uit die inperking. Jy wens dalk jou noodfonds was groter of jou skuld minder. Moenie die geld wat jy nou op petrol spaar aan nuwe meubels uitgee nie. Gebruik dit om jou finansiële situasie te verbeter.

Meer oor:  Delia Du Toit  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.