Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Restaurante pas aan by Covid-19
Die toekoms van uiteet? Restaurantgangers geniet ’n maaltyd binne ’n glaskajuit by die Amsterdamse restaurant Eten. Foto: MEDIAMATIC

In sommige lande is die restaurantbedryf stadig maar seker besig om te herstel van die bomskok van Covid-19. Hoe restaurante oorsee aanpas by ’n nuwe manier van doen, kan ook vir ons aandui wat vir ons eie restaurantbedryf voorlê.

Koebaai, spyskaart

In Italië het restaurante vandeesweek weer begin handel dryf. Dis die begin van die somer-toerismeseisoen en restaurante skarrel behoorlik om hul klante te verseker hul welstand en gesondheid is van uiterse belang.

By Da Enzo, ’n trattoria in Trastevere, ’n gewilde boheemse buurt in Rome, is daar nie ’n papierspyskaart in sig nie.

Pleks daarvan hou ’n kelner ’n plakkaat van ’n reuse QR-kode voor die klante op, wat dit met hul slimfone skandeer. Siedaar en die spyskaart en die dag se spesialiteite verskyn op jou slimfoon se skerm.

Hul klante, selfs die ouer geslag, het vinnig hierdie manier van bestel onder die knie gekry.

“Eers was hulle ’n bietjie huiwerig en geïntimideer deur die tegnologie,” vertel die eienaar, Maria Chiara Di Felice. “Maar hulle het gou agtergekom dis sommer baie maklik.”

Hoe lyk dit, pop?

Mannekyne opgedollie in aandrokke maak nou deel uit van Cozy, ’n restaurant in Vilnius, Litaue, se klandisie. Met eerste opslag lyk hulle soos doodgewone klante, besig om ’n koppie koffie te drink of middagete te geniet. By nadere inspeksie kom jy egter agter hulle is net daar vir vertoonwaarde.

Die eienaar, Bernie ter Braak vertel hy het die winkelvensterpoppe ingespan as dekor, deels om sy klante meer bewus te maak van sosiale afstandmaat­reëls, maar ook om ’n meer gesellige atmosfeer te skep. Hy sê die idee het by hom posgevat nadat sy restaurant vir hom leeg en onpersoonlik gelyk het nadat hy Covid-19 veiligheidsreëls ingestel het.

“Selfs nadat my gereelde klante hul terugkeer gemaak het, het die restaurant leeg gevoel.”

Hy het ook plaaslike modeontwerpers gevra om uitrustings vir ’n paar van sy mannekyne te ontwerp.

“Toe ons die poppe by hul tafels plaas, het dit weer soos ’n vol restaurant gevoel. Ewe skielik was daar weer ’n atmosfeer.” Hy het ander restaurante in die area ook aangemoedig om sy voorbeeld te volg om die besigheid binne die sektor ’n hupstoot te gee.

Die modebedryf het ook heel onverwags baat by Ter Braak se poppeklante gevind – ook goed vir die stad se modebedryf.

Rimante Rimgailaite, ’n Litause modeontwerper, sê hy het talle navrae ontvang oor een van sy skeppings wat aan een van die winkelpoppe in die restaurant pryk.

Reg van toegang voorbehou

Wanneer die New Yorkse restaurant Brooklyn Chop House in Junie sy deure heropen, gaan sy klante se koors eers by die deur gemeet word, voordat hulle in die restaurant toegelaat word. Plastiekafskortings tussen tafels gaan klante verdeel, jou servet gaan met ontsmettingsmiddels deurdrenk word, en breekgoed en eetgerei gaan in plastiek verseël word om kruisbesmetting te voorkom. In ’n poging om die strak beskermende drag ’n bietjie op te helder, word die kelners se gesigskerms met visvangpette opgevrolik.

“Ons het die visvangpette by die uitrusting gevoeg om ’n element van pret by die beskermende drag te voeg, verduidelik Stratis Morfogen, die restaurant se bedryfshoof. Hy reken die nuwe voorsorgmaatreëls en veranderings gaan die restaurant sowat $15 000 kos.

Die restaurant se sitplekke is ook met 30% verminder, volgens New York se nuwe sosiale afstand-veiligheidsmaatreëls.

“Ons wil nie hê ons klante moet voel asof hulle in ’n hospitaal of tronk eet nie,” verduidelik Morfogen. “Maar uiteraard moet ons keer dat mense met die virus besmet word.”

restaurante
Afskortings soos dié kan ’n algemene gesig by restaurante word. Foto: iStock
restaurante
’n Restaurant in Venesië het merkers op die vloer aangebring om sosiale afstand te behou. Foto: iStock
Mense in glashuise . . .

’n Nederlandse restaurant het met ’n vindingryke manier na vore gekom om hul klante se sosiale afstand te vergroot, sonder om atmosfeer in te boet.

Eten, ’n veganistiese restaurant in Amsterdam, het klein glaskajuite op sy stoep opgerig, wat ’n intieme, romantiese atmosfeer vir sy klante skep.

Kelners dra gesigskerms en gebruik ’n verlengde skinkbord om klante te bedien en ook om kontak tussen die klante en die kelners te verminder.

Die restaurant het in Mei ’n oefenlopie probeer met vriende en familie as proefkonyne, maar sover is die terugvoer positief.

“Dis gesellig, romanties en die kos was heerlik,” vertel Janita Vermeulen, een van die proefkonyne.

Die ontwerpers van die projek noem dit die “Serres Séparées” (aparte kweekhuis) “omdat dit beter in Frans klink”.

Onder ’n klokglas

Verbeel jouself, ’n romantiese ete vir twee by ’n fynproewersrestaurant. Die wyn is heerlik, die kos uit die boonste rakke. Dit voel amper soos die goeie ou dae, behalwe vir die deurskynende klokglase wat bokant jou en jou metgesel se koppe hang.

Christophe Gernigon, ’n Franse ontwerper, het ’n reuse silinder uit deurskynende plastiek geskep wat met ’n kabel vanaf die dak hang, amper soos ’n lampskerm.

’n Opening agter sorg dat klante nie die heeltyd moet buk en koes wanneer hulle byvoorbeeld opstaan om badkamer toe te gaan nie. Die toestel heet die Plex’Eat.

Gernigon vertel die ontwerpe wat reeds beskikbaar was om sosiale afstandmaatreëls in die restaurantbedryf toe te pas, het hom nie aangestaan het nie. “Dit het gelyk soos tronke se besoekhokkies, nie iets wat klante nie luuks gaan laat voel nie. Ek wou dit meer glansryk en mooier maak.”

Die ontwerp is reeds van vandeesweek af in produksie en restaurante in Frankryk, België, Kanada, Japan en Argentinië het reeds belangstelling getoon.

Mathieu Manzoni, eienaar van die H.A.N.D. restaurant naby die Louvre-museum in Parys, het reeds ’n bestelling geplaas.

“Gaan ons klante daarvan hou? Ek het nie ’n idee nie. Maar ek vind die konsep vermaaklik en ek glo dit kan ook ’n bietjie pret vir ons klante verskaf.”

– Verwerk uit Reuters


Wat kan ons in SA verwag?

an-Hendrik Labuschagne, ’n kreatiewe direkteur vir Grid Worldwide, meen Covid-19 gaan beslis die uitleg en dekor van restaurante op sy kop keer.

Labuschagne was deel van die Grid-span wat die ontwerp en kreatiewe direksie van die fynproewersrestaurante Marble en Saint in Johannesburg behartig het.

“Nuwe sosiale afstandregulasies gaan beslis die kapasiteit van ’n restaurant verminder, terselfdertyd gaan dit steeds dieselfde ruimte benodig. Ontwerpers gaan mooi moet dink hoe hulle hierdie ruimte slim en effektief gaan benut om nie afbreek te doen aan die atmosfeer van ’n restaurant en sy estetiese voorkoms nie.

“Groter ruimtes en minder klante skep ook die penarie van laer winslyne, dus gaan uiteet ook ’n duurder luuksheid word. Mense gaan twee keer dink voordat hulle hulself met ’n restaurantmaaltyd bederf. Klante gaan waarde vir hul geld soek – dit gaan nie net meer gaan oor die kos en diens nie, maar oor die hele holistiese ervaring; die dekor, die atmosfeer, die interaksie met spyskaarte . . .

“Ek dink die restaurante wat iets anders aan hul klante bied sal waarskynlik beter doen post-Covid-19 as die gewone, generiese franchises.”

Tessa Purdon, Eat Out se inhoudshoof, meen die pandemie skep uitdagings, maar ook geleenthede vir die ontwerp van restaurante.

“Ek dink ons gaan ’n klomp fisiese strukture sien om mense te skei - plante, beeldhouwerke en vistenke. Daardie ruimtes moet gevul word, sonder om vol klante te wees.”

Daar gaan beslis minder klante wees, as gevolg van die ekonomie en sosiale afstandmaatreëls, meen sy.

“Restaurante gaan waarskynlik nou eettye instel, soos ’n vroegaandete, tussen 18:00 en 20:00, en ’n laat-aandete tussen 20:00 en 22:00, soos met spesiale vakansiedae soos Kersfees en Nuwejaar. Dis nie ’n oplossing vir alle restaurante nie, maar dit sal waarskynlik goed werk by die fynproewerrestaurante.

Restaurante gaan ook hard moet werk om hulself van hul kompetisie te onderskei. “Tydens die grendeltydperk het mense behoorlik gekook, gebak en gebrou in hul eie kombuise. Hulle gaan nie bereid wees om hulself te bederf met ’n ete wat hulle netsowel self by die huis kon maak nie.” – Carla Lewis

Meer oor:  Restaurante  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.