Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ril van plesier oor krismisrose

Hulle het ons van wyn, nikotien, en ligstrepies ontneem. Maar dankie tog snyblomme mag weer wettig verkoop word.

Verlede Vrydag toe bloemiste weer toegelaat is om handel te dryf en supermarkte weer blomme mag verkoop, was ek so opgewonde soos ’n kind op Oukersaand. Uiteindelik!

’n Uitspattigheid wat nie verg dat jy die wet moet verbreek of troos in verfynde stysel, suiker of geskeduleerde farmaseutiese produkte moet vind nie.

Ek kan nie meer my ligstrepies wat uitgroei probeer laat ghrênd klink met woorde soos ombré of balayage nie. In die ou dae sou hulle vir jou gesê het, dra ’n hoed totdat jy by die salon kan uitkom. My twee terriers lyk soos trense en ruik soos ryp bokmelkkaas, maar die hondesalonne is ook toe.

As daar dus ’n geleentheid hom voordoen om myself in ’n voorstedelike plesiertjie te veroorloof, gaan ek dit beslis aangryp.

Ek was nie voorbereid vir die visuele, olfaktoriese oorweldiging van ’n blommewinkel, 30 dae sterk binne die inperking nie.

Tot nou toe moes ek staatmaak op my piepklein tuintjie om ’n bietjie groenigheid en kleur na binne te bring.

’n Geraamteplant-blaar (delicious monster) is so in die verbygang by die bure gegaps, wanneer ek in die oggende by ons kompleks afgestap het om die koerant te gaan haal. ’n Ander buurman het ’n paar broodboomtakke geskenk, nadat hy syne poenskop gesny het.

Maar benewens die skenkings, moes ek maar ’n plan maak met brandsiek bougainvilleas wat ná drie dae begin verwelk het, woestynrosies vanuit my rotstuin en ’n bietjie groenigheid van my ligusterboom.

Daar is net soveel wat jy kan doen; tensy jy Zavion is, gaan die klomp takke, bome en blare wat jy uit jou tuin gekry het en lukraak in ’n konfytfles probeer rangskik het net soos dit lyk: ’n klomp slordige takke in ’n jam jar. Pinterest jok vir jou.

Ek was nie voorbereid vir die visuele, olfaktoriese oorweldiging van ’n blommewinkel, 30 dae sterk binne die inperking nie.

Hulle sê jy moenie inkopies doen wanneer jy honger is nie. Wel, ’n mens moet ook nie blomme gaan koop as jy vir meer as ’n maand daarvan ontneem is nie.

Illustrasie: iStock

Ek was ’n uitgehongerde smulpaap, en die bloemiste was die gelyke van ’n fynproewersbuffet. Ongelukkig een van daai waar hulle jou bord weeg, nie die “eet-soveel-jy-kan”-tipe nie.

In die hoek het statige poeierpienk koningsproteas in plastiekbakke gelê. Ligblou krismisrose, trosse delikate plesier, maar o-so-pieperig, het my teen my beterwete nader gewink.

Eksotiese orgidees en flamingoplante met hul fallusagtige stuifmeelstingels het mens herinner aan verre, bedompige lande wat nou verbode is. Daar was skelpienk hanekamme, ragfyn rose, statige sint­josefslelies . . .

Om blomme in dié tyd te koop, voel wel so ’n bietjie dekadent, veral wanneer jy lees van werkloosheid, hongersnood en mense wat daagliks afgelê word.

Ek het voor die tyd vir myself ’n streng begroting gestel, maar met die intrapslag is alle selfbeheersing by die agterdeur uit. Die weeklikse kruideniersbegroting is bestee aan ’n arm vol flamingoplante, krismisrose en leeubekkies.

Om blomme in dié tyd te koop, voel wel so ’n bietjie dekadent, veral wanneer jy lees van werkloosheid, hongersnood en mense wat daagliks afgelê word. Toe ek daar uitloop met my reuseruiker, asof ek sopas ’n skoonheidskompetisie (Mej. Grendel 2020?) gewen het, kon ek nie help om so ’n bietjie soos Marie Antoinette te voel nie.

Mense sterf, en my sitkamer lyk soos iets “tussen ’n Thaise spa en ’n begrafniskapel”, soos my kêrel dit verwoord het. Die blomme gee hom hooikoors en hy sluk antihistamine by die handvol as teenvoeter vir my grendelgekkigheid.

In hierdie onsekere tye is dit seker beter om enige ekstra geld in ’n noodfonds te belê, eerder as om ’n klomp blomme te koop wat in elk geval binne ’n week of so gaan verwelk? Miskien.

Die krismisrose het net drie dae gehou, maar elke keer wanneer ek verby hulle geloop het in hul nagemaakte kobaltblou Chinese vaas, het ek ’n dekadente ril van plesier gevoel. Somtyds is iets nog mooier en meer spesiaal omdat hul skoonheid so tydelik en vlietend is.

Pinksterrose as Prozac?

As jy jou rekening by die bloemiste moet regverdig is die mediese wetenskappe darem aan jou kant.

Die goeie nuus is dat plante en blomme, vernaam in die tyd van Covid-19, effektiewe stresverligters kan wees juis omdat ons gedwing word om meer tyd tuis deur te bring.

Volgens ’n navorsingskrif van die Texas Landbou- en Meganiese Universiteit wat verlede jaar in dieJournal of Environmental Horticulturegepubliseer is, ervaar mense wat hulself met plante, blomme en ander natuurlike vorms van skoonheid omring ’n verskeidenheid van geestesgesondheidsvoordele. Dit sluit in stresvermindering, verlaagde vlakke van depressie en angs en ’n verbetering van posttraumatiese stresversteuringsimptome.

Daar is ook ’n goeie rede waarom jy ’n ruiker rose neem vir iemand wat siek in die hospitaal is en, nee, dis nie net vir versiering nie.

In ’n 2008-studie van Kansas State Universiteit is bevind dat hospitaalpasiënte met blomme in hul sale laer angsvlakke ervaar het. Hulle was ook positiewer oor hul herstel en gesondheid. In die studie is 90 pasiënte, wie se blindederms verwyder is, lukraak tussen hospitaalsale verdeel, waar hulle ná hul operasies moes aansterk. Van die sale is gevul met agt verskillende tipes blomme en plante, die res het geen groenigheid gehad nie.

Pasiënte wat in die sale beland het met blomme en plante het minder pynmedikasie benodig ná hul operasies. Hulle het ook laer vlakke van angs, laer bloeddruk en ’n verlaagde hartklop gehad en hul energievlakke was ook höer as die pasiënte in die kontrolegroep.

Meer oor:  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.