Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Rondrits: Stap-stap oor die vasteland

Die Kaart van Afrika-monument by Kaap Agulhas is 30 meter in omtrek.
'n Nuwe monument aan die suidelikste punt van Afrika nooi jou om ons vasteland se kinkels te verken. Maryke Roberts het daar besoek afgelê.

Dit het nog altyd die bloed opgewonde in my are laat bruis wanneer ek by Kaap Agulhas hier aan die suidpunt van ons vasteland kyk hoe twee oseane onwillig bymekaar kom en stormsterk teen mekaar baklei.

Nou’s daar boonop ’n nuwe monument hier in die Agulhas Nasionale Park, genaamd Die Kaart van Afrika. Dis ’n kaart van die Afrika-kontinent, 18 meter van noord na suid. Dit moedig besoekers aan om as’t ware oor die vasteland te stap; die kontoere te voel en die hoogste en laagste punte met hul vingers te bevoel.

Dit het R15 miljoen gekos om dié sementstruktuur oorgetrek met metaal te bou. Die vier windrigtings in staalplate aangedui, gaan mettertyd roes. Dit huldig die skeepswrakke langs ons kus. As jy dit vanuit ’n hommeltuig sou beskou, lyk dit soos ’n reusekompas met punte wat soos ’n groot ster in alle rigtings strek.

Ons besoek aan die monument hier aan die voet van die tweede oudste werkende vuurtoring in Suid-Afrika, is geïnspireer deur twee dinge: Ek het onlangs die boek Die Lanternswaaierdeur SD Fourie gelees en ook uitgevind van die Agulhas-wyndriehoek – Suid-Afrika se jongste en mees unieke wyngroepering. Nêrens anders kan jy spog dat jou druiwe van die suidelikste punt in Afrika kom nie.

Fourie se roman vertel weer hoe die kusbewoners toentertyd skepe op die rotse gelok het met lanterns, sodat hulle die kosbaarhede kon buit. Ek het daarna bietjie gaan lees oor die vuurtoring.

Dis op 1 Maart 1849 vir die eerste keer aangesteek en het met skaapstert-vet gebrand. Dis in 1910 met ’n Fresnel-lens toegerus en in 1936 met ’n elektriese lamp.

Die verbrokkelende vuurtoring was van 1968 tot 1988 in onbruik. Danksy die Bredasdorp Skeepswrakmuseum en die munisipaliteit is dit herstel en sedert 1973 ’n nasionale gedenkwaardigheid en weer die afgelope 32 jaar in diens.

Dis tydens ons wyntoer dat Jackie Rabe by Strandveld Vineyards, die suidelikste op dié wynroete, ons vertel van die nuwe monument. Voorheen het ons al talle kere dié oulike klipmonument met die blou sypaadjiename vir die Indiese Oseaan links en die Atlantiese Oseaan regs besoek.

Een jaar het ons selfs die 71 trappies geklim na die vuurtoring se uitstapdek.

Deesdae stap jy op ’n netjiese verhewe houtpaadjie waarop rolstoele ook gemaklik kan ry tot by die kaart. Alles nuwer, maar die klipmonument van ouds en blou sypaadjietekens is ook steeds daar.

Meer oor:  Afrika  |  Monument
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.